Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek loop weer – ek is ’n lewende wonderwerk’

Ek het ’n belofte aan God gemaak dat ek sal getuig as ek weer kan loop. Hier is my getuienis:


Voor 10 Oktober 2023 was ek ’n mens wat voluit geleef het. Ek was sportmal. Dis hoe ek grootgeword het en hoe ek my plek in die wêreld gevind het. Op skool het ek elke moontlike sport beoefen – swem, atletiek, netbal, tennis, fietsry, landloop. Ek was ’n trompoppie. Ek het nie bloot deelgeneem nie; ek het met my hele hart deel geword van elke span, elke aktiwiteit, elke kompetisie.

Nadat ek uit die skool is, het ek sport afgerig. Só het ek aktief deel gebly van netbal, atletiek en aksienetbal. Ek was voluit aan die gang, passievol, vasberade. Die adrenalien wat mededinging meebring, het sin aan my lewe gegee.

Geborg

Sport was wel nie my enigste passie nie; mense was nog altyd vir my belangrik. Ek het van altyd af ’n diep liefde vir mense gehad, en ’n begeerte om ’n verskil te maak waar ek ook al gekom het.

LEES OOK: ‘Ek droom altyd ek loop weer’

My grootste passie was egter my liefde vir die Here.

Toe alles verander het …

Toe kom 10 Oktober 2023. Daardie dag, ’n gewone Dinsdag, het alles verander. Ek het toe sopas ’n spierwit motorfiets gekoop, ’n 750 cc. Ek was trots op my fiets en voorbereid op alles: beskermende klere, voldoende rylesse. Alles was net reg. Ek was wel nog besig om genoeg selfvertroue op te bou wat enkele tegniese aspekte betref, dinge soos wegtrek en rem en tot stilstand kom.

Geborg

Toe tref die noodlot my: ’n klein en onbenullige motorfietsongeluk. Of so het dit aanvanklik gelyk.

Wat hierop gevolg het, het my liggaam, my gees en my geloof tot die uiterste toe beproef. Ek moes drie knieoperasies ondergaan. Ná die eerste een het ek sepsis opgedoen. Ek het vinnig verswak en ’n tweede operasie het gevolg. Ek het besef dat ek my been kon verloor. Ek is onder die indruk gebring dat die volgende operasie ’n noodoperasie is, maar daar het vyf dae verloop voordat ek teater toe is.

Ek het ál sieker geword. Ek was bang en bekommerd – en toe praat die Here hard en duidelik met my: “Wees stil en weet: Ek is God; Ek is verhewe onder die nasies, verhewe op die aarde” (Ps 46:11).

Uiteindelik het ek wakker geword met ’n uitwendige staalraam aan my been. Ek was letterlik vasgepen: 15 penne, van my heup tot by my enkel. Drie dokters het bevestig dat dit vreemd is dat daar geen teken van sepsis was toe hulle die operasiewond oopgemaak het nie. Dit was die eerste wonderwerk.

‘Hoe kan U dit gebruik, Here?’

Ek het die raam vier-en-’n-half maande lank gedra. Toe dit uiteindelik verwyder is, was my been styf en onbruikbaar. Dokter ná dokter het my onverrigtersake weggestuur. Die risiko om my weer te opereer was eenvoudig te groot.

Ek het in daardie tyd nie meer gevra “hoekom ek?” nie; eerder iets soos “hoe kan U dit tot u eer gebruik, Here?”

Geborg

Toe gebeur nog ’n wonderwerk: In Januarie 2025, terwyl ek in ’n klein kettingwinkel in Lambertsbaai staan, kom ’n dogtertjie van so vyf jaar oud na my toe en sy profeteer: “This too shall pass. You will soon walk again.”

Ek het geweet dis ’n boodskap wat reguit van God af gekom het. Dit was die keerpunt.

Kort daarna het ek ’n dokter besoek wat bereid was om die risiko te loop om my weer te opereer. Hy het gesê daar is slegs ’n 33%-kans op sukses. Maar ek het God se Woord gehad, en ek het geloof gehad.

Die operasie was ’n sukses.

Vandag, sewe weke ná die operasie, loop ek weer. Stadig maar seker bou ek my kragte op en, al is dit nog wankelrig, loop ek. Dit was iets wat, volgens talle dokters, nie moontlik sou wees nie.

My mosterdsaadjie-geloof

Die afgelope 18 maande was die moeilikste tyd in my lewe. Daar was trane, frustrasie, wanhoop. Maar ek het God ontmoet op ’n manier wat ek nooit voorheen ervaar het nie. Hy het my vasgehou, my gedra, my trane versamel. En Hy het my ashoop in iets moois verander.

Geborg

Ek moet dus getuig. Ek moet dit van die berge af uitroep: God is getrou! God is goed! Aan Hom alleen al die eer!

In dié tyd het ek geleer dat God se tyd nie my tyd is nie. Ek het maande lank vir ’n wonderwerk gebid. En gedink dit sal nooit gebeur nie. Maar God het my geleer dat daar ’n groeiproses moet plaasvind, in my en in ander. Dat Hy soms “nee” sê, en soms “nie nou nie”. En dat sy “nee” jou beskerm.

Ek dink dis een van die grootste sondes denkbaar om nie in God se almag en sy volmaakte wil te glo nie. Hy doen steeds wonderwerke, of ons dit wil glo of nie. Maar met my mosterdsaadjie-geloof weet ek: Ek is ’n lewende bewys van God se wonderwerke.

Ronell is ’n portefeuljebestuurder en weduwee van Kuilsrivier. Haar man is skielik in 2018 oorlede ná ’n bloedklont deur sy long. Sy het twee seuns Marcel (28) en Carlo (25).

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
LiG PROMOSIE | 23 NOV TOT 11 DES

KOOP 2,
KRY 1 GRATIS

Teken vir drie mense in op LiG, ons gedrukte tydskrif, en betaal net vir twee.

LiG Paasfees uitgaweLiG Winter uitgaweLiG Lente uitgawe

R696 R1 044
vir 3 jaarlikse intekeninge

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

Kyk nou ►