Elize Stroebel* se huis was byna drie jaar lank ʼn eensame tronk, waar haar verloofde haar mishandel het. Met haar #liggetuienis wil sy nie net ander slagoffers aanmoedig om na hulp te soek nie, sy wil hulle ook herinner dat jy nie sonder God genesing kan vind nie.
Sy vertel: “Ek het Kobus* reeds van skooldae af geken. Toe ons paaie later weer kruis, het ons by mekaar betrokke geraak.”
Voor dié herontmoeting was Elize (41) getroud, en sy het ook ʼn ander ernstige verhouding gehad. Uit haar huwelik is twee dogters gebore, Karyn* (21) en Chanté* (18). Uit die daaropvolgende verhouding is haar seun Jason* (15) gebore.
LEES OOK: ’My monster was my eie ma, maar my aangenome seuntjie help my genees’
“Ek het in daardie stadium ʼn goeie werk gehad en was reeds 14 jaar by die betrokke maatskappy in diens. Finansieel gesproke het ek niks kortgekom nie. Jason het by my gebly, en my twee dogters by hulle pa. Dit was totdat Kobus in ons lewe gekom het.”
ʼn Rooi vlag
“Met ons eerste afspraak was Kobus twee ure laat. Dit was reeds ʼn rooi vlag. Hy het wel gou ʼn mooi verhouding met Jason opgebou. Dit het die rooi vlag laat verdwyn.”
Kort voor lank het Kobus by haar ingetrek, en gou het hy sy “reëls” op haar begin afdwing. Sonder waarskuwing moes Elize alles oppak om na ʼn ander dorp te trek. Sy finansiële posisie het baie verswak, maar ten spyte daarvan het hy besluit dat Elize haar werk moes bedank. Stukkie vir stukkie het hy haar lewe begin beheer.
Die dag toe hulle in hul nuwe huis ingetrek het, is Kobus vir bedrog gearresteer. Die polisie het haar gehelp om met haar goed te trek. Sy het letterlik op straat beland, met net haar troeteldiere en besittings.
“Ek is toe na Kobus se ouers,” vertel sy, “en later het hy ook daar ingetrek. Ek het ʼn werk gekry, maar hy wou nie hê dat ek onafhanklik moes word nie. Daarom het hy my verbied om te werk. Selfs in sy ouerhuis het hy begin om my te isoleer.”
Deur die jare was Kobus verskeie kere in die tronk. Elize vertel: “Mense het my gevra hoekom ek hom nie gelos het nie; ek het geglo dinge sou beter word. Dit is soos ʼn mishandelde vrou dink en optree … ”
Wanneer hy die kere uit die gevangenis vrygelaat is, was hy baie aggressief teenoor Elize en Jason. Elize is gereeld aangerand en soms van die trappe afgegooi. Wanneer sy uit sy pad probeer bly het, het hy sy aggressie op Jason gerig. Hy het dikwels gedreig om Jason dood te maak as sy die pad sou vat.
ʼn Gevangene
“Ek het probeer om my lewe te neem. Toe ek in die hospitaal wakker word, het ek die Here gevra wat my doel in die lewe is. Kobus het weer met allerlei mooi beloftes gekom en ek het hom, weer eens, die voordeel van die twyfel gegee.
“Dit was die begin van my jare as gevangene.”
Weer het hulle verhuis. En die dag toe hulle intrek, was dit die laaste wat Elize die buitekant van die huis sou sien. Toe sy besef wat aan die gebeur is, het sy Jason se pa aangesê om sy seun te kom haal. Sy kon nie haar kind langer aan dié soort disfunksionaliteit blootstel nie.
Alhoewel sy meer in beheer gevoel het met Jason uit die huis, het die situasie steeds vererger. Wanneer sy nie gehoorsaam genoeg na Kobus se sin was nie, het hy gedreig om haar katte vir die honde te voer. Hy het ook haar foon vernietig. Sy kon nou met niemand kontak maak nie.
