Hy was jare lank aan dwelmmiddels verslaaf, hy het perlemoen gesmokkel en was dikwels in die tronk. Die keerpunt in sy lewe het gekom toe hy sy toekomstige vrou ontmoet en die Here leer ken het. Onlangs is hy saam met sy babadogtertjie in die NG gemeente Montagu gedoop, en hy leef nou baie na aan die Here. Hier is sy verhaal.
“Ek het sonder liefde grootgeword. Ek het ook nie vir Jesus geken nie.”
Só vertel JP Pienaar (37), voorman-assistent op die plaas Buitenverwacht naby Robertson in die Wes-Kaap, oor sy grootwordjare in dieselfde dorp. Die lewe was van kleintyd af hard en ongenaakbaar. Sy ouers het te veel gedrink en dan met mekaar baklei. Al die geweld in die huis het hom rebels gemaak.
Deesdae straal hy Jesusliefde uit. Hierdie eens verwonde jong man beskou die Here as die middelpunt van sy lewe. En hy is die anker vir sy vrou Lizelle (31) en hul eenjarige dogtertjie Johane.
“Omdat ek in ’n huis grootgeword het waar die Here nie geken en gedien is nie, het ek alles onder die son beproef. En ek het verkeerde keuses gemaak.
“Ek het vroeg-vroeg reeds met dagga begin eksperimenteer. Dit was ’n manier om van my omstandighede te ontvlug.”
LEES OOK: ‘Ek was ’n verslaafde wat wou sterf, totdat God in ’n duidelike stem aan my ’n belofte gemaak het’
JP en sy boetie Sean het dikwels van die huis weggehardloop as dinge te erg word, en eers dae later teruggekom. JP vertel hoe hy ander kinders by die skool geboelie het omdat hy seer gehad het.
Toe ’n vriend van JP se ouers Gansbaai toe trek, het JP en Sean saamgegaan. JP het die skool verlaat (hy was in graad 9) en het onwettig perlemoen geduik en daarmee gesmokkel. “Dit het ’n tyd lank goed gegaan en ons het ons eie blyplek gehad.
“Maar toe begin ek met sterker dwelms eksperimenteer.” Dit het kokaïen ingesluit, asook ecstasy, tik, mandrax en heroïen. Met die perlemoenverkope se geld kon hy dwelms koop.
Hy vertel: “My werk was uitputtend en ek het tik gebruik om wakker te bly en energie te kry. Ek was heeltemal verslaaf daaraan. Die dwelmmiddels het my ook beter laat voel oor myself.
“Ek is soms in hegtenis geneem omdat ek perlemoen smokkel en is ’n paar keer tronk toe. Ek het baie tatoeëermerke op my lyf uit daardie tyd wat my skaam laat voel.”
Twee broers op straat, met een dun kombersie
“Mettertyd het die perlemoen minder geword en ons is terug na my ouers, wat toe Paarl toe getrek het. Maar daar was nie plek vir ons nie en my broer en ek het weer op straat beland. Ons het gebedel om aan die lewe te bly. Dit was bitter. Ons het net een dun kombersie gehad, en dit was winter. Ons het meestal in ’n parkie geslaap, of in ’n leë huis. Ons het karre gewas om kos en dwelms te kan koop.”
Een aand het hulle, in die ysige koue, in die inrypad voor ’n huis gaan lê. Die volgende oggend het die huiseienaar so byna-byna oor hulle gery. Nadat hy hul storie gehoor het, het hy hulle slaapplek en werk gegee.
“Hy het ons saam met hom kerk toe geneem. Dit was my eerste ontmoeting met God. Ons het saam met die man die Here geloof en geprys. Ná agt maande het ons ’n eie blyplek gekry.
“Maar weer het verkeerde vriende en ou gewoontes my na dwelms laat terugkeer. Ons kon nie meer die huur betaal nie. En ek is terug Gansbaai toe.”
JP het weer begin perlemoen duik. Hy het by ’n man gebly wat ’n dwelmslaaf was, maar het darem kos en ’n dak oor sy kop gehad.
Ná twee jaar het hy werk gekry op ’n groot vissersboot. Die kaptein het hom oor JP ontferm en hom huisvesting gegee. In daardie tyd het JP tik en mandrax gebruik.
Die engel wat deur God gestuur is
JP vertel: “Die kaptein se vrou was vriende met ’n meisie wat dikwels daar kom kuier het. Ek het besef dat God hierdie meisie na my toe gestuur het. Sy was ’n engel. Haar naam was Lizelle.
“Daar was net iets aangaande Lizelle wat my laat besef het ek sal my slegte gewoontes onmiddellik moet laat staan. Sy is ’n toegewyde Christen en het nie vir my soort leefwyse kans gesien nie. Vir die eerste keer het ek liefde ervaar. Ek het dit nooit geken nie; ek het dit altyd begeer.
“Lizelle het ’n baie goeie hart. Sy is vir my beeldskoon. Ek wou haar nie verloor nie.”
Ná 16 jaar se dwelmmisbruik het JP besluit om finaal daarmee te breek.
“Ek was vasbeslote om my verlede finaal agter te laat. Al het ek soms daarna gesmag en dan depressief gevoel. Maar ek het al my ou vriende gelos, deurgedruk, en ná 18 maande kon ek Lizelle die groot vraag vra.
“Ek het die Here aangeneem en my hart vir Hom gegee. Lizelle en haar pa het my op die pad na die Here gelei. Sodoende het ek ál meer met Hom begin praat. Ek het Hom om vergifnis gevra en met my mond bely dat ek Hom as my Skepper en Verlosser aanvaar.
“Dit was asof ’n berg van my skouers afgerol het en ek het soveel ligter gevoel. Ek het kort-kort die Heilige Gees se stem gehoor, wat vir my gesê het om nie na my ou weë terug te keer nie. Ek ken ál die afdraaipaaie …”
‘Om my lig te laat skyn’
JP se skoonouers, diep gelowige mense, het hom uit die staanspoor met ope arms verwelkom en hom met liefde toegevou. “Dit was ’n soort ouerliefde wat ek nooit geken het nie,” vertel JP. “Dit het my so diep geraak dat ek net geweet het ek sal nooit weer terugdraai nie.
“Ek is nou reeds tien jaar lank ‘skoon’. Ek dank die Here daarvoor, asook vir hierdie nuwe lewe. Want intussen het die Here my geseën met ’n werk, ’n dak oor ons kop en ons eie kind. Sy is die middelpunt van ons lewe. Johane se geboorte het my nogmaals laat besef hoe dankbaar ek kan wees vir waar ek vandag is. Dit is so ’n groot seën.
“Ek wil ons dogtertjie grootmaak met die Here in haar lewe en met hope liefde. Ek wil vir haar ’n voorbeeld wees en haar leer om die regte vriende te kies en die regte keuses te maak.”
’n Maand gelede is JP en Johane saam in die NG gemeente Montagu gedoop. “Dit was ’n baie spesiale geleentheid, so kosbaar vir my. Ek het daardie dag weer besef hoe groot God se genade is, en ek het die verhaal van my geloofsreis met die gemeentelede gedeel.
“Ek voel vandag soos Paulus wat aanvanklik die Christene vervolg het, ’n wrede man wat uiteindelik die Here ontmoet het en daarna ander mense na Hom gelei het.
“Ek is nie volmaak nie. Maar ek wil hê dat my lig só sal skyn dat ander mense Jesus in my lewe sal kan sien.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.