Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Gedeelde smart …

Mosselbaai het ’n besonder moeilike winter beleef. Dit het swaar gereën, dit was bibber-koud. Die eerste keer in ’n baie lang tyd het ons huis se dak gelek.

Ek het ’n kolletjie op ons mat gesien en my refleksreaksie was, soos die meeste mense s’n, om my vinger daaroor te vryf om te bevestig dat dit inderdaad nattigheid is. Daarna het ek aan my vinger geruik. Ek weet nie wat ek verwag het om te ruik nie, maar ek het kinders. ’n Mens weet nooit …

LEES OOK: God is wakker

Die afwesigheid van ’n skerp reuk het bevestig dat dit water is. Reënwater. Uit die dak. Ek het ’n groot plastiekbak gaan haal en gehoor hoe dit drup, drup, drup. Hier wag werk, het ek geweet. En, mismoedig, het ek my man gaan vertel.

Hy het net sy kop geskud. Waar sou dié lek dan nou vandaan kom? Ons het heel onlangs die dak laat verf en verseël. 

So ’n rukkie later sien ek op sosiale media hoe iemand kla dat hul dak lek ná die swaar reën. Onder dié opmerking het tientalle mense kommentaar gelewer en gesê dat ook húl dak lek. Ek lees die hele gesprek vir my man voor – en gaandeweg voel ons al twee so ’n bietjie beter. Ons is dus nie alleen nie … 

Gedeelde smart is halwe smart

Dis nie dat ek my in ander mense se swaarkry verlekker nie, maar die feit dat ek nie alleen is nie en dat ander mense ook beleef wat ek beleef, maak alles ’n bietjie draagliker. Dis asof ons almal, bekend en onbekend, in dieselfde span speel, verenig teen die terugslae. 

En ek dink: Dis inderdaad een van die mees bemoedigende waarhede van die Christendom. Jesus het mens geword en onder ons kom woon. Hy het deurgemaak wat ons deurmaak. Hy was ’n baba, en Hy het grootgeword. Hy moes ook slaap, Hy het ook moeg geword, Hy moes ook rus. Hoor hoe skryf Johannes: “Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit” (Joh 4:6).

Hy moes eet, Hy het geweet hoe dit is om honger te wees. Ons lees hoe Hy kwaad geword en kansvatters uit die tempel verjaag het.

Hy was bang, vertel die Evangelieskrywers. “Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword” (Mark 14:33).

Hy het mense liefgehad. Hy het medelye met hulle gehad, sê Matteus. “Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie” (Matt 9:36). 

Hy is verneder, skryf Paulus. “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Fil 2:6-7).

Hy het pyn beleef, Hy het gebloei toe Hy aan die kruis gehang het.

Ja, die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Hy het hier geleef, en beleef wat dit is om mens te wees in ’n gebroke wêreld. Ons hoef nooit alleen te voel nie. Jesus was volledig mens. Hy verstaan alles van menswees.

Daarom nooi Hy ons uit om ons seer en swaar met Hom te deel: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Matt 11:28-30).  

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF