Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Geestelike gawes: Ek en my huis sal die Here dien

Die Heilige Gees skenk aan gelowiges geestelike gawes waarmee ons ander mense kan seën. Ons ontvang hierdie gawes – oftewel geskenke – sodat ons dit kan weggee. Gesinne wat hul gawes ontdek het en dit verstaan, kan die Here en hul medemens met vreugde dien.

Die meeste ouers wil graag hul kinders help om hul natuurlike talente te ontwik­kel sodat hulle hul volle potensiaal kan verwesenlik. Een van die lekkerste dinge wat ouers kán beleef, is wanneer hulle toekyk hoe hul kinders daardie talente ontdek, ontwikkel, uitleef en geniet.

Op dieselfde manier kan ouers ook hul kinders help om hul geestelike gawes te ontdek en te verstaan, om sodoende hul roeping in God se koninkryk uit te leef.

Maar wat presies is geestelike gawes?

Dis daardie genadegawes wat ons help om ons plek in die liggaam van Christus in te neem. Dis aan ons geskenk met die oog op die uitleef van ons roeping.

Anders as talente, is geestelike gawes nie oorgeërf nie. En dis nie afhanklik van goeie afrigting of opvoeding of ’n gunstige omgewing nie. Dis nie iets waarvoor ons werk of wat ons ontvang wanneer ons op die regte manier bid nie. Dit hou ook nie verband met ons ouderdom of intelligensie nie.

Nee, die Heilige Gees deel hierdie gawes uit soos Hy dit goed dink. Hy rus ons daarmee toe om veel meer in God se koninkryk te doen as waartoe ons deur menslike krag in staat is.

‘Dit gee lewe, dis lekker’

Christene Marais van Wellington bied ’n kursus aan waarmee sy gelowiges help om hul roeping en geestelike gawes te ontdek. Sy noem dié kursus Leef jou Doel.

Christene verduidelik: “Eintlik het God die Vader, deur sy Gees, hierdie genadegawes in ons gedeponeer. Dis nie iets wat ons besit nie, maar iets wat deur ons vloei. Gelowiges moet beskik­baar en gewillig wees dat die Heilige Gees deur ons werk.

“Hierdie gawes hou ten nouste verband met ons roeping, ons doel in die lewe. Dis trouens waar ons lewe lê. Dis ook dít wat aan ons én aan ander lewe en energie gee.

“Ons gawes help ons om binne die wil van God te leef. Dit hou ons veilig. Ons sal vind dat hierdie gawes iets is wat maklik en natuurlik na vore kom. Dis iets waarin ons uitblink en wat vir ons lekker is.”

Wat sê die Bybel oor geestelike gawes?

Paulus verduidelik in sy brief aan die Korin­tiërs dat die kerk soos ’n mens se liggaam funksioneer. Ons het mekaar nodig, én mekaar se gawes. Alleen sal ons nie die mas opkom nie.

Ons gawes help die groter geloofsge­meenskap. Ons mag dit dus nie bloot vir eie gewin gebruik nie. Ons gawes moet die klem op God se grootheid lê, dit moet oor sy genade getuig. In 1 Korintiërs 13 leer Paulus ons dat ons gawes niks werd is as ons nie liefde het nie.

Daar word dikwels in die Nuwe Testa­ment van hierdie gawes melding gemaak. (Lees gerus Rom 12:6-8; 1 Kor 12:6-10, 28- 30; Ef 4:11; 1 Pet 4:10-11 om meer hieroor te leer.)

