Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek is nie dood nie; God het my ’n tweede kans gegee’ – vrou 20 jaar ná wrede aanval

Karen Vorster is nou 52 jaar oud. Twintig jaar gelede is sy naby haar huis in die Bela-Bela-omgewing wreedaardig aangerand en verkrag. Al was dit ’n sware tyd vir haar en haar gesin, het sy besluit om haar aanvaller onvoorwaardelik te vergewe. Hier is haar verhaal.

Karen dink terug aan die dag toe haar en haar gesin se lewe soos handomkeer verander het: “Daardie oggend het soos alle oggende ontvou, met Bela-Bela se rooi son in die agtergrond. Ons gesin het, soos elke oggend, saam gebid vir beskerming vir ons en ons mense.

“Later, by die werk, het ek ’n boodskap van die skool ontvang dat my dogter Marinda (nou 33) olik was. Ek het haar en haar broer Dian (nou 35) gaan oplaai en huis toe geneem. Ons het in daardie stadium op ’n plot gebly.”

Daarna het Karen die bekende paadjie teruggery dorp toe, soos sy dit reeds jare lank gedoen het. Sy het ’n onbekende voetganger gewaar wat uit die bosse nadergekom het. Daarop het sy stadiger gery om te hoor of hy dalk hulp nodig het.

Maar toe sy in die man se oë kyk, het sy dadelik geweet sy is in die moeilikheid. “Ek het probeer wegkom, maar my motor wou nie aanskakel nie. Die man wou in die kar kom en ek het ’n polisievriend probeer bel. Die booswig het die foon by my gegryp.”

Terwyl hy haar die bosse ingesleep het, het sy deurentyd by hom vir haar lewe gepleit. Hulle was slegs sowat 300 meter van die huis af.

Karen het besluit om, ter wille van oorlewing, nie terug te baklei nie. Hy was baie groter en sterker as sy. “Hy het ’n mes uitgepluk en dit het gevoel asof my hele lewe voor my verbyflits. Ek het besef wat hy wou hê en was nie teen hom opgewasse nie.”

LEES OOK: ‘Die Here het my met sy vlerke bedek’ – vrou wag vir doodskoot tydens aanval

In ’n stadium het sy op haar hond Lucky geroep, maar die wind het verkeerd gewaai en Lucky sou haar nie hoor nie.

“Ek het tydens die aanval op God gefokus, en op die natuur om my. Ek was nie ’n slagoffer nie, maar ’n kind van God.”

‘My pa se stem’

Ná die aanval het Karen haarself gesien waar sy op die grond lê met ’n groot klip agter haar kop. Sy het haar oorlede pa se stem gehoor, wat haar verseker het dat sy nie dood is nie.

Sy het stadig op haar voete gekom en besef dat haar aanvaller weg is. Sy kon egter skaars sien as gevolg van die beserings aan haar oë. Te midde van die ontsettende pyn het sy teen die pad gaan staan in die hoop dat iemand sou stop.

Sy vertel: “Ek kon hoor hoe die motors by my verbyry. Soms wil mense net nie betrokke raak nie …

“Ek vermoed ook dat ek baie sleg gelyk het. Ek het toe omgedraai en, terwyl ek skaars voor my kon sien, die entjie huis toe gestap. Ek het doelbewus die toneel van die aanranding vermy; ek was bang dat my aanvaller steeds daar naby kon wees. 

“My voete was baie seer van die dorings en etlike snye. Dit het gevoel asof die grondpad huis toe nie ’n einde gehad het nie. My hart het baie vinnig geklop, en my ore en my neus het erg gebloei. Ek het deurentyd gebid dat God my tot by my huis sou neem.

“Toe ek uiteindelik die huis bereik, het ek my bewussyn verloor.”

‘Hoe gaan ek dit verwerk?’

Karen se eerste gewaarwording was dié van haar dogtertjie se hand wat aan haar vasgehou het. Haar man Thinus was binne minute by haar, met die nuus dat die aanvaller doodgeskiet is. Dit het ’n effense verligting gebring.

“Daar waar ek veilig in my man (nou 57) se arms was, het ek hom gevra hoe ek hierdie aaklige ondervinding gaan verwerk. Ons het saam gehuil.”

Op die dag van die aanval het ’n joernalis van die plaaslike koerant by hulle aangekom. Karen het, ten spyte van haar pyn en hoe sy gelyk het, haar storie vertel. Sy wou die koerant se lesers bedag maak op wat alles kan gebeur. Later het sy wel gewonder hoe die dorp se mense daarop sou reageer, en hoe hulle haar voortaan sou beskou.

Toe sy die volgende oggend wakker word, het sy besef dat die vorige dag se gebeure nie ’n nagmerrie was nie. Die verdowende medikasie het sy uitwerking verloor en die wrede werklikheid het haar getref. Sy het hard begin huil, waarna haar skoonma haar vertroos het.

Karen vertel: “Daar het forensiese ondersoeke voorgelê waarvoor ek glad nie kans gesien het nie. My beste vriendin Kathy Veldthuizen was deurentyd by my om my te ondersteun. Ek moes ook die plek waar die aanranding plaasgevind het saam met die polisie besoek. Dit was baie ontstellend om weer by daardie bose plek te kom.”

Thinus het in daardie tyd ’n baie groot kontrak van die hand gewys om eerder by Karen te bly. Hulle het ook Karen se motor van die hand gesit om alle herinneringe aan daardie dag te probeer uitwis.

Kort ná die aanval het hulle dorp toe verhuis. Karen sê sy het vasgedruk gevoel tussen die bosse, en sy wou nie meer die bekende paadjie ry nie.

‘Ook my gesin’

Karen se pad na genesing was lank en moeilik. “Hoe ek dit sou hanteer, het slegs op mý skouers gerus. In daardie stadium was my hele wese in ontkenning. Dit het met iemand anders gebeur, het ek gevoel.

“Tot vandag toe is dit vir my moeilik om te aanvaar dat ék die slagoffer was, dat dit toe nie iemand anders was nie. Wanneer ek saans gestort en die merke op my lyf gesien het, was dit steeds vir my traumaties.

“Mense het my dikwels jammer gekry. Wat hulle vergeet het, is dat dit nie net met my gebeur het nie, maar ook met my gesin. Ek kon nie bekostig om myself jammer te kry nie. My gesin moes op my kon staatmaak. Ek het my kinders daagliks betrek en fyn opgelet na hul gevoelens.”

‘Om te kan vergewe, is net genade’

“Die aanval het my geleer om ’n sensitiewe aanvoeling vir ander se pyn te hê. Ek is ’n haarkapper en ek hoor baie mense se stories. Dis vir my baie spesiaal as my woorde dan ’n impak op hulle maak. Dis so lekker om ’n glimlag te sien wanneer hulle die salon verlaat.

“As God nie my pakkie seer vir Homself geneem het nie, sou ek nie ander mense kon bedien nie.

“Hy sal jou nooit verlaat nie. Ek is nie meer die ou Karen nie; ek is wat God vir my beplan. Hy wil hê ek moet besef hoe klein ek is, en dat die lewe soms lelike draaie met jou loop.

“Hy het my ook omring met mense wat my liefhet. Ek glo nie dat een van die groep in my omgewing steeds dieselfde is nie. Hierdie dinge vorm jou, en dit plaas jou stewig by die Here se voete.

“Ek het ook my aanvaller volkome vergewe – lankal. Ek was 11 jaar oud toe hy gebore is. Hy het nie geweet wat vir hom voorlê of hoe hy sou sterf nie. Ek kan niks teen hom hou nie. Soos wat Jesus aan die kruis vergewe het, moet ek as kind van God ook vergewe. Ek glo tot vandag toe dat daardie man nie geweet het wat hy doen nie.

“My dogter kon tot onlangs toe nie my aanvaller vergewe nie. My seun is ’n pastoor en hy het haar gedoop. Só het sy tot vergifnis gekom.

“Ek is nie dood nie; God het my ’n tweede kans gegee. Ek voel elke dag hoe ons gesin nader aan mekaar kom. My ontsnapping daardie verskriklike dag was vir my soos ’n eerste ontmoeting met my Skepper. Daarvoor is daar net dankbaarheid. En om te kan vergewe, is net genade.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►