Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Vrou oor haar reis as treurende moeder: ‘Ek besef nou dat ek die Here nodig het as ek gesond wil word’

Vyf jaar en agt maande ná haar 18-jarige seun Michael se dood worstel Linda Brauckmann-Saayman steeds met die vraag waarom die Here hom weggeneem het. Haar genesingsproses het maar onlangs begin, by die kruis wat by die ongelukstoneel vir hom opgerig is.

Ek het deur die jare heen etlike “titels” gedra: ’n jong, geskeide ma met ’n klein seuntjie; ’n weduwee met twee seuntjies; ’n gelukkig getroude vrou in ’n derde huwelik met twee seuns. Maar die afgelope vyf jaar en agt maande is die ergste een ooit bygevoeg, dié van ’n treurende moeder van ’n 18-jarige seun.

My twee pragtige seuns

Ek is op 19 getroud, en my oudste seun Tristian is gebore. Ons is egter geskei weens my man se ontrouheid. Dit was ’n moeilike tyd.

Later is ek met Ferdi Brauckmann getroud, en my tweede seun Michael is gebore. Ferdi het 18 maande later in ’n motorongeluk gesterf.

In Oktober 2004 het my lewe weer eens verander toe ek my sielsgenoot Danie ontmoet het. Ons is ses jaar later getroud.

Mense wat nie my storie ken nie sou nooit kon raai dat Danie nie my seuns se biologiese pa is nie. Die seuns het vir ons albei soveel vreugde gebring.

Ek kon die Here elke dag dank vir my twee pragtige seuns. Hulle het diep spore in baie mense se lewe getrap. Hulle het goeie maniere gehad, was hardwerkend en betroubaar, en albei was hoofleiers in Laerskool Dagbreek. Toe ook leiers by Hoër Volkskool Potchefstroom. Hulle was sportief en het gepresteer. Hulle was alles wat ’n ouerhart kon begeer.

Die ergste ding wat kon gebeur

Maar op 4 Desember 2020 het ons lewe soos handomkeer verander. Michael het saam met vriende gaan kamp, en een van sy maats het ons gekontak en gesê: “Tannie, daar was ’n ongeluk en Boeta het baie seergekry.”

LEES OOK: Ma word wakker met geheueverlies: ‘Al wat ek geweet het, is dat my kind dood is’

Ek het dadelik vir my man gesê ek het ’n nare gevoel dat iets ernstigs verkeerd is.

Ons kon tot by die ongelukstoneel naby Rietspruitdam buite Ventersdorp gaan. Dit was ’n voorreg om saam met Michael in die ambulans te kon ry. My hart het gebreek toe ek al sy beserings sien, en ek het geweet dat net die Here hom kon red.

Ek het Hom gesmeek om my kind te spaar. Ek het sonder ophou gebid, en ek het Michael probeer verseker dat ek by hom is, en dat sy pappie agter die ambulans aan ry.

Medies gesproke was Michael binne minute ná die ongeluk reeds breindood. Maar die Here is groter as die mens. Ek was te bang om aan Michael te raak en het die paramedikus gevra of ek dit tog kon doen. Sy het gesê dis reg so.

Daarop het ek Michael se regterarm styf vasgehou en met hom gepraat, hom van ons liefde verseker. En ek het gebid. Skielik was Michael se regterarm die ene hoendervleis.

Ek glo met my hele hart dat die Here daar vir my ’n teken gegee het dat Michael bewus was van my teenwoordigheid.

Hoekom, Here?

Op 5 Desember het hy gesterf.

Ek sal nooit weer dieselfde mens wees nie. Ek leef elke dag met die pyn van ’n gebreekte rib. Ek het my vertroue in mense en in myself verloor. Daar was woede, haat, selfverwyt en depressie. My geloof het daaronder gely. 

Hoe kon God toelaat dat ’n begaafde jong man soos Michael sterf? Daar was vier ander jong mense – hoekom hý? Michael het soveel planne gehad, soveel drome vir sy toekoms. Hoekom, Here?

Ons gesin het toe uit slegs drie mense bestaan. Daar was skielik een leë stoel. Die foto’s was net nie meer dieselfde as voorheen nie. Ek het gevoel dat iets in my saam met my kind gesterf het. Ons het soos robotte geword, ons het ons oorwerk, net aangehou en aangehou. Enigiets, net om nie te dink of te voel nie.

Ek het groot respek vir ’n nar ontwikkel. Dié verf elke dag sy gesig sodat die wêreld dit kan sien, en saans, wanneer hy alleen is, was hy alles af.

Ek het emosies beleef wat ek nooit eens geweet het bestaan nie. En al die dinge wat mense vir my gesê het, wou my laat skree. Hoe kán hulle sê “jy het darem nog een kind oor”? En: “God kom pluk die mooiste blommetjies.” En: “Ek bid gedurig vir jou; hoe gaan dit?”

Toe ek die kerk die nodigste gehad het, was dit baie ver van my af. Ek het besluit dat as dit die manier is waarop Christene optree, ek nie een wil wees nie.

Ek het ál verder en verder van die Here af weggedryf.

Drie tree vorentoe, maar …

In 2024 het ons oudste seun Tristian Australië toe verhuis en daar gaan werk. My moederhart het hom dit gegun; elke ouer wil tog net die beste vir ’n kind hê.

Ongelukkig het dié verhuising ’n erge leënessindroom by my ontketen en dit het my rouproses soveel moeiliker gemaak. Dit het vir my gevoel asof ek drie tree vorentoe beweeg … en skielik weer tien tree terug.

Ek verstaan steeds nie God se plan nie, ek weet nie waarom Michael moes sterf nie. En as ek ’n keuse gehad het, sou ek telkens gekies het, ’n miljoen keer oor en oor, dat Michael moes leef.

Maar die Here was geduldig met my. As ek nou oor alles terugdink, weet ek Hy was altyd daar. Dat Hy my vroeg reeds begin voorberei het vir die pad wat ek moes loop. In Desember 2005, toe Michael maar drie jaar oud was en byna verdrink het, het God my gebede verhoor en hom nog 15 jaar aan ons geleen.

Ek moes “beter” word

In April 2025 het ek gehoor hoe die Here aan my sê dat ek mini-vrugtekoekies moet begin bak, dat dit my met my genesingsproses sou help. Ek was geskok; ek eet nie eens vrugtekoek nie! Buitendien het ek ná my groot verlies opgehou bak. Ek het gedink ek hoor verkeerd. 

Op 18 Mei 2025 het ek vir die eerste keer vrede in my hart ervaar. Dit was aan die voet van die kruis wat op die ongelukstoneel vir Michael opgerig is. Daardie bewolkte oggend het die Here ’n helder sonstraal oor Michael se foto en die kruis laat skyn. Ek het ’n stroompie gehoor, en beleef hoe die Here Psalm 23 aan my voorlees.

Eensklaps het ek ’n staaltjie onthou wat Michael se kosbare koshuisvriend Biela vertel het. Hy het gesê hy en Boeta (my seun se bynaam in die koshuis) het een aand gesels oor waarheen hulle gaan as hulle sterf. Michael het met sekerheid geantwoord dat hy hemel toe gaan.

Al die getuienisse wat ons ná Michael se afsterwe ontvang het, ook van onbekendes, het ons geïnspireer.

Ek het besef dat ek die Here nodig het as ek wou gesond word, dat ek gehoorsaam moes wees. Ek moes “beter” word – vir myself, en vir my wonderlike man en seun. Dit is ook wat Michael sou wou hê.

In Mei 2025 het ek my klein onderneming, KekkelenKlets Hemelse Handewerk, van stapel gestuur. Ek het my skoonma se geheime resep gebruik om te begin bak. Ek het baie gehuil en dikwels moed opgegee, maar dan gebid en vasgebyt totdat ek my eie wenresep ontwikkel het.

Proe die smart, maar ook die mooi

Dis moeilik om al die balle gelyktydig in die lug te hou – ’n voltydse werk, ’n huishouding, en ure voor die oond. Dit duur ongeveer vyf ure om ’n baksel met 30 mini-vrugtekoekies te voltooi. Ek gebruik slegs goeiegehalte bestanddele, want elke mens verdien net die beste. Terwyl ek die mengsel voorberei, praat ek met die Here oor alles wat ek voel en beleef. En die baktyd is my gebedstyd.

My doel met elke vrugtekoekie is dat mense die mooi in hulleself moet ervaar. Ek bedek nie die vrugtekoekies met marsepein nie. Hiermee wil ek sê: Proe die smart, maar ook die mooi in die lewe. Moenie moed verloor nie. Hou vas aan God. Hy is groot, en gebed is kragtig.

Ná meer as ’n jaar het my onderneming begin uitbrei. My ouers help my tans hiermee, en dit help so baie.

Ek wil aan elke treurende ouer net dit sê: Maak die Here jou rots. Leef die lewe ter wille van jou eggenoot en jou ander kind of kinders, en skep nuwe herinneringe. Jou engelkind sal altyd in jou hart wees.

Ek wil hê mý engelkind moet na my kyk, hy moet glimlag en trots wees op my.

Mag Romeine 8:28 jou troos: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Dié vers is in Michael se Bybel gemerk.

  • Linda is 47 jaar oud en woon in Carletonville.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►