Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek het die Voorsiener gesien’ – man getuig hoe God sy sterwende broer se vrese besweer

Soms is die grootste wonderwerk nie dat iemand genees word nie, maar dat God die hemel so werklik maak dat alle vrees verdwyn. Dit is hoe die laaste deel van my broer Poemie se storie verloop het.

“My lewe is in die Here se hande.”

Ek sal daardie woorde nooit vergeet nie.

Dit was my jonger broer, Jan-Francis Vorster, by almal bekend as Poemie, se eerste reaksie toe dokters in Februarie 2023 bevestig dat hy ’n breingewas het. Hy moes dringend geopereer word. Daar was trane, maar toe wys hy na die hemel en sê met vaste oortuiging: “My lewe is in die Here se hande.”

Daardie oomblik het ons almal se perspektief verander. Ons het nie geweet wat voorlê nie, maar ons het geweet op Wie hy vertrou.

Beterskap, en ’n terugslag

As ek nou daarop terugkyk, besef ek sy getuienis het lank voor die diagnose reeds begin. Want van kleins af was hospitale deel van sy lewe. Gebreekte bene, operasies en ongelukke het gereeld oor sy pad gekom. Niks kon ons egter voorberei op dit wat in 2022 sou gebeur nie.

Op 24 Februarie daardie jaar het hy ernstige epileptiese aanvalle gekry en hy is in ’n intensiewesorgeenheid opgeneem. Ná baie onsekerheid het ’n neuroloog sy medikasie aangepas, en ’n ruk lank het dit gelyk asof die ergste verby is.

Ons was verkeerd.

LEES OOK: ‘God ís goed’ – boer beaam sy vrou se woorde ná haar dood

In Februarie 2023 het nog ’n ernstige aanval gevolg. ’n MRI-skandering het gewys dat Jan-Francis ’n breingewas het.

Die eerste operasie het merkwaardig goed verloop en hy kon vier dae later huis toe gaan. Bestraling en chemoterapie het gevolg, en hy het die behandeling beter hanteer as wat ons ooit verwag het. Ons het telkens God se hand daarin gesien.

Wat God belowe

In die tweede helfte van 2024 het die epileptiese aanvalle egter weer toegeneem. En toe kom die nuus waarvoor ons gevrees het: Die gewas was terug.

Nog ’n breinoperasie het voorgelê. Hierdie keer was die gewas ’n aggressiewe graad 4-glioblastoom wat binne ’n week nog groter geword het. Dié operasie was baie moeiliker as die vorige een. Hy moes vyf dae in die intensiewesorgeenheid deurbring. Twee weke later was hy wel betyds tuis vir Kersfees.

Dit het ons weer daaraan herinner dat God nie belowe het die pad sal maklik wees nie, maar wel dat Hy saam met ons daarop stap.

Die jaar 2025 het rustiger verloop as wat ons verwag het. Daar was nog aanvalle, maar ons het geleer om met ’n “nuwe normaal” saam te leef.

Teen November het ’n verdere MRI-skandering gewys die kanker het teruggekeer. En hierdie keer was geen operasie moontlik nie. Die gewas was te diep en te sentraal in sy brein. Die dokter het ons aangeraai om palliatiewe sorg te reël.

Dit was die eerste keer dat ons regtig moes erken dat ons besig was om afskeid te neem.

‘Ek het saam met Hom gestap’

Jan-Francis het egter aanhou droom. Hy het oor fietsry gepraat en allerlei planne gemaak. Hy het steeds geglo. Dalk nie noodwendig dat hy genees sou word nie, maar dat God hom nooit sou los nie. En dit was genoeg.

Aan die begin van 2026 het sy gesondheid vinnig agteruitgegaan. Daar is ook longfibrose by hom gediagnoseer en hy moes etlike ure per dag suurstof gebruik.

Sy liggaam het swakker geword, maar sy geloof nie. Hy het gereeld gesê: “Dit sal vir my beter wees as die Here my kom haal.”

Ons het hom probeer moed inpraat, want ons was nog nie gereed om hom te laat gaan nie.

Toe gebeur iets wat ons nooit sal vergeet nie. Op 7 Mei, in die vroeë oggendure, het my suster hom wakker gemaak sodat hy sy medikasie kan gebruik. Uit die bloute het hy gesê, rustig: “Ek het die Voorsiener gesien.”

Toe sy hom vra of sy reg gehoor het, het hy geantwoord: “Ek het saam met Hom gestap.”

Ons weet nie wat hy daardie nag beleef het nie. Was dit ’n droom? ’n Soort visioen? Ons weet nie.

Wat ons wel weet, is dat daar daarna ’n vrede in hom was wat ons nie kan beskryf nie.

’n Vriend het my later gesê: “Die Here het hom teruggestuur sodat julle kon weet hy is nie bang nie. Wanneer sy tyd aanbreek, sal hy nie alleen stap nie. Hy sal Iemand volg wat hy reeds ontmoet het.”

Daardie woorde het diep in my hart vasgesteek. Drie dae later het Jan-Francis in ’n semi-koma verval.

En op 11 Mei 2026, ironies genoeg op my verjaardag, het die Here hom huis toe geneem. Ek het oor hom gebuk en gesê: “Poemie, as jy nou op pad is hemel toe – ta-ta.”

Kort daarna was dit stil.

’n Hart wat die Here liefhet

Ná sy dood het boodskappe van oraloor ingestroom. Honderde mense het vertel hoe hy hul lewe geraak het. Laerskool Voorpos het hul vlag halfmas laat hang. By ’n rugbywedstryd is ’n minuut stilte gehandhaaf.

Die mannegroep, waarvan hy 12 jaar lank deel was, het geskryf dat sy geloof kinderlik, opreg en eg was. Dat hy mense geleer het geloof gaan nie oor perfekte antwoorde nie, maar oor ’n hart wat die Here liefhet.

Toe besef ons iets besonders: Ons het al die jare gedink ons sorg vir hom, maar God het hom gebruik om vir baie mense hoop te gee.

Wanneer ek dus vandag aan my broer dink, onthou ek nie allereers die kanker nie; ek onthou sy geloof. Ek onthou hoe hy die dag met die diagnose gesê het: “My lewe is in die Here se hande.”

Ek onthou hoe hy, sonder om skaam te wees, met vreemdelinge oor Jesus gepraat het, en hoe hy selfs sy getuienis deur Radio Kansel gelewer het.

Ek onthou die vrede op sy gesig.

Huis toe, veilig aan God se hand

Ek glo steeds dat God wonderwerke doen. Soms is dit ’n merkwaardige herstelproses ná ’n operasie; soms is dit die krag om intense behandeling te verduur. En soms is die grootste wonderwerk nie dat iemand genees word nie, maar dat God die hemel so werklik maak dat alle vrees verdwyn.

Dis nou 12 weke sedert my broer se afsterwe en ons verlang elke dag na hom. Maar ons treur nie sonder hoop nie.

Want ek glo met my hele hart dat die Een wat hy daardie nag “die Voorsiener” genoem het, dieselfde Een is wat hom ’n paar dae later aan die hand geneem en veilig Huis toe gelei het.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►