Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek droom altyd ek loop weer’

DEUR CONETTE LE ROUX

“Hoekom het jy my gered? Waarom het jy my nie maar laat gaan nie? Dan sou ek nie so ’n las vir jou en die seuns gewees het nie.”

Merenthia Cronje van Secunda sê wanneer die pyn haar kasty en haar emosies haar soms onderkry, en sy boonop sien hoe die hele situasie haar man oorweldig, vra sy dié donker vrae.

Afhanklik

Dis nou sowat agt maande sedert ’n glykabel- (oftewel “zipline”) ongeluk dié 32-jarige ma van drie sonder die gebruik van haar bene gelaat het.

“Ek het nie net die gebruik van my bene verloor nie,” vertel sy, “ek het ook soveel ander dinge verloor. Ek moes my daaglikse roetine wysig. Ek moes die manier waarop ek as vrou, ma en werkende mens gefunksioneer het drasties verander.”

Vroeër was sy ’n veiligheidskoördineerder by Sasol; tans verrig sy administratiewe take van die huis af.

LEES OOK: ‘Hoekom laat leef God my gestremde seun, en my gesonde kind sterf?’

Dis steeds vir haar ’n skok om elke dag te beleef hoe dié dinge wat sy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het – om  kos te maak, om te strek om iets van ’n kas af te haal, om haar bekende roetine in die badkamer te hê – eensklaps heel anders daar uitsien.

“Die heel grootste aanpassing is om ’n afhanklike te wees,” vertel sy.

Trauma

Merenthia en haar man Jaco (37) en hul drie jong seuns het op 26 Desember 2020 by Tsitsikamma Falls in die Oos-Kaap die glykabels aangedurf. Haar seuntjie Janco, wat aan haar vasgemaak was, het die trauma van naby beleef toe een van die kabels Merenthia getref en haar rugsenuwees afgesny het.

Die Cronje-gesin geniet hulle vakansie voor die ongeluk plaasgevind het. Foto verskaf

Merenthia vertel: “Sedertien bid Janco, een van ’n vyfjarige tweeling, elke aand: ‘Liewe Jesus, maak asseblief vir Mamma gesond, haar bene en haar kop.’

“Ek dink hy verwys na my kop,” sê sy ma, “omdat ek kort nadat die kabel my getref het my bewussyn verloor het en my kop toe agtertoe gekantel het. Hy onthou hoe Pappa vir Mamma geslaan het om by te kom. En hoe hy gehuil het en ek nie met hom gepraat het nie.”

Jaco het om hulp geroep nadat hy gesien het dat die kabel sy vrou getref het. Een van die werknemers by Tsitsikamma Falls het Merenthia gaan haal en na ’n platform gebring. Jaco en die seuntjies is ook van die glykabels gehaal. Volgens die nuuswebwerf Maroela Media het Jaco 15 minute lank probeer om Merenthia by te bring deur kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toe te pas, voordat ’n ander man by hom oorgeneem het.

Genadiglik het sy begin asemhaal. Dit het wel baie lank geduur voordat sy mediese hulp kon kry. Hulle moes sowat ’n uur en ’n half op die ambulans wag, en daarna het dit nog ’n uur en ’n half geduur voordat sy by die Plettenbergbaai MediClinic aangekom het.

Merenthia is in Maart vanjaar, nadat sy ook ’n tydperk in ’n rehabilitasiesentrum deurgebring het, in ’n rolstoel huis toe. Volgens haar dokter is daar nie ’n kans dat sy weer sal loop nie.

“In die hemel, maar …”

Nadat LiG onlangs ’n getuienis van die kwadrupleeg Juan Louis van der Vyver, wat wonderbaarlik weer begin loop het, op hulle Facebookblad met lesers gedeel het, het Merenthia die volgende kommentaar daar geplaas: “Ek bid dat ek ook dié wonderwerk sal kan ervaar. Ek weier om my omstandighede as parapleeg te aanvaar. Ek droom altyd ek loop, nooit (van my) met ’n rolstoel nie … Ek klou vas. En mag dit my laat aanhou glo en vertrou. Dankie, Here, vir wonderwerke soos dié.”

Oor haar onwrikbare geloof sê sy: “Ek vind nie in die Bybel ’n vers wat verwys na ‘jy sal met ’n rolstoel na My toe kom nie’. Ek lees van loop, stap, voete soos ’n ribbok … Hoe kan ek dan nié glo nie?

“Ek weet wel dat as ek hemel toe gaan my twee bene sal beweeg, maar ek het net té veel hoop om te aanvaar dat ek die res van my lewe op aarde van die rolstoel afhanklik sal wees. Dit kan nie!

“En terwyl ek vashou aan die mosterdsaadgeloof, doen ek vir ander wat ek kan. En ek koester veral my passie – diere.”

Dankbaarheid

Merenthia vertel hoe die Here se genade en die mense wat Hy in haar lewe geplaas het haar deur elke dag dra.

Net verlede jaar het haar skoonouers by hulle kom woon nadat haar skoonpa sy werk verloor het. Sy vertel: “Hulle help my besonder baie. Onder meer met die kinders se vervoer skool toe en terug, asook met saans se etes.”

Sy is ook baie dankbaar vir ’n goeie vriendin soos Annetjie van Rooyen. “En vir my sussie, Carmen Fourie. Annetjie besoek my gereeld – en sonder dat sy dit noodwendig agtergekom, laat sy my lag dat die trane loop! My sussie kom kuier ook gereeld en praat my moed in.

“Ek het ook baie spesiale mense in dié tyd leer ken, mense wat soortgelyke mediese probleme as ek het. Hulle bemoedig my, stuur Bybelverse, deel hul hartseer met my. Hulle getuig ook van wonderwerke.”

Merenthia se ma, Magda de Lange van die Oos-Kaap, stuur ook daagliks woorde van bemoediging of bel om haar dogter moed in te praat.

Merenthia vertel watter groot hulp haar drie seuntjies is – Janco (5), Dihan (5) en Luhandré (3). “Hulle moes baie vinnig grootword, selfstandig word. Hulle moet soveel meer vir hulleself doen as ander kinders van hul ouderdom. Dit maak my hartseer.

LEES OOK: ‘’n Winkelsentrum vol mense het vir mý kind gebid’

“Maar ek is bitter trots op hulle, én op die wyse waarop hulle my ondersteun. Hulle help om dinge aan te gee, hulle kyk of die winterkomberse my mooi toemaak, hulle help as ek my pille moet drink.

“Wow! Daar is niks wat meer opreg is as ’n kind se woorde en dade nie.”

Merenthia se boodskap aan ander wat voor groot struikelblokke te staan kom? “Rig jou oë op die berge. Praat met die Here. Doen wat jy kan vir jou medemens.

“Dis so verrykend om ander te help! En ek bid dat mense deur ons dade sal besef dat daar baie erger dinge in die wêreld is. Om te kla, los niks op nie. Moenie die duiwel ’n plek gee aan die tafel wat die Here vir jou voorberei het nie. Ons het sóveel om voor dankbaar te wees.

“Moet nooit ophou bid vir ’n wonderwerk nie. Dokters is ook net mense. Moenie opgee nie; hou aan glo. Leef dag ná dag, en sê ‘dankie, Here’ vir elke nuwe dag wat jou gegun word.”

  • Merenthia se sussie het ’n back-a-buddy-rekening, “Merenthia Cronje”, geskep wat met die mediese uitgawes moet help.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF