Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek voel bevoorreg dat God my hiervoor uitgekies het’ – juffrou van Calitzdorp speel vroedvrou tydens storm

’n Calitzdorp-onderwyseres wat noodgedwonge moes vroedvrou speel, ’n eiendomsagent van Rawsonville wat toegekyk het hoe hulle motor in die rivier afdryf en ’n amper-bruid wat nie haar laaste troureëlings kon afhandel nie.

Dit is net van die krisisse wat sedert die aanvang van die storms in die Wes-Kaap plaasgevind het. Volgens nuusberigte het die hewige storms veral sedert Maandag 11 Mei sterk winde, swaar reën en oorstromings tot gevolg gehad.

Op Calitzdorp in die Klein-Karoo het die hewige storms vroeër gewoed. Die vloedwaters van die Olifantsrivier het ’n stokkie voor enige nooddienste gesteek. Cornelle Meiring, ’n juffrou van die Hoërskool Calitzdorp, vertel inwoners op hulle plaas Uilkraal het haar Donderdag (7 Mei) gekontak omdat hulle vermoed het hulle dogter gaan in kraam gaan. “Ek het dadelik die polisie gebel wat my met Ladismith se ambulans-nooddienste in kontak gesit het. Hulle hoof het vir my telefonies verduidelik wat om te doen as die baba gebore word en om byvoorbeeld ’n sker en handskoene saam te neem. Sy het nog voorgestel ek moet google en na video’s kyk om te sien waarvoor ek myself inlaat … Maar dit was te laat omdat ek toe ’n dringende oproep van die ouma ontvang het om dadelik na hulle huis toe te kom. Toe ek daar kom het ek gesien hier is die dinge nou aan die gebeur.

“Toe die koppie uiteindelik uit is, was ek ’n bietjie rustiger omdat ek bang was dat dit nie gaan gebeur nie. Ek was toe baie versigtig met die knip en afbind van die naelstring. Daarna het ons maar die mamma en baba vertroetel en gemaklik gehou.

Gelukkig was die weer Vrydag (8 Mei) gunstig genoeg vir die helikopter om te vlieg. Volgens Cornelle het sy mamma Anneesha van Wyk en haar babadogtertjie net ’n entjie vervoer na waar die helikopter kon land.

LEES OOK: Pa vertel van wonderwerk: ‘Jesus se bloed het my seun teen ’n 308-patroon beskerm’

“Ek is net dankbaar alles het glad verloop. Die Here het my baie rustig gehou en ek is baie dankbaar daarvoor. Ek het dit maar net minuut vir minuut gevat. Ek het net weer bewus geraak hoe kosbaar die lewe is. En dat die Here ’n plan met ons lewe het en ons elkeen kan gebruik soos hy goeddink. Hy het my gebruik om hierdie mamma en baba te help.

Ek voel baie bevoorreg dat ek daarvoor uitgekies is. Ek is dankbaar ek kon haar rustig hou,” het Cornelle vertel.

Cornelle en haar man Jaco boer al 30 jaar op hulle plaas. Sy vertel hulle het 18 jaar gelede, ná ’n ontmoeting met die Here, Bethesda Bedieningsentrum op hulle plaas geplant. Hier verkondig hulle die Woord en help hulle mense om deur die Heilige Gees innerlike genesing te kry. “Al die eer kom God toe. Hierdie baba is gebore in ’n huis regoor die sentrum. Dit bring nuwe hoop wat ons net in Christus kan vind.

Amper-bruid Kaylie Honicke en haar verloofde Luc van der Westhuizen is die afgelope week deur spreekwoordelike diep waters. Die verloofdes trou komende naweek naby Gansbaai en was vandeesweek vasgekeer op ’n plaas by De Doorns waar Luc werk.

Die ontoeganklike paaie na die hewige storms het Kaylie verhoed om vir haar laaste pas vir haar trourok in Durbanville te gaan. Sy kon ook nie haar naelafspraak daar nakom nie. En boonop is een van haar strooimeisies op hulle plaas vasgekeer nadat ’n brug weggespoel het. “Ek is baie gespanne oor die situasie, maar Luc hou my kalm. En almal wat ons ken bid vir ons. Baie mense moet eintlik al Vrydag by ons venue wees omdat dit ’n naweektroue is, so almal bid dat die paaie sal oopmaak!”

Teen druktyd het Kaylie dankbaar laat weet dat die N1 vandag (14 Mei) oop is en dat sy op pad is om haar trourok aan te pas.

Nieta Cupido, ’n 38-jarige ma van vyf kinders van Rawsonville, moes toekyk hoe hulle gesinsmotor, sowel as ’n groot gedeelte van hulle huis, op 12 Mei in die Breërivier afgespoel het. “Ek is baie hartseer, maar ek moet sterk bly vir my kinders,” het Nieta via WhatsApp vertel. Hulle huis was op die oewer van die rivier gebou. Sy vertel verder: “Ons kon net ons yskas, een kas en ons bed red.”

Sy het verduidelik dat hulle tans in iemand se stoor woon, maar hulle weet ongelukkig nog nie wat die toekoms gaan inhou nie. Nieta sê God se genade is in hierdie moeilike tyd genoeg.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF