Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek gaan Hom in alle omstandighede bly loof’ – vrou nadat haar man selfdood pleeg

Op 3 November 2020 verdwyn my man Hannes. Veel later erken hy dat hy daardie dag aan selfdood gedink het. Hy vertel toe ook dat hy ’n jaar ná daardie verdwyning, in November 2021, gif gedrink het.

Die lang aanloop, en die wonderwerk

Dié dinge het ’n lang aanloop gehad: Ons is sedert 2015 by ’n negatiewe situasie ingetrek. Ek het soveel keer probeer om met Hannes daaroor te praat, maar ek kon nie tot hom deurdring nie en hy het in ’n diep depressie verval.

Op 19 Junie 2023 hoor ek duidelik hoe Jesus vir my sê dat ek sonder ophou, vurig en met vertroue vir Hannes moet bid. Ek bid dag en nag, ek slaap baie min. Ek hou vas aan Psalm 71:2. Al waarna ek streef, is let go and let God.

Maar enkele weke later, op 5 Julie 2023, skiet Hannes homself. Hy oorleef dit. Tydens ’n noodoperasie word sy milt verwyder en sy diafragma herstel. Hy verloor baie bloed. Dis ’n wonderwerk dat die koeël al sy lewensbelangrike organe gemis het; dit het ’n rib getref en is ondertoe gedeflekteer, weg van sy hart af.

Die reënboog van God se beloftes

My sussie stuur ’n stukkie inspirasie: “Die reënboog van God se beloftes van oorvloed en seën oorspan altyd die lewe se storms.” En twee dae lank, terwyl ons hospitaal toe ry, sien ons reënboë. Elke reënboog word vir ons ’n teken van God se belofte dat alles oukei sal wees.

Hannes herstel verstommend vinnig. Ses dae ná die skietvoorval kom hy huis toe.

Op 22 Julie 2023 moet ons jongste dogter teruggaan universiteit toe. Weer stuur God ’n reënboog. Toe ons haar afsien, staan dit afgeëts teen die lug.

Ons word deur seëninge oorweldig: ’n goeie lamseisoen, met etlike twee- en drielinge; ’n uitstekende skaapveiling; ’n mooi koringoes; vele toekennings vir Hannes se skape.

En te midde van dit alles is daar die gereelde reënboog, wat ons aan God se beloftes herinner.

Maar teen einde Augustus begin dinge maar weer in die ou, negatiewe patroon verval. Hannes begin weer al hoe stiller word, al meer in homself gekeer. Ek sê vir myself: Nou is dit tyd vir vertroue en volharding.

Ek vertrou ook altyd op my gut feeling (ek noem dit “my Jesus-fluister”) en vra Hannes of hy oukei is. En vir die eerste keer in ’n lang tyd is hy eerlik met my en hy bevestig dinge wat ek lankal vermoed het.

Daar volg moeilike gesprekke; ons moet belangrike besluite neem. Soms gaan dit beter – maar oor niks kry ons regtig klarigheid nie.

Op 11 Junie 2024 is my liefste pappa aan sy hart oorlede. Hoe ironies dat die hart van die man wat soveel vir ander omgegee het te moeg geraak het …

Ten spyte van daardie hartseertye op my ouers se Karoo-plaas word dit ook kosbare familietyd. Ons deel baie herinneringe met mekaar. Ek kon ook sien dat Hannes hier werklik gelukkig was.

Maar terug op die plaas in Moorreesburg val alles eensklaps weer in die ou voeë. Ek huil: “Ag, Jesus, ek kry elke keer hoop, net om dit weer te verloor …”

Mense is nie die antwoord nie; Jesus is

Op 27 Junie woon ek en ’n vriendin ’n warrior women-konferensie by. Min besef ek dat ek daar toegerus word met God se wapenrusting vir ’n baie fel stryd wat vir my voorlê.

Tydens die konferensie is daar veral een beeld op die grootskerm wat ’n beslissende indruk op my maak: ’n vrou wat gekniel sit agter ’n skild wat haar teen die bose se pyle beskerm.

Maar terwyl die konferensie aan die gang is, kry ek die boodskap dat Hannes reeds sedert negeuur daardie oggend vermis word.

“Nie weer nie, Jesus!” wou ek uitroep. En ek het besef dat dit nou die tyd is om ’n gebedstryder te wees. Om te vertrou.

Dit word onbeskryflik spanningsvolle ure. Ek moes ons dogter, ver weg op universiteit, laat weet dat haar pa weer gesoek word.

Die plaaswag en polisie soek die hele dag. Eers halfelf daardie aand kom Hannes huis toe.

Ná hierdie voorval het ek besluit om ’n brief aan my skoonmense te skryf.

My pleidooie het egter nie veel gehelp nie, en ek het weer eens besef dat mense nie die antwoord op probleme is nie; net Jesus is.

Ná 2023 se skietvoorval en die wegloop-episode het ons student-dogter besluit om haar studies vir eers te onderbreek. Dit was nie ’n maklike besluit nie.

ln dié tyd klou ek vas aan God. Ek vertrou Hom vir alles in my lewe. En deurentyd loop sy belofte van oorvloed en seën soos ’n fyn draad deur ons lewe. Alhoewel dit nie altyd ewe goed gaan nie, leer ek om dankbaar en tevrede te wees. Dis ’n doelbewuste keuse.

Maar weer ondervind ek dat hoe nader ek aan Jesus kom, hoe meer ek elke aspek van my lewe vir Hom gee, hoe feller word Satan se aanslag.

‘Lei U ons, tree vir tree’

Op 17 September kom Hannes nie op die gewone tyd, vroegoggend, huis toe nie. Ons begin dadelik soek. Ek stel ook die plaaswag en die polisie in kennis. Maar ek weet toe reeds dat hy nie meer met ons is nie.

Net voor tienuur die oggend bel ons voorman om te sê hulle het voertuigspore gevind. Dit loop deur ’n draad, en af tot in ’n diep dam.

Dit word ’n bitter lang dag – polisie, speurders, polisieduikers, forensiese

fotograwe. Almal vra vrae.

Ek moet my oudste dogter en haar man laat weet. Hulle hou vakansie in Namibië.

Teen vieruur word bevestig dat Hannes se liggaam in die bakkie is.

“O, Jesus,” bid ek, “dit oorweldig my, dis so seer. Net U kan ons hierdeur dra. Ek los alles in u hande. Lei U ons, tree vir tree.”

Ek sal Hom bly loof

Ons verlaat die plaas die dag ná die roudiens. ’n Nuwe lewe lê voor ons.

Vandag, amper drie maande later, kyk ek terug en staan in verwondering en

dankbaarheid oor God se goedheid. Ek verwonder my aan hoe Hy my voorberei het, hoe Hy alles op hul plek geplaas het.

Ek sal bly getuig van sy liefde. Oor hoe Hy my gedra het, en die vrede wat Hy my gegee het. Ek sal Hom bly loof sodat ander mense Jesus in my kan sien.

Mag elkeen wat hier lees met hoop gevul word.

  • Henriette en haar man Hannes het 29 jaar lank op ’n plaas naby Moorreesburg gewoon. Sy het onlangs na Stilbaai verhuis.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF