Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Huweliksraad vir die moderne huwelik: Hoe om beter te kommunikeer

Kommunikasieprobleme is van die grootste struikelblokke in ’n huwelik. Gelukkig is dit ook van die maklikstes om te oorkom. Hier is huweliksraad vir die moderne huwelik.

Kommunikasieprobleme is van die grootste struikelblokke in ’n huwelik. Gelukkig is dit ook van die maklikstes om te oorkom. Dit vra bloot ’n bietjie meer begrip, en ’n klompie basiese vaardighede. En die wil om dit uit te voer. Hier volg huweliksraad vir die moderne huwelik.

Huweliksraad: Sinchroniseer met mekaar se behoeftes

Goeie begrip tussen twee mense kan met ’n tango vergelyk word, sê Elmari Craig en Anjenita Hugo in Sekssprokie, die misterie ontrafel. Eers moet ’n mens die ritme verstaan, en dan moet jy ’n aanvoeling ontwikkel vir jou maat se styl.

Die idee is om jou dansstyl so gou moontlik met jou maat s’n te sinchroniseer, sê hierdie skrywers. En jou maat moet dieselfde doen. Hoe beter die paartjie hulle styl en bewegings kommunikeer en by mekaar inval, hoe makliker kan hulle die dans stuur en die ritme daarvan beïnvloed.

Maar hoekom trap huweliksmaats dan so dikwels op mekaar se tone? En hoekom kla so baie: “My maat verstaan my nie”?

Die feit dat huwelike in ’n gebroke wêreld afspeel, en boonop tussen twee gebroke mense wat nie altyd goed is met die dinge wat hulle sê nie, het tot gevolg dat kommunikasie in die huwelik altyd die potensiaal het om ’n groot struikelblok te wees.

“Daarby,” sê ds Deon van der Berg, leraar en aanbieder van lewensverrykingseminare, “kom elkeen uit ’n unieke agtergrond en met ’n unieke persoonlikheid. Boonop verskil mans en vroue se behoeftes radikaal van mekaar, en funksioneer en kommunikeer hulle op verskillende maniere.”

Kommunikasie in die huwelik: Vermy só probleme

Die kommunikasieprobleem in jou huwelik lê dalk nie daarin dat jou maat jou nie verstaan of nie vir jou omgee nie, maar bloot omdat God ons verskillend aanmekaargesit het. Dit is dus nodig om goed te verstaan hoe jou maat kommunikeer; dit kan baie seer tone voorkom.

(Let wel: Die veralgemenings wat hier volg, wil bloot beter begrip vestig. Daar is immers altyd uitsonderings!)

“Vroue beleef voortdurend en gelyktydig veelvuldige gedagtes en emosies uit hulle verlede en die hede. En hulle kan nie hierdie gedagtes en emosies sommerso ignoreer nie,” sê Deon. “Dit het tot gevolg dat daar baie dinge gelyktydig in vroue se gedagtes aan die gang is … waaroor hulle op een slag wil praat.”

Die meeste mans funksioneer nie so nie. Terwyl vroue gelyktydig kan dink én voel, is mans geneig om te dink óf te voel. Mans hou daarvan om gedagtes en emosies in die volgorde waarin hulle opduik te verwerk – en dan een op ’n slag. Wanneer hy een afgehandel het, sal hy na die volgende een aanbeweeg en dit hanteer.

Huweliksraad: Hoe verskeie geslagte probleme benader

Ook wanneer daar ’n probleem is, benader mans en vroue dit verskillend,” sê dr Christa van den Berg, pastorale terapeut en verhoudingspesialis. “Mans is meer geneig om oorhoofs of feitelik en analities te kommunikeer. As daar ’n probleem is, só reken hulle, moet dit opgelos word.

“Vroue is meer detail-gedrewe in hulle kommunikasie; hulle wil weet hóé die probleem opgelos moet word. Vroue neig ook om ’n langer aanloop te hê deur in besonderhede te wil weet hoe die probleem ontstaan het, hoekom dit gebeur het soos dit gebeur het, en uiteindelik gedetailleerd te praat oor hoe dit opgelos kan word.”

