FOTO’S: CNiel Photography
Hy onthou die woorde soos gister. Agter ’n toe deur, alleen in sy kantoor, het hy ewe vroom gebid: “Gebruik my soos U wil. En toets my, ek is gereed.”
Vandag kyk Dewalt Ungerer terug en sê: “Wat ’n onnosel ding om te vra! Veral vir iemand soos ek, wat toe nog met my voete stewig in die wêreld gestaan het en met my mond die Here halfhartig probeer dien het.”
‘Kyk na mý! Kyk hoe goed en suksesvol is ek’
Dewalt het ’n klomp verkeerde keuses gemaak. Hy het ver geval. Maar dis in sy opstaan en omdraai waar die waarde van sy getuienis lê. Eerlik, sonder om doekies om te draai, vertel hy waarom hy gestruikel het en wat hy daaruit geleer het: “Baie jare lank was Christenwees net nóg iets wat goed gelyk het op my CV, saam met ’n gelukkige huwelik en ’n goeie vrou en oulike kinders. Daarby ’n mooi huis, ’n grênd kar en ’n suksesvolle sakeonderneming.
LEES OOK: ‘Ek moes leer om op ’n sagte manier vir my huwelik te veg,’ vertel vrou ná haar man se ontrouheid
“Maar dit beteken niks as jy dit nie lééf nie. Ek was arrogant. Dis daardie lelike soort trots wanneer jou manier van dink, praat en optree eintlik uitbasuin: ‘Kyk na mý! Kyk hoe goed en suksesvol is ek. Jy sal seker ook so wil wees.’
“In daardie stadium het ek reeds erg drooggemaak. Maar elke keer was die Here se genade groot. Hy gee ons kans ná kans ná kans … Ongelukkig waardeer ’n mens dit nie wanneer jou lewe vol kompromieë is nie. Ek het die Here geken, maar ek het ver van Hom af geleef. Ek was Sondag in die kerk, maar Maandag weer terug in die wêreld, besig om geld na te jaag. Om te drink, te kuier. En ek het nie gewaak teen die dinge wat ’n man laat struikel nie.”
’n Donker wêreld vol fantasie
“Jy staan nie een oggend op en besluit ‘vandag is ’n goeie dag om my vrou te verneuk’ nie. Dit gebeur geleidelik en subtiel. Dis ’n powere verskoning, ja, maar in my geval het dit begin met ’n kombinasie van verveling en onvervulde behoeftes. Ek was verveeld met die daaglikse roetine van ons goeie, gemaklike lewe. En ek het ál meer seksueel gefrustreerd begin voel.
“Met twee klein kindertjies by die huis het my vrou Odette haar hande vol gehad. Sy was ’n goeie ma. Ek het gereken om nie haar baie verpligtinge méér te maak deur haar boonop met my behoeftes te pla nie …
“Ek onthou die aand baie goed toe ek die eerste keer gepootjie is: Odette was besig met die kinders; ek was ledig in die studeerkamer voor die rekenaar. Jy sien hierdie flitsadvertensie wat op die skerm verskyn – pornografiese beelde. En jy klik daarop. Nuuskierigheid. Begeerte.
“Deur die loop van die daaropvolgende klompie dae en weke word een klik tien, en twintig, en vyftig. In ’n oogwink verval jy in ’n donker wêreld vol fantasie, wat jou aan die een kant opgewonde en lekker laat voel, en aan die ander kant skaam en vuil.
“Verslawing aan pornografie is baie gevaarliker as wat mense dink. Dit steel jou tyd, dit vernietig jou menswees, dit verander die manier waarop jy jouself en ander beskou, en dit maak jou mettertyd geestelik dood.
“Die ander probleem is dat een kompromie die volgende kompromie soveel makliker maak. Ek het ’n jong vrou by ons restaurant-onderneming ontmoet. Sy het soos die prentjies op my rekenaarskerm gelyk. Jy weet dis verkeerd, jy huiwer. Maar die belofte wat dit inhou, die adrenalien en die opwinding, oorrompel jou.
“En só volg Val Nommer Twee ’n paar weke later. Die skuldgevoelens ry jou, maar jy dink dis nou te laat vir omdraai.
“Intussen was ’n verdere katastrofe besig om te ontvou: Ek wou graag ophou rook, maar niks het gewerk nie. Die dokter skryf toe ’n bepaalde middel voor om my daarmee te help.
“By die huis het ek en Odette saam-saam deur die aanwysings gelees. Die newe-effekte het moontlike simptome ingesluit soos snaakse drome, ’n verandering in denkpatrone en gedrag, slapeloosheid, depresssie. Ons het dit afgelag: Ag, nee wat, dis mos nie dinge waarmee ék sukkel nie.
“Maar daar is ’n geskiedenis van depressie en selfdood in ons familie. My pa het, drie maande voor ons troue, sy eie lewe geneem. Ek het nietemin die medikasie begin gebruik – en dit het my onderliggende depressie laat opvlam.”
‘Hoe klim jy uit die gat wat jy vir jouself gegrawe het?’
“Noem dit ’n ‘perfekte storm’: die kombinasie van verveling, seksuele frustrasie, skuldgevoelens oor pornografie en ’n ander vrou. En boonop word alles vererger deur die medikasie wat, gepaard met drank en later dwelmmisbruik saam met die ander vrou, my hele wêreld uitmekaargeruk en onderstebo gekeer het.
“Odette het nie meer die man herken met wie sy getrou het nie. Ek ook nie.
Ek het in ’n diep depressie verval. Niks het meer sin- of saak gemaak nie.
Jy beleef hoe jy besig is om alles te verloor en jy soek desperaat na ’n uitweg.
Ek het tot in die fynste besonderhede beplan hoe ek met my motor teen ’n brug sou vasjaag. Die roete, die brug en die botsing was klaar in my kop uitgewerk.
“Hoe draai ’n mens om as jy eers dáár is? Hoe klim jy uit die gat wat jy vir jouself gegrawe het? Hoe kyk jy jouself, jou vrou en die lewe ooit weer in die oë?
“Dit gebeur slegs met die Here se hulp en genade. En danksy ’n vrou wat nooit opgehou het om vir haar man te bid nie. Odette se raas en baklei het op ’n dag in sagtheid verander. Dit was waarskynlik die dag toe sy die advertensiebord met die woorde NIKS IS SO STERK SOOS SAGTHEID NIE langs die pad gesien het.
“As ek nou op alles terugkyk, was haar sagtheid deurslaggewend in die lang aanloop wat gelei het tot die omkeer en die vernuwing in my hart. Dit was nie ’n sagtheid wat in slagofferskap geleë was nie. Sy was nooit ’n vloerlap nie. Sy het my op hierdie sagte manier met meer respek behandel, al het ek dit nie verdien nie. Sy het nie meer op my geskree nie, sy het my nie gekritiseer nie. Sy het nooit meer gesê wat ek moet doen nie, of hoe teleurgesteld sy in my is nie. Sy het my nie probeer beheer nie.
“Ek dink hiér lê die kern van wat die woord ‘respek’ vir ’n man beteken. Dis wanneer jou vrou jou gelyke is, maar ook jou helper – jou grootste bewonderaar. Sy is die een wat jou met haar woorde opbou en wat jou aanmoedig om ’n beter mens te wees.”
‘Dit wat ’n mens nie oppas nie, gaan jy verloor’
“’n Man is vol trots – in die positiewe sin van die woord. Ons smag daarna om geëer en gerespekteer te word. God het ons so gemaak. Daar is iets wat in ’n man se psige gebeur wanneer hy opgehef en gerespekteer word. Hy groei in selfvertroue en in sy vermoë om vir sy vrou ’n veilige plek vol vervulling te wees.
“Ek is daarvan oortuig dat wanneer jy jou maat hanteer soos die Here dit wil hê, verander Hy daardie een se hart. Dis ’n beginsel wat in gehoorsaamheid aan God gewortel is.
“Onthou ook: Dit wat ’n mens nie oppas nie, gaan jy verloor. Wat pornografie en ontrouheid betref, het ek geleer dat al daardie dinge – groot en klein – wat jy in die geheim doen, die dinge is wat jou huwelik gaan verwoes. Pasop daarvoor.
“Vir vroue wil ek die volgende sê: ’n Man wat rondkyk of rondloop beteken nie daar is iets fout met jou nie. Dit gaan eerder oor hoe die ander vrou jou man laat voel.
“As gevolg van my eie swak keuses het ek by die huis soos ’n verloorder gevoel – depressief, nie goed genoeg nie, en vol skuldgevoelens oor die dinge wat ek besig was om aan te vang. By die ander vrou het ek soos ’n held gevoel, die man wat haar red en wat deur haar bewonder word.
“Odette was nog altyd ’n swart-en-wit-mens. ’n Ding is óf reg óf verkeerd. Vroeër jare sou ek nooit vir haar kon sê wanneer ek sukkel met iets soos wellus nie. Maar vandag, ná alles, is sy ’n ware sielsgenoot. Sy is ’n oor wat luister en ’n hart wat verstaan. Sy is vol deernis, my sagte landingsplek wanneer ek sukkel of droogmaak.
“Want ja, mans maak droog. En al weet ons dis verkeerd, foeter ons voort. Bloot om te probeer bewys ons is eintlik reg. Simpel, nè?”
‘Ek is vandag diep dankbaar’
“Dis nou al meer as ’n dekade later, en ek kan getuig dat my huwelik lekker is. As elkeen sy/haar deel doen om die ander se begeertes te vervul, is dit nie harde werk nie. Dis pret!
“Ek is vandag diep dankbaar dat my vrou gekies het om vir ons huwelik te veg. Bowenal is ek nederig dankbaar teenoor die Here wat ’n mens telkens ophelp en jou nog ’n kans gee. Geen sonde is so groot dat dit Hom intimideer nie. En wanneer ons berou het, gee Hy vergifnis en herstel.
“Daarom kan jy jouself ook vergewe. Jy kan opstaan en die man word wat jy veronderstel is om te wees.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.