DEUR JACOBIE M HELENA
In die grendeltyd sal jy vir Tebogo Mabye by die nieregeringsorganisasie MES (Mould, Empower, Serve) se Impilo-skuiling vir haweloses in Fairview, Johannesburg, aantref. Hier bestuur Tebza, soos almal hom noem, die skuiling in die Covid-19-krisistyd tot en met daar meer duidelikheid oor die land se toekoms is.
Dié 24-jarige man, wat ook deeltyds modelwerk vir bekende handelsname soos Edgars en McDonalds doen, se tweejaaroue besigheid, Hillbrewed Coffee Co, is ongelukkig ook een van die vele besighede regoor ons land wat weens die Koronavirus-pandemie op sy knieë gedwing is en sy deure moes sluit. Maar dié veelsydige jong man skrik nie vir uitdagings of terugslae nie, blyk dit gou tydens ’n gesprek met hierdie student (BA Strategiese Handelsmerkkommunikasie) en kranige skopbokser. Jacobie M Helena het via Zoom met hom gesels oor sy grootwordjare in Hillbrow en die dryfveer agter sy sukses.
Mes en koeël
Tebza het in die hart van Hillbrow harde grootwordjare beleef. Hy vertel: “Ek het op die hoek van Bullet- and Knifestraat in Hillbrow, Johannesburg, grootgeword. Of só noem die locals van Hillbrow die gevaarlike hoek van Peterson- en Twiststraat. Die hoek is een van Hillbrow se misdaadneste. Die kruising word ook met vyf bordele omring,” verduidelik Tebza. Prostitute wat op elke straathoek staan, was ’n alledaagse gesig gedurende Tebza se grootwordjare. Op pad skool toe moes Tebza en vrinne soms verby lyke stap wat op die straat gelê het. “Dit was normaal. Die norm. So ook was dwelmgebruik, kapings, bendegeweld, skietery in die strate en huishoudelike geweld die norm.” Hy glimlag nou as hy vertel hoe mense se oë rek as hulle hoor hy kom van Cresthill en Vannin Court af.
Maar hy verduidelik dat die kinders van die gemeenskap deur die misdadigers beskerm is. Dit is ongelukkig nie ’n goeie soort beskerming nie. Dit is die soort beskerming wat jou óf verslaaf aan dwelms en as deel van ’n bende óf op straat óf in die tronk sal laat. Net soos sy vriende moes Tebza ook die keuse maak of hy dáárdie lewe gaan lei en of hy dalk iets meer van sy lewe kan maak.
“In my matriekjaar het ek voor ’n kruispad gestaan. Die leier van die gevaarlikste bende in Hillbrow het my kom scout. Hy het aangebied om my skoolgeld te betaal as ek deel word van die bende. Gelukkig kon ek op daardie stadium ‘nee’ sê omdat MES vir my ’n uitkoms uit daardie lewe gebied het,” vertel Tebza oor hoe sy pad meer amptelik met MES gekruis het.
‘MES het my lewe verander’
Alhoewel Tebza reeds van sy laerskooljare ’n pad met MES gestap het, het dié organisasie vir hom ’n uitkoms aan die einde van sy matriekjaar gebied. Hy het nie matriek deurgekom nie. Maar MES het hom ingeneem en hom die ondersteuning gegee om die twee vakke wat hy nie deurgekom het nie suksesvol af te handel. En só word Tebza op ’n amptelike basis deel van die MES-span. Tebza sê as dit nie vir MES was nie, sou hy waarskynlik by die bende aangesluit het.
Tot vandag toe stap Tebza ’n pad met die twee vroue van MES wat hom nog nooit in die steek gelaat het nie – Miriam Moreki en Leona Pienaar, wat in Januarie as MES se nuwe hoof uitvoerende beampte aangestel is.
“Leona het ’n baie, baie, baie lang pad met my gestap. Ek dink ek het vir haar die meeste senuwees veroorsaak,” sê Tebza laggend. Hy vertel dat Pienaar hom as intern in haar departement aangestel het. “Sy het my opgevoed, in my belê, my help ontwikkel en nooit ooit opgegee met my nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir die lewe wat sy vir my moontlik gemaak het. Sy en Miriam het in my geglo en glo en ondersteun my tot vandag toe,” praat Tebza oor sy mentors.
Dit was ook op ’n MES-kamp in 2014 wat hy sy hart vir die Here gegee het. “Toe ek my hart vir die Here gee, het alles in my lewe net begin sin maak. Geloof het vir my sin gemaak en my lewe het opnuut rigting gekry,” vertel Tebza, wat daarvan hou om Bybel te lees en vir ander met die Woord te inspireer.
Lekker koffie, lekker naam
Die Hillbrow-boorling, wat uit ’n familie van entrepreneurs kom, het aan die einde van 2018 ook sy jarelange droom bewaarheid om ’n koffiewinkel, Hillbrewed Coffee Co, naby Ellispark oop te maak. Hy het die eienaar van die kantoorspasie genader en dié het vir hom twee vrae gevra. “Hy het vir my gevra: ‘Het jy enige agtergrond in besigheidswese? Nee, het ek geantwoord. Hy vra weer: ‘Het jy ’n besigheid?’ Nee, het ek geantwoord, maar ek het vir hom gesê dat ek ’n droom en ’n passie het.” Die eienaar het hom ’n kans gegee en só is die droom van sy eie besigheid bewaarheid.
Hy het in ’n jaar die ruimte tot ’n dinamiese koffiewinkel opgebou. Kunstenaars het daar opgetree en digters het voorlesings gedoen. Sy grootste ondersteuners is die Leeus-rugbyspan, sê hy. “Die koffie is awesome,” voeg hy laggend by.
En waar sien hy homself in die nabye toekoms? “Beslis besig om die Hillbrow-gemeenskap verder te bemagtig,” antwoord hy dadelik. Tebza sê aangesien Hillbrew na die inperking nie meer in die huidige vorm kan voortgaan nie, wil hy die besigheid herstruktureer. Hy wil die besigheid verder as ’n franchise ontwikkel om ’n reeks mobiele koffiestasies daar te stel. Op dié manier wil hy jong entrepreneurs die kans gee om die mobiele koffiestasies te huur en so geld te verdien om hulleself te onderhou. Hy vertel: “Ek wil jong entrepreneurs bemagtig. Ek sal ’n pad met hulle stap om hulle te leer hoe ’n besigheid werk en wat dit behels om ’n suksesvolle entrepreneur te wees. Dis só belangrik vir jongmense om positiewe rolmodelle te hê,” vertel Tebza. Hy beplan ook om verder te studeer. En aan te hou uitstyg bo Bullet- and Knifestraat.
- Dié artikel het oorspronklik op Kerkbode, LiG se susterpublikasie, se webwerf verskyn.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.