Min mense weet watter groot uitdagings Suid-Afrikaanse swem se goue meisie moes trotseer voordat sy onlangs twee medaljes in Glasgow gewen het. Hier vertel Lara van Niekerk van al haar gesondheidsprobleme, maar ook van haar ouers se opofferings en haar geloof in Christus wat haar gehelp het om alles te bowe te kom.
“Toe ek die muur raak en besef dat ek gewen het, was my eerste reaksie om vir die Here dankie te sê. Want ek het die afgelope vier jaar met ernstige gesondheidsuitdagings geworstel. Om dus weer op die boonste trappie van die podium te kon staan was dus ’n baie spesiale oomblik.”
Só vertel die 23-jarige Lara van Niekerk kort nadat sy haar titel in die 50 m-borsslag by die onlangse Statebondspele in Glasgow, Skotland, suksesvol verdedig het. Sy het trouens twee medaljes hier verower – goud in dié item, en brons saam met haar spanmaats in die 4 x 100 m-wisselslag-aflos.
“Ek het voor die tyd baie gebid,” sê sy. “Ek het die Here gevra dat Hy my sal dra, dat Hy my rustig hou en my help om my beste te gee. Die oomblik toe ek besef ek het goud gewen, het dit gevoel asof al die harde werk en opofferings en swaar dae die moeite werd was.
“Die feit dat albei my ouers daar was en ek die oomblik saam met hulle kon beleef, het dit ekstra spesiaal gemaak.”
‘Ek het waardevolle oefentyd verloor’
Min mense besef watter volgehoue toewyding hierdie prestasie geverg het; Lara moes etlike uitdagings oorkom. Hierdie Pretoriase blondekop was 12 jaar oud toe sy met Hashimoto se siekte gediagnoseer is, ’n outo-immuuntoestand wat die skildklier aantas.

Dit word met medikasie bestuur, maar dié siekte het haar op verskillende tye in haar loopbaan negatief beïnvloed. “Dit het my dikwels moeg laat voel,” vertel Lara. “Maar ek probeer om dit nie as ’n verskoning te gebruik nie.
“Ek leef al so lank daarmee saam dat dit eintlik ’n deel van my lewe geword het. As professionele atleet leer jy gou om goed na jou liggaam te luister, om dadelik daarvan bewus te wees indien iets nie reg voel nie.”
LEES OOK: ‘My identiteit lê nou in God, nie in sportmanwees’ – smaakmaker nadat hy op 15 sy nek breek
Benewens die skildkliersiekte moes Lara sedert 2022 ’n klompie onverwagse terugslae te bowe kom. Eers was daar ’n operasie om ’n ekstra beentjie in haar voet te verwyder. Dit het haar ’n hele maand lank uit die swembad gehou.
Drie maande later het sy klierkoors opgedoen, en weer het dit haar ’n maand gekos. In 2024 was daar nog ’n terugslag toe ’n redelik ernstige rugbesering tot gevolg gehad het dat sy ’n volle twee maande glad nie kon swem nie.
Dit het haar moedeloos gelaat. “Ek het waardevolle oefentyd verloor. En dit het gevoel asof ek telkens weer moes begin en van vooraf die gewenste vlak moes bereik.”
‘Soms het ek nie verstaan nie’
“Ja, daar was baie moeilike tye, en dit alles het my laat wonder of dit nog die moeite werd is. Maar as ek nou terugkyk, besef ek hoe al daardie ervarings my gevorm het. Dit het my nie net liggaamlik nie, maar veral ook emosioneel sterker gemaak.”

Sy vertel dat sy baie gebid het en gevra het dat die Here haar die pad vorentoe sal wys en haar die krag sal gee om dit dan aan te durf. “Ek glo nie Hy sou wou hê dat ek net moed opgee wanneer dinge moeilik raak nie. Soms verstaan ’n mens eers baie later waarom jy ’n bepaalde seisoen moes deurmaak.
“Ek is doelgerig wanneer ek iets regtig wil hê. Ek is ook baie mededingend en wil altyd beter wees as die vorige dag. Die afgelope paar jaar het my veral geleer om vol te hou, ook wanneer dinge nie volgens plan verloop nie.
“Geloof was nog altyd deel van my lewe, maar namate ek ouer geword het en veral in die swaar tye die afgelope paar jaar, het my verhouding met die Here baie meer persoonlik geword. Ek het geleer om Hom nie net te vertrou wanneer dinge goed gaan nie, maar juis wanneer ek nie verstaan waarom slegte dinge gebeur nie.”
‘My ouers se ondersteuning is goud werd’
Lara se swemloopbaan het begin toe sy maar agt jaar oud was. Sy vertel dat “byna enigiets” in ’n 50 m-resies kan gebeur omdat dit so kort is. Daarom glo sy daaraan om so goed moontlik voor te berei, om haar beste te lewer wanneer sy op die blok staan om weg te spring, en om die Here te vertrou dat die uiteinde in sy hande is.
Haar eetplan word deur ’n dieetkundige uitgewerk sodat sy die regte hoeveelheid kos inneem vir die hoeveelheid energie wat sy elke dag nodig het. Maar oor naweke sal sy haarself soms bederf met ’n lekker pizza. En ’n ietsie soets, soos sjokoladekoek.
Haar ouers, Patrick en Hanalie, se ondersteuning is vir haar goud werd. Lara vertel: “My ma het my van kleins af na al die oefensessies en galas toe aangery. Sy het sóveel van haar tyd opgeoffer sodat ek my droom kon volg.
Haar pa het haar finansieel ondersteun en haar die geleentheid gegee om ’n swemloopbaan te volg.
Swemmers ontvang nie finansiële ondersteuning van Swem SA nie. Daarby is dit vir hulle besonder moeilik om borge te kry. “Ek is wel baie dankbaar en bevoorreg om ’n swembroek-borg in Australië, Funkita Swimwear, te kan hê.
Lara swem al 15 jaar lank by Woodhill College in Pretoria, met Eugene da Ponte as afrigter. Sy het reeds drie goue medaljes, en een silwer- en twee bronsmedaljes die wêreld oor gewen, asook ’n hele klompie medaljes by die Afrika Spele.
“Borsslag was nog altyd my sterkste item en is beslis my gunsteling. Ek geniet dit om elke dag saam met my spanmaats te oefen, om myself in oefensessies uit te daag en te sien waartoe my liggaam in staat is.”
‘Ek is tot alles in staat …’
Voor ’n resies lol die senuwees ’n bietjie, erken sy. Dan is Filippense 4:13 vir haar van groot waarde, waar Paulus skryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Lara vertel: “Toe ek my land die eerste keer in Egipte gaan verteenwoordig het, het my ouma hierdie Bybelteks vir my gestuur. Dit het sedertdien ’n baie spesiale teks vir my geword en ek herhaal dit gereeld tydens kompetisies vir myself.”
So tussendeur ruim Lara tyd in vir studies. Verlede jaar het sy ingeskryf vir B Com Besigheidsbestuur, wat sy deeltyds en aanlyn studeer. “Ek geniet dit baie om iets te hê wat my brein op ’n ander manier uitdaag, iets wat my gedagtes van swem af wegneem.”
Lara sê sy probeer om nie aan die verlede vas te klou nie, om nie deurentyd te wonder waarom sekere dinge met haar gebeur het nie. Sy probeer eerder aanvaar wat sy nie kan verander nie. Sy kyk vorentoe, haar oë op Christus gevestig, en op haar volgende doelwit, die Olimpiese Spele.
Sy wil eendag ’n suksesvolle sakevrou wees. “Ek hoop ook dat ek al my swem-ervaring kan gebruik om die volgende geslag kinders en jong atlete te inspireer en raad te gee waar ek kan.
“Ek het geleer dat wanneer ek my oë op die Here hou en op Hom vertrou, selfs wanneer ek nie alles verstaan nie, ek altyd die krag kry om die volgende tree te gee. Daarom sal ek aan jong mense sê om nooit te dink dat jou geloof jou van moeilike tye vrywaar nie. Jou geloof gee jou eerder die sekerheid dat jy in sulke tye nooit alleen is nie.
“En as my storie ander mense kan help om nie hul drome prys te gee nie, sal dit vir my baie beteken.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















