“Ek is ’n tiener wat kanker het, wat my skool mis. Maar ek probeer om met dankbaarheid en entoesiasme te leef.
“Ek sê altyd kanker is nie ’n alleenpad nie; dis ’n pad wat ek saam met God stap, met Hy wat my dra. Daar is ook my wonderlike ouers, my sussie Amelia, my vriende, en my engel-van-’n-onkoloog dr Johann Riedemann. Daarom wil ek graag ander mense inspireer wat ook die kankerpad stap, ek wil hulle moed gee.”
Só gesels Ruben van Rooyen (17), ’n graad 11-leerder aan Hoërskool DF Malan in Bellville, ná sy tweede kankerdiagnose vanjaar. Ruben het in 2023 ook sy hart oopgemaak en sy stryd as tiener met kanker met LiG gedeel. Hy durf dié pad met hernude durf en vasberadenheid aan.
Vanaf April vanjaar, nadat sy kanker vyf maande lank in remissie was, het hy sy studies tydelik gestaak omdat sy voltydse chemoterapie-behandeling so veeleisend is.
“Dis my sabbatsjaar,” sê Ruben. “Nou leef ek my liefde vir tuinmaak uit by my ouerhuis in Durbanville. Ek is só lief vir mooi blomme, en dis heerlik om dit te sien groei. Dit is God se tuin.”
Die begin van die pad met die kanker
Ruben se pad met kanker het in November 2022 begin toe hy met alveolar rhabdomyosarkoma-kanker (sagteweefselkanker) gediagnoseer is. Hy het elke week, ’n volle jaar lank, chemoterapie ontvang. Hy moes ook ’n operasie ondergaan waartydens ’n sarkoom uit die boudspier verwyder is.
“Om ’n kankerdiagnose te moet aanhoor, breek jou. Dit toets jou. Maar dit het my ook perspektief gegee. Ek het ’n groter waardering vir die klein dingetjies in die lewe ontwikkel. Ek kyk deur my kamervenster na my pragtige tuintjie met die pienk blomme. Ek kan die mooi in die tuin geniet.
“Ek het geleer om rustig en stil te wees wanneer ek so bitter sleg voel. Want skop en skree sal nie help nie. My ouers het my van jongs af geleer om oor my emosies te praat, en dit help my baie.
“Ek streef daarna om elke dag meer by God te leer, want ek is deur baie donker tye. Ek moes erge neerslagtigheid te bowe kom.”
Sy ma Mari sê: “Ruben het deur die swaarste tye sy positiewe uitkyk op die lewe behou, tesame met groot empatie en liefde vir ander. Ons kan nie anders as om daardie voorbeeld te volg nie.”
Op 16 November 2023 het Ruben sy laaste chemoterapie-sessie voltooi. Hy is vanjaar terug skool toe om sy graad 11-jaar aan te pak. “Voluit en in my element,” sê hy. “In my kop was ek kankervry, want ek sou eers ná vyf maande weer ’n skandering moes ondergaan.”
Maar op 18 April vanjaar het Ruben die skoknuus gekry dat die kanker weer sy kloue ingeslaan het, dié keer op ’n selfs meer aggressiewe manier.
‘Ek was stukkend’
“Emosioneel gesproke was ek stukkend. Jy voel asof al die harde werk van die afgelope jaar, al die chemoterapie en bestraling, en die operasie, tevergeefs was.
“Maar so baie mense het my kom ondersteun. Ek moes toe ’n sabbatsjaar neem en daarop fokus om gesond te word.
“Ek beleef soms minder goeie dae. Daar is dinge wat ek misloop. Daaroor is ek hartseer, selfs kwaad. Maar ek probeer om perspektief te behou, om in dankbaarheid te leef.
“Dr Riedemann is baie slim, bitter snaaks en my baken van hoop. Hy het baie navorsing gedoen en afgekom op ’n artikel in ’n mediese tydskrif oor ’n splinternuwe protokol (VIrT) vir die soort kanker wat ek het, spesifiek vir wanneer dit terugkeer. Dié ontdekking was ’n wonderwerk!
“Ek het hierna besonder sterk chemoterapie gekry – vyf opeenvolgende dae; twee dae se rus; weer vyf dae … Dié patroon is vyf maande lank volgehou.
“Daar was baie dae waarin ek wou opgee en net sit en huil. Want die werklikheid is dat kanker jou baie hartseer maak. Maar dan sal my kat langs my kom lê, en dit laat my glimlag.
“Toe ontwikkel ek neutropeniese skok en neutropeniese sepsis. Dis ’n erge infeksie en koors. Ek moes lank in die intensiewesorgeenheid lê. Dit het gevoel asof ek keer op keer deur ’n golf omgeslaan word en nie kon asemhaal nie. Dit was baie erger as tydens die eerste chemoterapiesessies. Hierna het dr Riedemann die behandeling effens aangepas.
“Ondertussen het die gewas baie kleiner geword. Daar is aanstaande week weer ’n skandering. Dalk is die kanker dan heeltemal weg …
“Dr Riedemann is positief, maar dit bly ’n ernstige scenario. Ek beskou die krimpende gewas as ’n teken van God se genade. Daarom bly ek hoopvol.
“My verhouding met die Here het ná die tweede kankerdiagnose verder versterk. Omdat ek baie alleentyd het waartydens ek moet stil sit, is God die Enigste met wie ek dan gesels. My ma help my om Bybelstudie te doen, en dis lekker om uit die Woord te leer. Verder bid ek vir rustigheid en vir groter dankbaarheid.”
‘Leef jou lewe vol dankbaarheid’
Waar ook al Ruben die geleentheid kry, probeer hy om mense van kanker bewus te maak. “Kankerpasiënte benodig ook ’n stem,” sê hy. “Ek het so baie wysheid gekry, onder meer hoe om my emosies, swaarkry en verlies te hanteer. Konsentreer op die goeie oomblikke wat jy beleef. Leef jou lewe rustig en vol dankbaarheid. Dit alles het my vriendin Isabella, wat ook kanker gehad het en nou oorlede is, my geleer.”
Oor sy sabbatsjaar sê Ruben: “Buiten tuinmaak en om met my geliefde kat Sammy te speel, speel ek steeds skaak. En ek het onlangs begin klere maak. Omdat ek baie gewig verloor het, het baie van my broeke nie meer gepas nie. My ma Mari is baie kreatief en sy het saam met my na ’n materiaalwinkel gegaan waar ek mooi groen materiaal gekies het. Onder haar leiding het ek begin klere maak.
“Almal het gesê die nuwe broek is ’n groot sukses. En dit het die vuur aangesteek. Ek maak nou baie broeke. Dis alles my eie ontwerpe en met my eie etiket – Cancer Inspired. Ek gaan ook begin om T-hemde te maak.
“Ek het erekleure op skool vir noodhulp gekry. En die afgelope jaar programmeer ek my eie noodhulp-app. My plan is om dié program aan ander skole te verkoop. Ek is baie trots daarop en dis lekker kreatief.
“Ek beoefen hierdie stokperdjies omdat ek tyd daarvoor het. Asook om die kanker te aanvaar en daarmee saam te leef.
“Ek probeer om elke liewe dag voluit te leef.”
Kersfees, geskenke en drome
Met Kersfees om die draai sê Ruben: “Wat ek hierdie Kersfees die meeste begeer, is tyd saam met my familie. Omdat die kanker weer begin het, sal dit wel moeilik wees om die Fees met dieselfde entoesiasme as verlede jaar te vier.
“Maar op 1 Desember versier ons ons Kersboom en ons luister Kersmusiek. Oukersaand swem ons en sit ’n lekker opdienbord met smulhappies voor. Dan is dit tyd vir Secret Santa en ’n klompie geskenke. Geskenke is nie vir my belangrik nie.
“Hierdie Kersfees is ons gesin en my ouma saam. En ons geniet ’n tradisionele Kersete – skaapboud, hoenderpastei, pampoentert en ander bykosse. Kersdag self is ’n dag vol pret.”
Mari sê: “My wens vir Ruben is goeie gesondheid. En ek wens ek kan net ’n oomblik lank al sy swaarkry op my neem, sodat hy ’n tydjie vry en lig kan asemhaal.”
Ruben sê hy wil graad 11 met ’n A-gemiddeld slaag. En hy wil eendag ’n dokter word. “Ek het soveel drome, maar die werklikheid is dat ek kanker het. Dis daarom moeilik om vooruit te beplan. Ek sal wel probeer om ’n positiewe impak op ander mense te maak, om ’n goeie mens wees en om my lewe te geniet.
“En as die kankerpad groter wysheid meebring, sal ek dit enige tyd weer loop.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.