DEUR LINDY BUITENDACH
As kind het ek nie baie standvastigheid gehad nie – my ouers het baie verhuis weens werksgeleenthede. Nege skole later … Ek was soekend … Na aanvaarding en ’n plek om te behoort.
Ek het op die ouderdom van 16 begin werk as kelnerin. Ek was die jongste kelnerin – van my beste herinneringe was van daardie tyd. Maar ek het ook verkeerde besluite begin maak. Ek het gedrink, gerook en met dwelms geëksperimenteer.
Ek het ook my eerste man ontmoet, hy was een van die restaurante se gereelde klante. Ons was vier jaar saam voor ons getrou het. Ons het sewe sakke sout opgeëet voor ons geskei het. Ons het twee kinders uit die huwelik.
Verkeerde besluite het my gelei tot ’n buite-egtelike verhouding. Ek het aandag gekry by mans wat ek so angstig gesoek het. My huwelik was vinnig op die rotse. My besigheid het ook vinnig agteruit gegaan.
Ek het op my eie probeer oorleef, maar kon later nie meer my huur bekostig nie. Ek het met my kinders sak en pak by ’n vriendin ingetrek – ons drie in ’n klein kamertjie. Dit was ’n tydelik reëling tot ek op my eie voete kon staan.
Maar toe ontmoet ek ’n man. Hy was ’n sakeman en ’n goeie mens, maar ek het altyd gesê hy is Petrus in die Bybel, ’n rowwe diamant. Hy het aangebied dat ons by hom intrek. Ek het uit desperaatheid ingestem. Dit was nie lank nie, toe is ons in ’n verhouding – maar terselfdertyd was ek in nog \’n verhouding. Ek is nie trots daarop nie. Ek was vasgevang in twee wêrelde.
\’God het tot my redding gekom\’
God het tot my redding gekom. Hy het ’n vriendin oor my pad gestuur wat ek deur “Petrus” – soos ek hom genoem het – ontmoet het. Sy het my genooi om saam met haar ’n vroue-selgroep by te woon. Ek glo regtig God het my daardie dag aan die hand gevat en gelei.
Ek het die eerste aand by daardie groep getuig, gehuil en my skuld voor Jesus se voete gaan lê. Kort daarna by ’n vrouekonferensie het ek my hart vir Jesus gegee. Ek het radikaal tot bekering gekom. Dit was net ek en Jesus. Ek het weer waardig begin voel. God het my nie net gelos nie.
Ek het baie lesse geleer. Ek was eers in die woestyn – my kinders het by hulle pa gaan bly, en ek het ’n werk gekry en verhuis sonder my kinders. Ek is nie ’n alleen-mens nie, en my hart het ’n paar keer gebreek omdat ek aanvaarding op die verkeerde plekke gesoek het.
God wil jou fokus wees
Ek het vinnig geleer dat God my man wil wees om my te leer hoe ’n vrou moet wees en hoe ’n vrou behandel moet word. Genadiglik het ek ’n goeie salaris begin verdien, maar met al my uitgawes het ek steeds gesukkel.
Ek het op ’n stadium al my meubels verkoop om te oorleef en by my sussie gaan bly. In die verlede het ek ook al met my voertuig vol klere rondgery en blyplek gesoek, maar ten spyte daarvan, het ek altyd ’n warm bed gehad om in te slaap en kos om te eet.
Dit is moeilik as jy kinders het en geen standvastigheid nie. Ek het baie aande op my knieë gebly en gebid. Daar was tye dat ek kwaad was vir God. Hy het my getoets soos hy vir Job in die Bybel getoets het.
Maar niks kon my geloof breek nie – dit was al wat ek gehad het. God het my gebede beantwoord en my later geseën met my eie blyplek, naby my werk en naby my kinders.
Ek het begin met net ’n bank en ’n bed wat iemand vir my gesaai het. Daar was dae wat my koskaste so te sê leeg was, maar ek was nooit sonder iets om te eet nie. God het deur my vriendin vir my kos gestuur, brandstof in my voertuig gegooi en vir my hoop te gee.
My vriendin het eendag vir my ’n woord gegee dat ek moet ophou soek na ’n man en dat God iemand reeds vir my uitgesoek het. Ek was eers kwaad vir haar en vir God. Ek het gedink ek gaan vir ewig wag om weer gelukkig te wees.
Maar ek was gehoorsaam en het ophou soek en eerder gefokus daarop om te bid dat God vir my ’n Godvresende man sal stuur op sy tyd.
Ons verhouding is ’n getuienis van God se genade
En vandag is ek is só bly dat ek gekies het om na God te luister. Hy het al my gebede verhoor. Ek het my man ontmoet en is ’n jaar daarna getroud en geseën met ’n babadogtertjie. Hy aanvaar ook my kinders soos sy eie.
Ons verhouding is ’n getuienis van God se genade en van tweede kanse. God het vir ons meer kom terug gee as wat die vyand ooit van ons kon steel.
My pad deur die woestyn het vir my passie gegee vir vrouens en om ’n verskil in hulle lewens en huwelike te maak. Ek glo ek is geroep om as God se instrument my passie uit te leef en ander vrouens te bemoedig.
Lees nog getuienisse hier.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.