Te midde van ’n bitter pad met drank en diefstal het Koben Hofmeyr (nou 24) tydens ’n rugbywedstryd sy nek gebreek toe hy maar 15 was. Maar dié ongeluk het daartoe gelei dat hy die Here ontmoet het.
“Voor my ongeluk het ek my op ’n baie donker pad bevind. Ek het teen alles en almal gerebelleer wat gesag oor my gehad het.”
Só vertel Koben Hofmeyr. Hy sê: “My verhouding met my pa was stukkend en ons was voortdurend in ’n verbale en soms selfs fisieke konflik betrokke. Ek het aan atletiek deelgeneem net om hom tevrede te stel. Dit het my selfs meer aggressief en opstandig gemaak. Ek het ontvlugting in alkohol gesoek, ek het motors gesteel en het ’n baie slegte invloed op my vriende gehad.
“In daardie stadium was geloof vir my bloot ’n kultuurverskynsel, al het ek in ’n Christelike huis grootgeword.”

Koben se pa het volhard in sy pogings om sy seun reg te help, maar dit het geen vrugte afgewerp nie. Hy het egter getrou gebly in sy rol as vader. Koben is vandag daarvan oortuig dat as ’n ouer reg doen in God se oë, ’n verlore seun weer sal huis toe kom.
“My raad aan tieners is om nie dieselfde pad te loop as wat ek geloop het nie. Die prys vir aanvaarding is net te hoog. En pasop vir sosiale media. Die groep verdwyn gou wanneer dinge skeefloop.”
Die duikslag
Op 19 Mei 2018 het Koben se lewe onherroeplik verander: Hy was die kaptein van die onder 16-rugbyspan en toe hy ’n teenstander wou duik, het sy kop in ’n verkeerde posisie beland. Hy sê hy het ’n knakgeluid gehoor en dadelik besef dat daar groot fout is.
“My pa het oor die veld aangedraf gekom en gesê ek moet opstaan. Hy het my immers geleer om hard te wees …
“Maar al kon ek my bene beweeg, was daar ’n geweldige pyn in my nek. Dit het ’n halfuur geduur voordat ek in die plaaslike hospitaal gestabiliseer is. Die dokter het bevestig dat my C6-werwel gebreek is. Die spinaalkoord het begin swel, wat suurstof en die bloedtoevoer na die senuwees onder daardie werwel afgesny het. Ek het toe nog nie die erns van die situasie besef nie.”

Koben moes per vliegtuig na ’n hospitaal in Pretoria afgevoer word. Administratiewe rompslomp met die mediese fonds het egter tot gevolg gehad dat hy eers elf ure ná die ongeluk geopereer is. Dit was hierdie vertraging wat, onder meer, veroorsaak het dat hy totaal verlam was, van sy skouers tot by sy voete.
‘As dít my lewe gaan wees, wil ek nie leef nie’
“Ek was ’n maand lank in die intensiewesorgeenheid, en drie maande by ’n rehabilitasiesentrum in Pretoria. Die rehabilitasie was, wat my betref, ’n oorlog tussen my gees en my liggaam. Ek was vasgevang in ’n lyf wat nie meer na my wou luister nie.
“Drie weke ná die ongeluk kon ek my vinger effens beweeg. Drie maande later het ek lewe in my bene gevoel. Dit was my eerste gewaarwording dat God my dalk nie vergeet het nie …