Hoekom mans soms vrees om oor emosies te praat

Deon erken: “Elke man vrees die oomblik wanneer sy vrou sê: ‘Ek wil met jou praat …’ Bloot hierdie woorde laat ’n man in koue sweet uitslaan – al weet hy nie eens waaroor dit gaan nie.”

“Baie mans is weerloos,” sê Deon. “Hulle is onseker van hulleself, ten spyte van die selfversekerdheid wat hulle uitstraal. Dit is iets wat ander mense en spesifiek hulle eggenoot waarskynlik nie besef nie.

“Hierdie onsekerheid laat selfs daardie man wat uiterlik lyk asof hy ál die selfvertroue in die wêreld het, vrees vir die oomblik dat hy ontmasker sal word vir wie hy werklik is – of ten minste vir wie hy glo hy is. Dit is hierdie onsekerheid in ’n man wat maak dat hy heeltyd bang is hy doen iets verkeerd. Of dat hy ‘uitgevang’ sal word.

Wanneer sy vrou se “ons moet praat” impliseer dat hy oor emosies moet praat, is die uitdaging boonop soveel groter. Veral vir daardie man wat dit moeilik vind om sy emosies te beskryf. As hy skielik aangesê word om dit te doen, kan dit hom bedreig. En laat vrees dat die eise van hierdie verhouding eintlik bó sy vuurmaakplek is.

Huweliksraad: 10 wenke om beter kommunikasievaardighede binne die huwelik te ontwikkel

Die Christelike beradingsgroep ACCFS in die VSA het ’n handige gids geskep wat handel oor effektiewe kommunikasie in die huwelik, met waardevolle Bybelse tekste as basis. Laai dit gerus hier af.

Kenners is dit eens dat om te luister die grootste sleutel tot suksesvolle kommunikasie is.

Hier is ons top 10 wenke om beter vaardighede binne die huwelik te kweek:

  1. Luister aktief en met empatie. Deur aktief te luister, kommunikeer jy liefde en respek aan jou maat. Kommunikasie kan veel meer effektief wees as beide partye seker maak dat hulle die ander persoon verstaan voor hulle reageer.
  2. Maak tyd vir gesels. Ja, die moderne huwelik gaan gepaard met vol dagboeke, maar dit is belangrik om tyd te maak om gedagtes, gevoelens en ander sake te bespreek sonder enige afleidings. 
  3. Wees eerlik. Dis nie vir almal ewe maklik nie, maar eerlikheid is baie belangrik binne die huwelik. Moedig mekaar aan om oop en eerlik te wees.
  4. Vermy swaar kritiek. Onthou, die probleem is dikwels die probleem, en nie die persoon nie. Fokus dus op konstruktiewe kritiek en om saam oplossings te vind.
  5. Ontwikkel nie-verbale vaardighede. Liggaamstaal en gesigsuitdrukkings is net so belangrik soos dit wat gesê word. Let daarop dat jou liggaamstaal nie affronteer nie. 
  6. Leer hoe om konflik te hanteer. Konflik is onvermydelik binne die huwelik. Fokus op gesamentlike oplossings en onthou dat die doel nie is om te wen nie, maar eerder om die verhouding te versterk ten spyte van die konflik. Lees ook ons artikel, “Hoe om konflik te hanteer”.
  7. Hê waardering vir jou maat. Wanneer jy jou maat se pogings en prestasies raaksien en waardeer, voel die persoon veilig en opgebou. Só skep julle ’n atmosfeer waar albei partye gehoor en gesien voel.
  8. Fokus op die onderwerp. Dit baat om nie ou koeie uit die sloot te  grawe nie, en met rede. Wanneer ’n paartjie redekawel, wil niemand aan vorige argumente herinner word nie. Los die verlede waar dit hoort.
  9. Leer saam. Beskou kommunikasie as ’n voortdurende leerproses waaruit jy kan groei en ontwikkel. Wees bereid om daaraan en aan mekaar te bou.
  10. Bly nuuskierig. Sien jou en jou maat se verskille as ’n geleentheid om iets nuuts van mekaar te leer en sodoende mekaar beter te verstaan. Dan bly die huwelik opwindend en interessant.

* Oorspronklike artikel geskryf deur René Badenhorst.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.