Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die maklike en die moeilike pad

Ons kom laat by die huis. My seuntjie is glad nie lus om sy huiswerk te doen nie. Gewoonlik duur dit nie lank om die huiswerk af te handel nie, maar vandag wil hy net nie begin nie. Die dag was lank en veeleisend en sy tenk is leeg. Moeg en gefrustreerd sê hy: “Mamma, merk net af dat ons dit gedoen het.”

Ja, dink ek, dit sal die maklike uitweg wees. Ek is immers ook moeg ná ’n dag se werk, en daar moet nog kosgemaak word. Ek weet hy kan die werk doen en hy sal nie agter raak nie. Niemand sal weet as ek dit bloot afmerk as “gedoen” nie.

Maar ék sal weet. Én hy.

Iets in my roep uit: Ons moet deur hierdie huiswerklysie worstel! Ons moenie ’n kitsoplossing kies nie.

Die huiswerk duur dubbeld so lank as wat dit moes. Daar is baie trane, maar uiteindelik is ons tog klaar. Ek gee hom ’n vet drukkie en sê ek is trots op hom. “Ek weet dit was moeilik,” sê ek, “maar dis beter dat ons nie oneerlik is nie. Dit was pynlik, maar ek is baie bly ons het skouer aan die wiel gesit en die huiswerk gedoen gekry.” 

En ek weet dat my seuntjie vandag nie net geleer om huiswerk af te handel nie, maar ook dat hy kan aanhou en uithou, selfs wanneer hy moeg is.

Dit is maklik om ons kinders te probeer red wanneer dinge moeilik word. Dis moeilik om eenkant te staan en kyk hoe hulle sukkel. Ons deel in hul frustrasie en wil so graag help. Ons wil hulle beskerm, ons wil hul swaarkry en uitdagings op ons eie skouers dra. Ons kan nie, en ons mag nie. Ons moet hulle leer om deur te druk, selfs wanneer hulle moeg is en oorweldig voel.

Die twee moontlikhede

Ek dink aan hoe dikwels versoekings vir ons die maklike uitweg bied. Ek onthou hoe Jesus in die woestyn versoek is: “Hierna neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in hulle prag en sê vir Hom: ‘Dit alles sal ek vir U gee as U neerkniel en my aanbid.’ Toe sê Jesus vir hom: ‘Gaan weg, Satan! Want daar staan geskryf: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ Toe het die duiwel Hom met rus gelaat, en kyk, daar het engele gekom en Hom versorg” (Matt 4:8-11).

Geborg

LEES OOK: Gebede wat verhoor word, maak ons bang

Die duiwel bied vir Jesus eenvoudig álles aan. Hy kan dit kry … mits Hy voor die Bose kniel.

Die duiwel wil hê ons moet die maklike pad kies. Hy belowe om ons alles te gee wat ons hart begeer, sonder om daarvoor te werk. Sonder om te sukkel.

En, ja, dit is altyd ’n opsie. Baie mense kies dit, want dis oënskynlik maklik en vinnig. En ons kan gou-gou kry wat ons wil hê.

Maar toe Jesus die moeilike pad kies, het die duiwel padgegee. Want al wat hy kan aanbied, is dit wat “hier” en “nou” is. Wanneer ons die moeilike weg kies, sien hy nie verder kans nie. Hy werk nie met mense wat kies om die lang pad te loop nie.

Jesus spreek Hom later uit oor die twee moontlike weë. Hy het gesê: “Gaan deur die nou poort in. Want breed is die pad en wyd die poort wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur binnegaan. Maar hoe nou is die poort en hoe smal die pad wat na die lewe lei! En daar is min wat dit vind” (Matt 7:13-14).

Wanneer ons die smal pad kies, die gehoorsaamheid aan God, verloor die versoekings hul krag. 

Soms is daardie keuse nie groot of dramaties nie. By ons was die keuse bloot  ’n laat aand by ’n kombuistafel. En dit is dikwels waar en hoe die smal pad sy oorsprong het, by klein keuses, op gewone dae, wanneer ons besluit om nie die maklike uitweg te kies nie.

In daardie klein oomblikke, tussen kos op die stoof en huiswerk wat voltooi moet word, is die keuse eenvoudig. Die smal pad is ’n pad wat deur eerlikheid loop, wat groei meebring, en uiteindelik na die lewe lei. 

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF