In 2019 het my oudste sussie Tanya ’n oproep gekry: ’n Vreemdeling het gevra ons moes ons halfsuster se verwaarloosde seuntjie kom haal.
Omdat Tanya en haar man Riaan reeds hierdie halfsussie se ouer seun as vier maande oue baba in pleegsorg geneem het, het ek en my man Hannes besluit om die tweejarige te huisves. Ná ’n gespook om hulle op te spoor, het ek die vuil, verskrikte kindjie gaan haal. Daar was donker kringe onder sy oë.
Kayden het dadelik in my hart gekruip.
Min het ek geweet hoe die Here hom sou gebruik as sleutel om my hart se deur oop te sluit – ’n diggeslote deur, waar ek al die seer en verwerping van my kinderjare weggebêre het.
LEES OOK: KYK: ‘Glo daar is ’n God – want hiér is my ma,’ sê seun ná 40 jaar
Struikelblokke, maar ons Vader stuur sy engele
Terwyl ek kort-kort na die slapende lyfie in die tru-spieëltjie geloer het, het iets van sy verhaal met myne geresoneer. Dit het ’n vegtergees in my laat ontwaak. Daar was ’n stem wat gesê het: “Vir hierdie kind moet jy veg.”
Die vyand het egter allerlei leuens in my kop geplant, soos: “Wat weet jy van mawees? Jy is self verwerp, hoe kan jy ’n ma wees vir ’n verwerpte kind?”
Genadiglik het daardie twyfelstem ál stiller geword, hoe intiemer ek met die Here geleer leef het.
Vanweë Tanya-hulle se sewe jaar lange stryd met die aannemingstelsel het ek die slaggate geken. En dit het gehelp om die proses wat ons moes deurgaan met twee jaar te verkort.
Was dit dus makliker?
Geensins! Daar was etlike struikelblokke: Covid-19; advokate wat ná ’n konsultasie nooit na ons toe terugkom nie; Hannes wat in Amerika werk; probleme by die departement maatskaplike ontwikkeling; noem maar op …
Ons getroue Vader het egter sy engele oor ons pad gestuur: ons advokaat en maatskaplike werker, ons geestelike familie, ons pastoor en sy vrou.
Vyf jaar lank het ek teen moedeloosheid gestry, en teen die vrees dat Kayden van ons weggeneem gaan word. Ek het menigmaal gevra: “Hoe lank nog, Here?”
En Hy het vir my sy Woord gegee: “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jes 40:28-31).
Die Skrif het my wapen geword elke keer as allerlei vrese my beetgepak het.
’n Wonderlike vrede
Vroeër vanjaar, toe ek besef het hierdie stryd is nie teen vlees en bloed nie en dat ek dit nie op my eentjie kon wen nie, het ek alles finaal in die Here se hande oorgegee. Psalm 46:11-12 verseker my: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons.”
Twee weke later, op 15 Julie (kort voor my 34ste verjaardag en ’n week voor sy vyfde jaar by ons), is Kayden se aanneming bekragtig. ’n Golf van verligting het oor my gespoel en ’n wonderlike vrede het my omvou.
Ek is ’n “kitsmamma” – en die Here het geweet ons sal mekaar nodig hê. Kayden het ’n groot leemte in my hart kom vul.
Hy is deesdae ’n kêreltjie met allerlei snaakse sêgoed, en met ’n manier om in jou hart te kruip. Hy geniet rugby, krieket, die natuur en feite oor die ruimte. Hy lees graag, hy hou van musiek, en hy leer nou om tromme te speel.
Vir my en my man Hannes is die heel belangrikste dat hy ’n verhouding met Jesus het. Dat hy vir Jesus wil lewe.
Ek bid baie vir sy biologiese ma. Ek bid dat die Here haar op haar donkerste plek sal ontmoet, net soos ek Hom destyds op my slaapkamermat ontmoet het.
Ek was ’n weggooikind
My ma se ouerhuis het my ouerhuis geword omdat sy, my eie ma, my as agt maande oue baba by haar ouers afgelaai en verdwyn het. Omdat ek nie wettig deur my grootouers aangeneem is nie, sou my ma my soms, onaangekondig, daar gaan wegneem. En, wanneer sy wou, my ná ’n paar weke of maande weer by hulle aflaai. My oupa moes my soms by haar gaan haal, ondervoed of met bloed op my klere.
Hierdie gedurige onsekerheid het diep letsels gelaat. Ek en Tanya het dieselfde biologiese pa, maar ook sy is oor-en-weer aangegee. In haar geval was dit tussen ons ma en ons grootouers aan vaderskant. Dis waarom ek so geveg het vir Kayden se wetlike plasing by ons.
My grootouers, albei liefdevolle Christene, het vir my gebid. Maar ek het swaar gedra aan my ouers se verwerping en my skoolmaats se vrae.
Hoe vertel jy vir iemand anders jy is ’n weggooi-kind?
My ma het my gereeld mishandel, met een insident wat jare lank by my sou spook: Nadat sy te veel gedrink het, het sy op my bed aan die slaap geraak. Tipies kleuter, het ek en Tanya om en soms bo-oor haar gespeel. Skielik het sy regop gespring en gesê Tanya moet my vang. Ons het gedink sy wou speel, maar toe gaan sit sy bo-op my en boor met haar knieë in my arms sodat ek nie my gesig kon beskerm nie.
En toe slaan sy my: Hou vir hou het die vuishoue teen my gesig geklap. Ek sal nooit die haat in haar oë vergeet nie. En ek hoor tot vandag toe Tanya se gille in die agtergrond.
Ek het ’n onbeskryflike vrees en ’n intense haat vir my ma ontwikkel. Ek kon nie verstaan hoe hande, wat veronderstel was om te koester, my só kon verniel nie. Baie kinders is bang vir monsters onder hul bed of kas; my monster was my eie ma.
Ek het jare lank met groot bitterheid en kwaad in my geleef.
My ma se verhouding met ’n getroude man voor my geboorte het ’n gebroke verhouding met my pa tot gevolg gehad. Ek het in woede teenoor my ma geleef, en ek het my polisieman-pa kwalik geneem omdat my ma my so mishandel het.
Op ’n slegte dag het my oupa gesterf, en ek, toe 14 jaar oud, het daardie nag na die Here geroep. Ek het Hom gesmeek om al my seer en alleenheid weg te neem.
En só, opgekrul in ’n bondeltjie op my kamer se mat, het ek die eerste keer ’n ontmoeting met Hom gehed. Ek het wel nog nie ’n persoonlike verhouding met Hom gehad nie; ek was nie seker hoe om te bid nie.
Ek het egter geweet Hy is daar, ek kon sy teenwoordigheid aanvoel. Hierna sou ek my nog menige kere op ’n mat of badkamervloer bevind. In ’n fetale posisie, as deel van my pelgrimstog na ’n plek van vrede.
Intussen het ek my identiteit in my werk of by verkeerde mans gesoek, met die hoop om daardie leemte van verwerping en om nie geliefd te wees nie te vul.
My ouers: ook maar gebroke mense
Vyf jaar gelede, tydens ’n kerkdiens en ’n preek in Krugersdorp, het ek my eerste intieme ontmoeting met die Here beleef. Vir die eerste keer het ek Hom as my alomteenwoordige Skepper, Vader en Verlosser leer ken. En só het my genesing begin, en my honger na Hom.
Jeremia 1:5 het vir my soos my persoonlike liefdesbrief van God af geword: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy.”
Dis nie ’n genesingsproses wat oornag plaasvind nie, maar die Here het my geleer om met insig en liefde na my ouers te kyk. Hulle is ook maar gebroke mense. Ek moes hulle én myself vergewe. Ek moes my eers deur God se oë sien en die waarheid in die Woord my wapen maak. Só het Hy my vrygemaak.
Later kon albei my ouers hul lewe vir die Here gee. Hulle kon hul eie genesing vind.
My verhaal begin nie mooi nie, maar dit eindig in ’n getuienis vol hoop: Énigiets is by die Here moontlik. Uiteindelik laat Hy alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet.
Ek bid vandag dat my getuienis vir ander “weggooi-kinders” hoop gee.
- Yolande en Hannes is sewe jaar gelede, op ’n reënerige dag in Dullstroom, met mekaar getroud. Tot op hede is Kayden hul enigste kind. Hannes werk die afgelope vier jaar minstens nege maande per jaar op ’n Amerikaanse beesplaas. Daarom moet Yolanda opnuut bid: “Here, hoekom vat U almal wat ek liefhet weg?” Maar, vertel sy, die alleenheid het haar stiltetyd geword. Haar raad aan ander alleenvroue? “Sluit aan by ’n Skrifgebaseerde kerk of selgroep; drink koffie saam met die Here; lees daagliks uit sy Woord. Plaas jou probleme by sy voete en bid sonder ophou. Ek kan getuig van die krag van gebed.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.