Die afgelope naweek was ek by ’n vrouekamp betrokke, waar die tema oor die Spreuke 31-vrou gehandel het. Toe ek hoor waaroor ek moes praat, het my moed in my skoene gesak. En in my voorbereiding het ek regtig met hierdie vrou geworstel.
Ek is redelik seker dat ek namens die meeste hedendaagse vroue praat as ek sê dat ek nie regtig aanklank vind by haar nie. Trouens, ek geniet dit nie om Spreuke 31 te lees nie.
Die betrokke gedeelte begin so mooi: “’n Knap vrou, wie kan haar vind? Haar waarde is baie meer as edelstene.” Maar dan word haar eienskappe opgenoem, en dit blyk dat sy die toonbeeld van perfeksie is. Sy is altyd gereed om die regte dinge op die regte tyd te doen. Sy is altyd besig. Sy staan vroeg op, sy bak brood, sy koop eiendom, sy maak klere, sy gee vir die armes, sy is gelukkig getroud …
LEES OOK: Aktrise en mamma Greteli fokus op dít wat werklik saak maak
Sjoe. Wie kan soos sy wees? Beslis nie ék nie. Telkens moes ek aan myself erken dat ek bitter ver tekort skiet. As ek haar eienskappe op myself van toepassing maak, dit as pligte beskou en dit op ’n doenlysie probeer afmerk, wil ek my hande in die lug gooi en dit uitskreeu: “Ek kán nie!”
Maar toe gebeur die wonder: Terwyl ek deur dié uitdagende Skrifgedeelte werk, begin die Heilige Gees in my te werk. Vanselfsprekend verander iets in my, en ek besef my siening oor die Spreuke 31-vrou is verkeerd.
Ek leer dat sy in Hebreeus eshet chayil heet, dit wil sê ’n vrou wat vol krag en moed is, waardig, ’n oorwinnaar. Chayil is ’n term wat krag veronderstel. Dis dieselfde woord wat gebruik word om Gideon as ’n dapper held te beskryf, om koning Dawid se soldate as sterk, lojaal en vasberade te beskryf. Dié woord verklap ook iets van die krag wat in God se hand is. In Jesaja 40:29 word van die Here gesê: “Hy gee krag (chayil) aan die moedelose.”
Dit alles dui daarop dat Spreuke 31 nie ’n versameling take bevat wat elke vrou moet afhandel nie, en dis ook nie ’n lys eienskappe wat elke vrou moet besit nie. Dit handel vir seker nie oor hoe goed jy jou rol as vrou, ma, dogter of vriendin vervul nie.
En hier is die mooiste waarheid hieroor: Dis gebruiklik in die Joodse tradisie dat die man elke Vrydag dié gedig vir sy vrou opsê, as erkenning van wie sy vir hom is: ’n gawe uit God se hand.
’n Vrou in wie God se krag sigbaar word
Ek het oplaas besef dat die Spreuke 31-vrou nie iemand is wat alles noodwendig regkry nie, maar dat sy ’n vrou is in wie God se krag sigbaar word. Sy is as ’t ware ’n openbaring van God se krag, die krag wat in haar huis en vriendekring en stad vaardig is.
Op dié manier is sy die vrou wat vir haar huismense in die bres tree, gewapen met geloof. Nie vol mag nie, maar vol wysheid.
Sy is vasberade. Nie altyd kalm nie, maar altyd teenwoordig.
Sy bly nie stil nie, maar sy is wys. Sy leef sinvol.
Sy is niemand se deurmat nie; sy is vol innerlike waardigheid en geregtigheid.
Sy is standvastig. Sy bly regop wanneer ander sou platval.
Sy werk hard. Sy gee maklik, want sy sien wie se hande leeg is.
Ja, God se krag vul haar menswees. Daarom is sy ’n ma wat haar kind kragtig beskerm en toevou in gebed. Sy hef op, sy bemagtig. Sy is ’n sterk vrou wat deur haar trauma werk en die moed vind om oor te begin.
Die plig om mekaar hieraan te herinner
Terwyl ek by die vrouekamp in dié trant oor die Spreuke 31-vrou praat, kom ek agter dat daar vroue om my is wat swaar hieraan sluk.
Ek sien hoe ’n gebrekkige selfbeeld in hul pad staan, hoe ’n minderwaardigheidsgevoel hulle verhoed om dit te glo, hoe ’n gesukkel met hul identiteit hul oë troebel maak. Die wond is klaarblyklik diép.
Daarom, so leer ek opnuut, moet ons mekaar gereeld daaraan herinner dat ons God se hande en voete hier op aarde is. Ons is sy stem, sy oë en ore. Ons dra sy liefde en versorging in ons lyf.
Ja, ons moet mekaar daaraan bly herinner, dis ons plig. Ons moet mekaar help onthou van die krag, die moed, die chayil wat ons in ons saamdra.
Ek het ook dít die naweek by die kamp beleef: Daar is sterk vroue wat sterk vroue selfs sterker maak.
Daarom is dit my gebed dat jy gereeld ontdek dat jy nie tot perfeksie geroep is nie, maar tot teenwoordigheid. Mag jy ervaar dat jy God se krag in jou dra. En dat dit vir jou moontlik is om dit met liefde en in wysheid uit te deel.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.




















