Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

God bevry ons van ons vrese vir dit wat ons kan sien

My oudste seuntjie is in graad 1. Vandat hy begin lees het, lees hy eenvoudig alles – die woorde op ’n advertensiebord, ’n winkel se naam, alles op ’n voubiljet, die inligting op melkbottels en op die papboks. Hy ontsyfer padtekens, verwonder hom aan sporttellings, ondersoek al die etikette op sy klere, en hy is baie geïnteresseerd in alles wat op ’n rekening en ’n strokie gedruk is.

Letters en syfers wat tot redelik onlangs vir hom geen betekenis gehad het nie, beteken nou die wêreld vir hom, en hy kyk met verwondering daarna.

Ja, daar het ’n hele nuwe wêreld voor my kind ontvou. Dis nie dat hierdie wêreld nie voorheen bestaan het nie; dit was nog altyd daar, sigbaar vir almal wat kan lees. Maar sy oë het nou daarvoor oopgegaan.  

LEES OOK: Gaan staan vol vertroue voor jou reus

Dié nuutgevonde entoesiasme is vir die jonger boetie een groot frustrasie. Hy het geen idee waarvan sy boetie praat nie en hy deel hoegenaamd nie in al die opwinding nie. Alhoewel hy ook kan sien wat sy ouboet sien, verstaan hy nie dié “nuwe” wêreld nie omdat hy nog nie daaraan deel kan hê nie.

Soos dit dikwels gebeur, laat my kinders se dinge my aan ’n lewenswaarheid dink. En in dié geval aan ’n gesprek tussen die profeet Elisa en sy slaaf. Die koning van die Arameërs het perde en strydwaens en ’n sterk mag gestuur om Elisa in Dotan te omring en uiteindelik gevangene te neem. In 2 Konings 6:15-17 lees ons: “Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy ’n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. ‘Ag, Meneer!’ sê die slaaf vir Elisa, ‘wat gaan ons nou maak?’ Hy het geantwoord: ‘Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.’ Elisa het gebid: ‘Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.’ Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.”

Hoe dikwels tree ons nie ook op soos Elisa se slaaf nie! Ons word bang want ons kan nie alles sien wat by en om ons aan die gebeur is nie. Ons insig is eenvoudig te beperk. Trouens, daar is ’n heel ander wêreld by en om ons wat ons nie kan sien nie. En God is ook daar in beheer.

Ons weet nie altyd wat en hoe om hieroor te dink nie omdat ons nie oor al die inligting beskik nie. Ons kan, soos my jongste, as ’t ware nie die situasie lees nie.

Dit is waarom Paulus sê ons kyk nou in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld. En waarom Jesus vra: “Julle wat oë het, sien julle dan nie?”

Wat staan ons te doen? Ons kan soos Elisa se slaaf in vrees leef vir dit wat ons wel kan sien. Ons kan die bietjie inligting tot ons beskikking interpreteer deur die beperkte lens van ons gebrekkige perspektief. Ons kan bang word vir ’n situasie wat oorweldigend is of hopeloos lyk. Ons kan benoud word vanweë ’n onseker toekoms. Ons kan die vyand vrees wat ons vervolg. En ons kan toelaat dat al ons vrae onophoudelik deur ons kop bly maal.

Óf ons kan vertrou op dit wat ons nie kan sien nie – omdat God ook dáár is. Ons kan bly glo omdat Hy in beheer is. Ons kan onsself gereeld daaraan herinner dat ons visie en begrip beperk is, maar dat ons kan rus in die God wat meer is as dit wat ons so jaag.

Wat jaag jou? Wat skuil op jou voorstoep wat jou so bang maak? Wat is dit wat voel of dit jou gaan oorweldig?

Rig jou hart dan op dit wat jy nie kan sien nie. Want dit wat ons nie kan sien nie, is heel dikwels veel belangriker as dit wat ons wel kan sien. Hou jou oë op God wat in beheer van die sigbare én die onsigbare is. Hy word nie deur ’n dowwe spieël afgeskrik of geïntimideer nie. Inteendeel. Want in die Naam van die Onsienlike kan nóg die sigbare nóg die onsigbare ons bedreig.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF