Ek is laat. Ek weet ek sal nooit betyds by die werk wees nie. Maar ek vlieg met ’n vaart weg by my huis en jaag deur die dorp se strate. ’n Mens weet nooit …
En die wonder gebeur: Om die een of ander rede vloei die verkeer. Dis asof ek droom: Die een groen verkeerslig ná die ander begroet my. Ek voel later soos ’n Tour de France-fietsryer wat die wegbreek-jaer van agter af inhaal.
Die wêreld is sommer mooi, die son weerkaats op die see. Toe ek by die werk se parkeerterrein aankom, sien ek hoe ’n kar wegtrek – reg voor die gebou.
Ek kan dit nie glo nie. Ek is jou werklikwaar betyds, met boonop die beste parkeerplek denkbaar.
Toevallig, of God se goedheid? En dan?
Wanneer ek hieraan terugdink, besef ek dat die sogenaamde toevallighede – of noem dit maar die lewe se “klein gelukkies” – nie so vreemd is as wat ons dink dit is nie. Maar wanneer ons erken dat sulke dinge nie bloot toeval is nie, maak dit ons bang.
LEES OOK: Die Spreuke 31-vrou: Nie perfek nie, maar gevul met God se krag
Want as God werklik ons gebede verhoor en in ons beste belang optree, beteken dit dat selfs die moeilike dinge in ons lewe kan verander, en dan vir altyd. En dit hou onder meer in dat daar ’n groot verantwoordelikheid op ons skouers rus. Ja, juis ons wat tot die lewende God bid.
Maar hoekom, sal jy dalk vra, maak dit ons bang?
Eenvoudig: Jy het gevra, en jy het ontvang. Nou moet jy iets doen met dit wat jy gekry het. Daar lê jou verantwoordelikheid. En van daar kom die ongemaklikheid, selfs vrees.
Want hoor dié Jesuswoorde in Matteus 25 se gelykenis: “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!” (vers 23).
Hoe kan ons werklik deel in die Here se vreugde? Deur op Jesus se uitnodiging te reageer, die een wat só lui: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word” (Matt 7:7-8).
Ons sê dikwels dat ons bang is om te misluk, maar dit is ook so dat die moontlikheid van sukses vir ons soms meer vreesaanjaend as mislukking is. Want sê nou dit waaroor jy droom is ’n werklike moontlikheid? En sê nou jou ma se gereelde waarskuwing klink steeds in jou ore op, daardie kere toe sy gesê het “wees versigtig waarvoor jy vra, want jy mag dit dalk net kry”?
Die ander moontlikhede
Goddank, dan, vir die ander moontlikheid – eintlik ’n hele reeks moontlikhede …
– waarin ons erkenning gee aan ’n God wat by ons betrokke is;
– waarin ons glo dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet;
– waarin ons Hom verheerlik deur die dinge wat ons in sy krag aanpak en afhandel;
– waarin ons met vrymoedigheid vra. En wanneer ons ontvang, erkenning gee aan die Een wat ons lewe op so ’n wonderbaarlike manier laat ontvou.
Mag ons dan die moed kry om te vra, en die vermoë om te glo, en die nederigheid om God se antwoord te hoor en te aanvaar.
Mag ons altyd hierdie alternatiewe moontlikheid omhels en koester, want daarin lê God se uitnodiging tot ’n lewe vol betekenis.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.



