Dr Danny Huerta, ’n kundige by Focus on the Family, verdeel hierdie geestelike gawes in vier kategorieë om te wys hoe hulle moontlik binne God se koninkryk aangewend kan word:

  1. Die Here kan profete, evangeliste, apostels, herders en leraars gebruik om mense met die evangelie te bereik. Hier­voor gebruik Hy ook diegene wat die gawe ontvang het om in tale te praat of dit uit te lê.
  2. Gelowiges wat die gawe ontvang het om ander te bemoedig, op te beur, te dien, materiële ondersteuning te gee, gasvry te wees of te genees, kan dit gebruik om ’n helpende hand na ander te reik.
  3. Sommige mense is geseën met eien­skappe soos kennis, leierskap, praktiese vaardighede of die gawe om onderrig te gee. Dit is goud werd in ’n gemeente of onderneming waar goeie leiding, praktiese aanleg en onderrig nodig is om die aktiwiteite en die administrasie te laat vlot.
  4. Daar is gelowiges wat geseën is met ’n besondere geloof, met sensitiwiteit, onderskeidingsvermoë, geesdrif vir voorbidding en geestelike wysheid. Hiermee kan hulle ander ondersteun en begelei om God se stem in hul lewe te hoor en te verstaan.

Natuurlik word die uitleef van ons gawes nie tot sekere kategorieë, plekke en situ­asies beperk nie. Gelowiges kan op baie verskillende maniere die Here met al hier­die verskillende gawes dien. Die genoem­de gawes funksioneer ook nie onafhanklik van mekaar nie.

Die Here se kinders sal egter vind dat bepaalde aktiwiteite in hul dienslewering vir hulle makliker en meer natuurlik kom. En dat die Heilige Gees hulle spesifiek met daardie gawes toegerus het.

Ons kinders se geestelike gawes

Die Heilige Gees gee sy gawes aan alle gelowiges, oud en jonk. Ons kinders kan dus van kleins af geleer word dat hulle geroep is om ’n wonderlike en ’n unieke bydrae tot die kerk en hul geloofsgemeen­skap te maak.

Hieroor sê Christene: “Indien ouers hul kinders wil lei om hul roeping en hul gawes te ontdek, moet hulle eers self ’n goeie begrip van hul eie roeping en gawes hê. Kinders wat hul gawes verstaan, kan hul onderlinge verskille omhels, in plaas daarvan om dit wat hulle nie het of nie kan doen nie as ’n tekortkoming te beskou.

“Wanneer kinders verstaan dat hulle elkeen bepaalde genadegawes ontvang het ten einde lewe aan hulleself en ook aan ander te skenk, gee dit hulle die vry­moedigheid om hul roeping met oorgawe uit te leef.”

Ouers wat graag hul kinders wil help met die ontdekking van hul roeping en die ontwikkeling van hul gawes kan gerus die volgende oorweeg:

  • Gesels met hulle oor die verskillende geestelike gawes. Lees gepaste Skrifgedeeltes saam met hulle. En bid saam oor elkeen se gawes en roeping. Kinders moet weet en verstaan dat ons almal ’n bydrae kan maak. Leer jou kinders dat ons dit nooit in eie krag hoef te doen nie, maar biddend afhanklik voor God moet lewe.
  • Gee jou kinders die geleentheid om by dienswerk betrokke te wees. Jy sal gou agterkom of hulle byvoorbeeld graag die leiding neem, of deel van ’n span wil wees. Of hulle ander wil bemoedig en namens ander wil intree. En of hulle hul geld en besittings met ander wil deel.
  • Gee positiewe terugvoer. Erken die bydrae wat jou kinders, en ander gelowiges, tot die geloofsgemeenskap maak. Gesels met hulle oor die erva-rings wat vir hulle lekker was, asook dié wat vir hulle moeiliker was.
  • Stel self ’n positiewe voorbeeld. Praat met hulle oor jou eie gawes. En verduidelik hoe jy dit alles gebruik om ’n verskil te maak.

Ontdek jou gawes

Raadpleeg gerus die volgende bronne om meer te leer oor die verskillende geestelike gawes:

www.focusonthefamily.com/parent­ing/take-this-spiritual-gifts-test-with-your-family

www.giftstest.com bied ’n aanlyn vraelys wat elkeen in die gesin kan voltooi.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►