Ons lees in 2 Konings 6:1-7 van die profeet Elisa wat ’n ander profeet te hulp gesnel het. Laasgenoemde het ’n byl by iemand geleen, en toe beland dié byl in die water. Die man was baie ontsteld en het dadelik Elisa se hulp ingeroep.
Elisa het hom gevra waar die byl ingeval het, en toe gooi Elisa ’n stukkie hout in die water. Onmiddellik het die byl na die oppervlak gekom en die dankbare man kon die geleende byl gaan uithaal.
Die verhaal van dié wonderwerk maal deesdae in my gedagtes – en nie noodwendig omdat dit so indrukwekkend was nie, inteendeel. Ek dink gereeld daaraan juis omdat dit so eenvoudig was. Niemand se lewe is daardeur gered nie. Niemand is genees nie. Geen bekering het daarop gevolg nie. Daar was nie sprake van ’n soort oorwinning nie.
Waarom het die Here Hom met hierdie ou sakie bemoei? Was daar nie, met respek gesê, groter dinge wat op daardie tydstip sy aandag gevra het nie?
LEES OOK: Is ek te besig of te belangrik om te rus?
Omdat Hy omgee
Die antwoord hierop moet in God se hart gesoek word: Hy gee om. Daarom dink ek dié verhaaltjie leer ons iets van God se soort betrokkenheid by sy kinders se lewe. Daardie beangste man se probleem het toe ook sy Here se probleem geword. Hy het in dié man se angs gedeel.
En dit onderstreep een van daardie waarhede wat moeilik gesluk word, vreemd genoeg ook deur die Here se kinders: Hy is by sy kinders betrokke omdat Hy betrokke wíl wees. Selfs tot in die fynste besonderhede van hul lewe.
Daarom gee Hy om vir sy jong kind wat ’n toets skryf of in ’n wedstryd speel. Daarom bemoei Hy Hom met my werkonderhoud en my voorlegging. Daarom is Hy teenwoordig by my belangrike afspraak met ’n vriendin.
Só leer die Woord ons
Ons hoef nie ver te soek of diep te delf om Bybelse bewyse te vind vir dié soort intieme betrokkenheid nie. Hy was immers by die weggooikind wat as ’n slaaf verkoop is en in Egipte beland het; Hy was by die visserman wat deur die nag probeer het om iets te vang ten einde sy gesin te voed; Hy was by die mens wat nie juis voor ander mense kon praat nie, en by dié wat siek en honger en haweloos was.
Tot vandag toe is dit sy plek: by sy kinders, langs hulle, teenaan hulle. Daarom hoef hulle nie na Hom te soek nie, of te wonder waar Hy is, of te kla dat hul gebede nie verder as die plafon gaan nie.
Te midde van die lewe se groot én klein uitdagings leer Hy ons hoe om in afhanklikheid van Hom te leef. Ons leer dat Hy na ons noodkrete luister wanneer niemand anders dink ons of ons nood is belangrik genoeg nie.
Hier is wel ’n waarskuwing waarna ons gerus kan luister. In koning Asa van Juda se tyd het die siener Ganani die vors getroos: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou …” (2 Kron 16:9). Die koning wou dit egter nie glo of verstaan nie, en daardie troos is van hom af weggeneem.
Hoe bitter jammer is dit wanneer die Here se kinders nie wil glo dat Hy tot in die fynste besonderhede by hulle betrokke is nie! Hoeveel keer het ons nie al dié wonderlike troos deur ons vingers laat glip nie?
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.