“Hierna moes ek my brein as ’t ware ‘herbedraad’ om weer boodskappe na my spiere te stuur. Dit het geweldige dissipline en deursettingsvermoë gekos. Die rehabilitasie was nie maklik nie, veral wanneer my bene in spasma was.
“Die hele besigheid was vir my onwerklik. Ek is van alles ontneem wat vir ’n jong seun belangrik is. Om my privaatheid sowel as my onafhanklikheid prys te gee was ’n bitter pil om te sluk. Dit het my tot op ’n punt gedryf waar ek vir my pa gesê het dat as dít my lewe gaan wees, ek nie wil leef nie.”
’n Kruiwa vir Koben
Koben se gesin bestaan uit Pa Trompie (54), Ma Annelize (54), sy suster Aninke (25) en sy kleinboet Benko (14). Benko is tans in Hoërskool Louis Trichardt waar Koben was toe die ongeluk plaasgevind het.
In die swaar tye was dié groepie sy grootste ondersteuners. Sy pa, met wie hy eens so ’n stormagtige verhouding gehad het, het gesê dat hy hom nooit sou verlaat nie, al moes hy hom vir die res van sy lewe in ’n kruiwa rondstoot.
Koben vertel oor sy terugkeer na die skool: “Dis vir my ’n sensitiewe onderwerp. Net my beste maats het die nuwe Koben verstaan. Ek het gou besef dat my beperkings vir my medeleerlinge vreemd en uitdagend was. Hulle wou vir seker nie as my versorgers optree nie. Ek het dit heeltemal verstaan. Nadat ek as ’n leier aangewys is, het die ondersteuning verder getaan en dit het my baie diep geraak. Ek was reeds, emosioneel gesproke, baie broos.
“Ek het toe die leierskapposisie prysgegee en ’n graad teruggeskuif. Oplaas het ek ’n vriend ontdek, ’n onselfsugtige mens, Donavin Jackson. Hy het my onwrikbaar ondersteun en my elke dag by die skool teen die trappe op- en af gedra. Ons kuier vandag nog dikwels saam.”
Uitdagings, en ’n groot hoogtepunt
Koben beleef elke dag uitdagings. Al kan hy goed met krukke oor die weg kom, is sy fyn motoriese vaardighede ’n probleem. Soos ook sy balans en voortdurende spastisiteit. Elke tree verg intense inspanning.
Verreweg sy grootste struikelblok, sê hy, is sy onvermoë om sy blaas en maag te ledig. Dit lei soms tot ’n erge verleentheid.
“Ek kan ook nie my liggaamstemperatuur reguleer nie. Hipertermie, oftewel ’n onbeheerde hitte-opbou, is altyd ’n gevaar. En dit kan outonome disrefleksie* tot gevolg hê.
“My reis was op ’n pad vol uiterstes: van totale verlamming tot gedeeltelike mobiliteit met my krukke; ek moes my rugbytokse ophang, maar daar het nuwe deure vir my oopgegaan. Ek het, byvoorbeeld, vir die SA-kampioenskap in luggeweerskiet gekwalifiseer.
“Ek wil graag ’n spesiale mentor uitsonder wat my in my reis ondersteun het, ’n onderwyser, Johan van Dijkhorst, wat my oortuig het om in te skryf vir ’n 113 kilometer-driekamp. Hy het so vas in my geglo dat ek dadelik met die voorbereiding daarvoor begin het.
“Die swem-afdeling vind in ’n groot swembad plaas. In die tweede been het ek en hy op ’n tandemfiets gery. Hy het ook my rolstoel meganies aangepas vir die laaste 21 kilometer. Dit was sonder twyfel een van die hoogtepunte in my lewe.”
‘Die spil waarom my lewe draai’
“Daar het ook ’n totale ommekeer in my geloofslewe gekom. Godsdiens was nou nie meer net ’n kultuurverskynsel nie, maar ’n lewende verhouding met my Skepper. God het my die krag gegee om aan te hou en vas te byt toe alles teen my gedraai het.
“Sy krag is soveel groter as diagnoses en negatiewe voorspellings. Ek het ook geleer dat my identiteit nie in my sportmanwees en liggaamlike vermoëns geleë is nie, maar in Hom.
“Hy het die spil geword waarom my lewe draai. Ek was ’n louwarm Christen; nou is ek ’n wedergebore nuwe mens. Ek kan nie met sekerheid sê dat ek, as ek daardie dag op die rugbyveld gesterf het, hemel toe sou gaan nie.”
Koben is vandag totaal onafhanklik en kom sonder enige hulp oor die weg. Hy is ’n smaakmaker (influencer), jeugmotiveringspreker en ’n seremoniemeester. Hy volg ook ’n aanlyn kursus in rekenaarwetenskap by Akademia.
“Ek is my enigste beperking in my nuwe lewe,” sê hy, “want God is aan my kant. Hy het die dokters se prognose teëgespreek en my op ’n nuwe reis geneem.
“My ‘hoekom ek?’ het gegroei tot dankbaarheid vir dié dinge wat God nog vir my beplan. Dit is so ’n wonderlike voorreg om steeds hier te wees, dat ek aan my storie kan skryf, dat my ink nooit sal opraak nie.”
* Outonome disrefleksie word gekenmerk deur ’n skielike, baie gevaarlike styging in die pasiënt se bloeddruk. Dit kom tipies voor by mense met spinale beserings bo die T6-werwel.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.