Deurentyd het Kobus gesê hy is die enigste mens wat vir haar omgee. Niemand anders het haar lief nie.
Kontak met haar suster
Kos was skaars en die porsies klein. Elize het later slegs 40 kg geweeg. Kobus se ma het skelmpies probeer om kos in te smokkel. Sy wou die situasie ontlont. Sy is egter ook aangerand.
Gou kon Kobus nie meer die huurgeld bekostig nie. ʼn Bode van die hof en sy helpers het die meubels tot op die sypaadjie gedra terwyl Elize in die kamer toegesluit was.
Elize sê die Here het haar gelei om haar suster Sonja* te kontak. Omdat dié dikwels in die buiteland is, het Elize gesukkel om haar op te spoor. Uiteindelik het sy ʼn toepassing op die rekenaar afgelaai waarmee sy Sonja, ná vele probeerslae, opgespoor het. Dié het die agterstallige huur betaal. Elize het toe darem ʼn dak oor haar kop gehad.
Sy het toe ook haar huidige adres aan Sonja gegee – en dadelik die toepassing op die rekenaar verwyder. In hierdie stadium was Elize ook ʼn gevangene van diepgewortelde vrees.
Uiteindelik veilig
Dit was Sonja wat haar uiteindelik in 2024 bevry het, in samewerking met die polisie en kenners van gyselaarsituasies. Dit het baie vernuf geverg om haar veiligheid tydens die onderhandelings te verseker. Kobus het deurentyd volgehou dat as hý haar nie kon hê nie, niemand haar sou kry nie.
Die uiteinde was ʼn lewenslange interdik teen Kobus. En Elize is na Huis Jabes in Kaapstad. Aanvanklik was sy bang omdat die huis sulke groot hekke het. Maar sy was veilig.
Volgens Sonja het Elize deurentyd huilend en in ʼn fetusposisie op haar bed gelê. “Sy was bitter maer, ondervoed. En sy wou nie juis met my praat nie. Ek het haar gevra of ek vir haar mag bid, want ek het geweet dat net die Here haar kan rustig maak.
“Gaandeweg het haar wil om te lewe teruggekeer. Hier het berading deur professionele persone gehelp. Sy het weer begin voel dat sy ʼn plek en ʼn doel in die samelewing het.”
Adri Klindt, stigter van Huis Jabes, vertel sy is baie trots op Elize. “Sy is tans in ons bestuurspan en sy tree op as leier vir ander vroue wat slegte dinge deurmaak. Haar verhaal is een van hoop. Sy word nou deur God gebruik om sy goedheid aan ander te wys.”
Elize het berading met die hulp van die Vredelust-gemeente ontvang. Hier het sy geleer hoekom sy soveel jare in ontkenning geleef het. Sy het ook twee selfsorgprogramme deur die kerk voltooi. Vanjaar tree sy op as ʼn fasiliteerder van dié program.
Jason het verlede Desember weer by sy ma aangesluit. Elize sê sy ervaar steeds skuldgevoelens oor hom. Sy voel dat sy verantwoordelik is vir die hel wat hy moes deurmaak.
“My twee dogters het ook skade opgedoen. Ek mag vyf jaar lank geen kontak met hulle gehad het nie. Chanté het in Desember kom kuier en ons kon dinge uitpraat. Alhoewel Karyn ook later kom kuier het, is dit steeds vir haar moeilik om my te vergewe vir die keuses wat ek gemaak het.”
Het Elize raad vir vroue wat in ʼn soortgelyke posisie verkeer as dié waarin sy was?
“Kry ʼn stem. Iewers is iemand wat jou gaan hoor. Glo en vertrou volkome op die Here.”
* ʼn Skuilnaam
- Kontak Annemi Marais by 083 284 3111, of annemi@sostrust.co.za indien jy meer oor Huis Jabes wil uitvind.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.























