Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die lesse wat muskiete ons leer

Op ’n perfekte wintersdag sit ons langs ’n kabbelende rivierstroompie en eet ons piekniekkos. Die son se laaste strale bak op my rug. Ons drink die vrede van die oomblik in.

By die huis ontdek ons egter dat ons nie alleen geëet het nie; oral sit die bytplekke. Muskiete. Rooi, jeukende kolle op al die plekke wat nie deur ons klere bedek word nie. My seuntjie vra die onvermydelike: “Mamma, hoekom het liewe Jesus muskiete gemaak?” 

LEES OOK: Hoop uit die Woord: ʼn Vars bries van verandering

Ek moet bieg dat ek ook al daaroor gewonder het. Want muskiete hou baie van my. Trouens, ek is my man se muskiet-afweerder. Hulle zoem die hele nag bo my kop terwyl hy ongestoord langs my lê en slaap.

Ek is goed bewus van al die siektes wat deur muskiete versprei word en behoorlik vertroud met die ongemak van die bytwonde. Maar ná die onlangse ondervinding het ek besluit om te gaan vasstel waarom daar ’n plaag soos muskiete bestaan. En ek leer: Muskiete vorm ’n waardevolle skakel in die voedselketting: Verskeie diere vreet muskiete. En as laasgenoemde sou uitsterf, sou dit talle visse, voëls, vlermuise en ander insekte op ’n noemenswaardige wyse raak.

Voorts help muskiete met die bestuiwingsproses wanneer hulle van die blomme se nektar eet. Dié klein diertjies is dus belangrik vir die biodiversiteit in ons ekostelsel. Ja, muskiete is nodig – ook al hou mense net mooi niks van dié klein lasposte nie.

Ek het toe vir my kinders vertel watter belangrike rol muskiete in ons ingewikkelde wêreld speel. Dat hulle inderdaad deel van God se goeie skepping is. Dat dié klein peste met ’n doel geskape is. Dat juis die ongemak wat muskiete veroorsaak ons herinner aan die liefde en geduld wat ons aan God se skepping verskuldig is. Nee, ek verstaan nie altyd God se doel nie, maar my onbegrip spreek tog nooit die laaste woord nie …

My nadenke en navorsing oor muskiete het my opnuut laat onthou dat God die aarde geskep het om lewe te onderhou. Luister hoe stel die ou profeet dit: “Ja, so sê die Here wat die hemel geskep het – Hy is God – wat die aarde gevorm en dit gemaak het – Hy het dit gevestig – nie as ’n onherbergsame plek het Hy dit geskep nie, maar om bewoon te word, het Hy dit gevorm: ‘Ek is die Here, en daar is geen ander nie’” (Jes 45:18).

So is dit dan: As die Skepper vir ’n lastige klein vlieënde insek ’n doel in sy skepping het, hoeveel te meer nie vir jou en my nie. Die muskiet dien sy doel hier op aarde deur te doen wat ’n muskiet doen. Net so vervul ons ons doel op aarde deur te doen wat ons moet doen – en dan in liefde.

Die muskiet-les wat ons vandag leer, is eenvoudig maar van groot belang: Iewers, al weet ons nie aldag waar nie, pas ons in God se plan. En wanneer ons bewus word van sy groter plan, verdryf dit alle gevoelens van waardeloosheid en nutteloosheid. Dit bevestig dat ons oor ’n bepaalde, Godgegewe identiteit beskik. En dis tog nie nuus nie; ons ken dit uit Paulus se uitsprake in, onder meer, Efesiërs 1:4 en Kolossense 3:3.

Dis goed dat ons dit opnuut besef, want ons word so maklik vasgevang in die alledaagse sleurgang van dié lewe. Ons vergeet so gou waarheen ons op pad is. Dat ons geskape is om lief te hê en dat ons daardeur sy Naam verheerlik.

Wanneer jy vannag weer na die irriterende klaagsang van ’n muskiet moet luister, en dalk môreoggend die getuienis van sy bloeddorstigheid op jou vel raaksien, onthou tog hoe belangrik dit is om elke nuwe dag te doen wat jy moet doen. En dat niks daarvan onbenullig is nie, hoe klein dit ook al in jou oë mag wees.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►