Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hoe wonderbaar is u Naam! Leer ken God se name

Om God te mag ken en sy Naam te kan aanroep, is ’n grootse voorreg en seën vir sy volgelinge. God se name waarmee Hy Hom aan ons openbaar en waarmee gelowiges Hom deur die eeue heen aangeroep het, vertel iets van sy wese. Van die vastigheid en die troos wat Hy ons bied.

Dit is so dat ’n naam gewig dra. Dit vertel ’n storie. Met die naam waarmee ons iemand aanspreek of roep, verleen ons betekenis aan dié persoon. Dit sê dat ons daardie een ken en raaksien. Dit verklap ook iets van ons onderlinge verhouding.

God het Hom in die Bybel op verskil­lende maniere aan die mens bekend gestel. In dié gebeure het Hy verskillende name gebruik waarmee gelowiges Hom kon aanroep.

Wanneer ons dit begryp, begin ons om iets van die heiligheid van sy Naam te verstaan, en van die wonder dat ons Hom mag aanroep en Hom mag nader.

God se name: Geen enkele naam is groot genoeg

Dr Gideon van der Watt, teoloog, skrywer en boekeredakteur, sê dat geen enkele naam God se misterie, sy wese, kan omskryf nie. “God sal altyd bokant ons begrip en verstand wees. Ons kan Hom slegs ten dele verstaan. En probeer om sy grootheid in menslike taal te beskryf.

“En tog openbaar hierdie almagtige God Hom aan die mens en maak sy Naam aan ons bekend. Ons kan nie een van die name uitsonder nie. Hy sal ons nie beter of duideliker hoor as ons Hom op ’n spesi­fieke manier aanspreek nie.

“Ons begrip van sy name help ons eerder om sy karakter, sy verhouding met ons en sy betrokkenheid by ons beter te verstaan.”

‘Heilig is u Naam!’

Die antieke Jode het groot ontsag vir die heiligheid van God se Naam gehad.

In haar boek Laat u Naam geheilig word (Lux Verbi, 2019) vertel Esté Gelden­huys meer: “Vir die Jode van ouds was dit amper heiligskending om God se Naam uit te spreek. YHWH of Jahweh, soms ook vertaal as “Jehova”, is die heiligste Naam vir die Jode.

“In die antieke tyd het die Jode ’n baie spesifieke ritueel gehad wanneer hulle hierdie Naam moes neerskryf: Elke keer wanneer hulle YHWH moes skryf, het hulle eers ’n reinigingsbad ondergaan. Hulle sou ook nie die Naam as “Jahweh” uitspreek nie, maar eerder verwys na ‘Die Naam’.

“Die uiterstes waartoe hulle bereid was om te gaan was ’n duidelike aanduiding van die respek wat hulle vir God se Naam gehad het.”

Al God se name …

God se volk het Aramees en Hebreeus ge­praat. Die name waarmee ons God in die Ou Testament leer ken, is dus Hebreeuse name.

Die Hebreeuse taal, en daarom ook hierdie name, is baie ryk en betekenisvol. God se name bied dikwels ’n diepe insig in sy karakter.

God se name: YHWH, Jahwe of Jehova

Dit is die Naam waarmee God Hom in Eksodus 3 aan Moses bekend stel. In Hebreeus word dit slegs met medeklinkers geskryf en daarom word dit in hedendaag­se tale op meer as een manier geïnterpre­teer. Dit beteken “Ek is” of “Ek sal wees”.

Hierdie Naam dui op God se alomteen­woordigheid – nou, en vir altyd. Ons kan Hom nie in ’n boksie plaas of in ’n naam of sinsnede vasvang nie. Hy is. Hy is reeds van die begin af en Hy sal tot in alle ewig­heid wees.

Elohim

Dit is ’n meervoudsvorm, maar word ook as enkelvoud bedoel. Dit dui daarop dat God meer is as bloot die God van Israel. Hy is die God van alle volke en die God oor alle gode.

Elohim verwys veral ook na God as die skepper en onderhouer. Elohim is die naam waarby ons God in Genesis 1:1 leer ken, en dit word saam met Jahweh

in Genesis 2:4 gebruik. Die naam Elohim herinner ons opnuut aan God se skep­pingskrag en aan die waarheid dat Hy elke dag skep en nuut maak.

God kan iets uit niks skep. As Skepper is niks vir Hom onmoontlik nie.

Adonai

Uit respek vir God se Naam, en uit vrees dat hulle dit dalk ydellik sal gebruik, het die Jode later tydens voorlesings in die sinagoges Elohim of Jahwe met Adonai vervang. Dit beteken “Here” (in Engels “Lord”). Hulle het dié Naam gebruik om na die Here van die Bybel te verwys.

In Afrikaans gebruik ons steeds “ons Here” of “Here God”.

El

El beteken “Almagtige”, die “sterk Een”. Esté gebruik in haar boek ’n pragtige beeld om hierdie Naam te verduidelik: Hebreeus is oorspronklik in ’n piktogra­fiese alfabet geskryf en die teken wat gebruik is om El aan te dui, het volgens oorlewering ’n juk nageboots.

Van alle tye af is ’n jong os gewoonlik saam met ’n meer ervare een ingespan sodat die ouer dier die jonge kan help. Die pragtige beeld van twee osse wat saam in ’n juk trek herinner ons daaraan dat God (El) reeds in die juk staan. Hy ken die pad. Jy hoef dit nie in eie krag te soek of aan te pak nie. Hy trek saam met jou.

Abba

Hierdie Naam beteken “Vader” en dit dui op ’n liefdevolle God wat versorg. Hy is ons Vader.

Gideon wys ook op ’n klompie bekende omskrywings van God se Naam. Dis nie noodwendig eiename nie, maar dit beskryf wel verskillende karak­tereienskappe van God.

  • El Eljon dui op God wat verhewe bo alle gode is. Hy is die Allerhoogste.
  • El Roi is die God wat sien. Dis hoe Hagar Hom beleef het toe haar seun byna van honger en dors in die woestyn omge­kom het.
  • Jahwe Jiré wys op die Here wat voorsien.
  • Wanneer Abraham gevra word om sy seun te offer, troos hy homself (en die kind) met dié woorde: “Die Here (sal) voorsien.”
  • Jahwe Nissi sê God is my Beskermer, my Redder, my Skild en my Banier (Eks 17:15).
  • Jahwe Rapha is die God wat genees (Eks 15:26).
  • Jahwe Shalom is die God van vrede (Rig 6:24).

God se name in die Nuwe Testament

Christene begryp dat God se name, soos dit in die Nuwe Testament bekend staan groot gewig dra.

Ons leer ken Hom as die drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees. God het sy Seun Jesus na die aarde gestuur. Jesus het ’n stem en gestalte aan God se Naam kom gee. Jesus het God se karakter aan ons kom openbaar en ons ’n nuwe manier gegee om tot die Vader te nader.

Ons leer ken God dus in Jesus Christus. Christus (in Hebreeus Messias) beteken “Gesalfde”.

Jesus is Immanuel, God by ons. Hy is ook die Seun van die Mens. Hy is die Seun van Dawid. Hy is die Voleinder, die Redder, die Middelaar, die Leeu uit Juda, die Lam, die Bruidegom, die Môrester.

In die Openbaring aan Johannes maak Hy Hom bekend as die Alfa en die Ome­ga, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde (Op 22:13).

Ons leer ken God se Gees, die Heilige Gees, as ons Trooster, as die Gees van die Vader en die Seun. Hy is die Advokaat wat namens ons intree en vir ons pleit, die Gees wat elke gelowige lei en leer.

Die lys God-name wat ons kan ver­samel, sal nooit volledig wees nie. Maar uiteindelik bring dit ons te staan voor ’n persoonlike vraag, die een wat Jesus aan Petrus en die dissipels gevra het: “En julle? Wie sê julle is Ek?”

In navolging van die Psalmdigter kan ons dalk ook in verwondering uitroep: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde …!” (Ps 8:2).

Of ons kan bely soos die twyfelaar To­mas dit uiteindelik gedoen het: “My Here en my God!” (Joh 20:28).

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF