Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Harvesters Ministries vier 20 jaar van kerkplanting

Harvesters Ministries se stigter en hoofuitvoerende beampte, Fanie (Steven) Loots het ’n besonderse visie van die Here ontvang. Hy het geweet dat die Here hom wil gebruik om die evangelie met ongelowiges te deel en dissipels vir Jesus te maak.

Fanie het na ’n paar besoeke aan Afrika, onder andere aan Malawi, besef dat daar ’n groot behoefte en tekort aan kerke vir nuwe gelowiges is. Tydens een van hierdie besoeke het Fanie in ’n Cessna (klein vliegtuigie) oor talle landelike nedersettings in Malawi gevlieg en vir die Here gevra om hierdie dorpies vir hom oop te maak om broodnodige kerke daar te kan plant.

Na jare se gebede is die eerste kerke in die jaar 2000 eers in Malawi en toe in Zambiё geplant. Danksy God se oneindige genade het Harvesters Ministries vandag, 20 jaar later, reeds meer as 65 000 kerke in meer as 60 lande regoor die wêreld geplant.

Deur die jare het soveel ongelooflike deure vir Harvesters Ministries oopgegaan. Eers het die organisasie hoofsaaklik in Afrika gewerk, vandag werk Harvesters Ministries in verskeie lande in Suid-Amerika, Sentraal-Amerika, Afrika, Indiё en Suidoos-Asiё.

Kerke het leraars nodig

Daar het natuurlik ’n groot behoefte aan gekwalifiseerde leraars ontstaan vir al die nuwe kerke wat deur Harvesters Ministries geplant is en nog geplant gaan word. Fanie het ’n hele drie-jaar kurrikulum geskryf. Die kurrikulum bestaan uit ses modules – Fase A tot F – en is tans beskikbaar in 43 tale.

Deur evangelisasie en dissipelskap leer Harvesters Ministries vir plaaslike leraars hoe om effektiewe kerke te plant en te lei. Harvesters Ministries gebruik ook hierdie geleentheid om vir leraars te leer wat die ware Evangelie is, soos wat dit in 1 Korintiёrs 15 vers 3 en 4 verduidelik word: “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.”

Harvesters Ministries gebruik ’n Hub-kerk model om kerke te plant. Elke Hub-leier (hoofleraar) plant tien kerke en lei tien studenteleraars op vir elk van hierdie kerke. Hierdie drie-jaar lange opleiding word heeltemal gratis aangebied. Elke studenteleraar moet slegs drie kerke plant tydens sy of haar drie-jaar opleiding. Nadat ’n leraar sy drie kerke geplant en sy opleiding ten volle voltooi het, word hy as ’n ten volle opgeleide leraar beskou.

Daar is tans 32 000 studenteleraars wat deel vorm van Harvesters Ministries se program. Daar word ook daagliks 72 kerke in die meer as 60 lande geplant.

Die Woord van God word uitgedeel

Danksy wonderlike donateurs was dit vir Harvesters Ministries moontlik om vir die afgelope 14 jaar Bybels aan leraars, studenteleraars en gelowiges in hulle moedertaal te voorsien. Die Bibles for Believers-projek se mees onlangse projekte sluit Bybelplasings in onder andere Malawi, Mosambiek, Lesotho, Rwanda, Kenia en die Amasone in.

Een van die leraars wat onlangs haar heel eerste Bybel ontvang het, is Dorothy Nkusa van die Mangochi-distrik in Malawi. Dorothy se reaksie toe sy haar Bybel kry, was emosioneel: “Julle koms het vir ons groot vreugde gebring. Hierdie Bybel sal ons help om geestelik te groei.” Leraars soos Dorothy sou nooit haar eie Bybel kon bekostig nie. Psalm 119 vers 105 wys die belangrikheid van die Bybel: “U Woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”

Gelowiges in Indiё staan sterk teen vervolging

’n Getuienis uit Indiё wat almal se harte aangeraak het, is díe van *Shanti, ’n 16-jarige meisie van Rajasthan in Sentraal-Indiё. Sy het haar getuienis met Harvesters Ministries se leier in Indiё gedeel. Sy het reeds haar skoolloopbaan voltooi en het nog altyd haar geloof in die geheim uitgeleef. Christene in Indiё ervaar geweldige vervolging – party word selfs vermoor omdat hulle openlik erken dat hulle in Jesus Christus glo.

Sy het ’n Harvesters Ministries opleidingsessie in haar dorp bygewoon en is diep aangeraak deur dit wat sy daar beleef het. Sy is nou toegerus en deel die Evangelie met ongelowige mense in haar gemeenskap. Shanti is tans besig om die Harvesters Ministries program te voltooi. Sy maak dissipels en bou God se Koninkryk in een van die vyandigste lande ter wêreld.

Stories soos Shanti s\’n getuig van Christene se dapperheid en moed te midde van hulle eie uitdagings. Dit is hartroerend om te weet dat jongmense bereid is om op te staan vir hulle geloof. Dit herinner ’n mens aan die gedagte dat God werklik enige iemand kan gebruik om Sy Koninkryk uit te bou en Hom te verheerlik.

Leraars in Laos mag nie Bybels besit nie

In Laos, een van die kommunistiese lande waar Harvesters Ministries werk, word Christenskap deur die regering as ’n geloof erken. Ten spyte hiervan is Fatee*, een van die leraars wat ingeskryf is in die Harvesters Ministries program, onlangs deur die polisie geїntimideer, gearresteer en beboet. Die polisie het hom voorgekeer en daarop aangedring om hom te deursoek. Hulle het ’n Bybel aan hom gevind en hom daarvan beskuldig dat hy sy landsgenote met ’n valse teologie indoktrineer.

Fatee se getuienis is een van oorwinning. Hy deel steeds die Evangelie met ongelowiges in sy gemeenskap en bemoedig sy gemeentelede. Fatee maak ware dissipels vir Christus en wen siele vir God se Koninkryk in Laos. Fatee is bewys daarvan dat God elke mens kan gebruik waar jy is, selfs al woon jy in een van die mees vyandigste lande ter wêreld – God kan jou gebruik om Hom te verheerlik.

Hoe kan jy meer te wete kom oor Harvesters Ministries?

Geen van Harvesters Ministries se wonderlike getuienisse en groot mylpale sou sonder die ruimhartige donasies van donateurs moontlik gewees het nie. Elke donasie wat ontvang word, het ewigheidswaarde. Siele word vir Jesus Christus gewen, kerke word in gemeenskappe geplant waar daar voorheen geen kerk was nie. Bybels word in die hande van leraars geplaas. Die Woord van God gaan nie net in ’n gemeenskap in nie, dit verander die hele gemeenskap.

Wanneer ongelowiges tot bekering kom, verander gemeenskappe. Daar waar misdaad eers geheers het, is daar nou vrede. Daar waar mense eens verlore was, is hulle nou gevind. Daar waar duisternis was, is nou lig.

Besoek gerus Harvesters Ministries se webtuiste vir meer inligting.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF