Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Is jy jou eie vreugde-dief?

Iewers skuil daar ’n skelm wat vreugde steel, wat blydskap uitroei, wat grynslag wanneer sy slagoffers begin frons en vloek. Waar kan ons hom in die hande kry? En hoe draai ons sy nek om?

Wanneer die jaar einde se kant toe staan, begin dié vraag dalk aan jou knaag: Wat was daar nou éintlik in 2023 om oor opgewonde te raak? Wat het my bly gemaak?

Wat het te midde van beurtkrag en stakings, oorlog en onmin en ander onsin­nighede, gebeur wat iets positiefs tot my lewe bygedra het?

Was daar hoegenaamd so iets?

Gelukkig kan jy dié soort wroeging vir eers uitstel. Ons betree immers die vreugdeseisoen en jy kan fokus op ’n welverdiende blaaskansie wat wag. Dan kan jy in rus en vrede en, hopelik, met toe­gespitste aandag besin oor al die dinge wat jou vreugde die afgelope jaar gesteel het. En kan jy begin dink aan ’n plan om ’n herhaling daarvan te voorkom.

Ag, en dalk ontdek jy in dié dae dat jyself alte dikwels die vernaamste vreugde-dief was. Reg gelees: As jy eerlik genoeg is, identifiseer jy dalk ’n skrikwekkend bekende oorsaak vir die onvergenoegd­heid waarmee jy ’n groot deel van die jaar rondgeloop het.

Kyk of die lysie hieronder bekend lyk …

Afguns

Ons word so maklik jaloers op ander se sukses, status, vermoëns en besittings. Dan vergeet ons om te waardeer wat ons as vanselfsprekend aanvaar – al ons gawes en talente, al die daaglikse seëninge.

Dis natuurlik wel so dat afguns ook ’n doel dien: Dit maak jou bewus van wat in jou eie lewe kortkom. As jy, byvoorbeeld, afgunstig is op jou vriendin en dié se goeie huweliksverhouding, kan jy dit as aansporing gebruik om aan jou eie huwelik te werk. Afguns oor ’n vriend se goeie betrekking kan jou oor jou eie loopbaan laat nadink, en jou dalk inspireer om ’n noodsaaklike verandering of twee te oor­weeg.

Knaende klagtes en kritiek

Soms is dit nodig om jou stem te verhef en teen, byvoorbeeld, swak dienslewe-ring, onwettige optrede of skreiende ongeregtigheid kapsie te maak.

’n Chroniese klaery en voortdurende negatiwiteit is egter ’n ander saak. Dis niks minder nie as ’n nare, aangeleerde ge­woonte. Ons is meestal nie eens daarvan bewus nie en ons hoor nie meer hoeveel keer per dag ons oor ’n verskeidenheid (dikwels onbenullige) dinge kla nie.

Maar op dié manier skep ons ’n atmos­feer van onvergenoegdheid wat ons hele lewe versuur. Dit kry lêplek en broeiplek in ons huis, by ons werkplek, langs die sport­veld, in ons kerk. Boonop is dié lewens-houding (want dit is wat dit geword het) hoogs aansteeklik en dit versprei vinniger as ’n veldbrand. Luister net ’n bietjie na ’n gesprek in jou omgewing: Sodra iemand oor iets begin kla, klink daar gou-gou ’n koor murmurerende stemme op.

Blykbaar voel mense deesdae ook daarop geregtig om alles en almal te kriti­seer; ons beterweterigheid spoel selfs oor na sake waarvan ons nie te veel kennis dra nie. Gaan loer maar na die kommentaar op sosiale media en let op hoe min mense op ’n positiewe manier op ’n plasing rea­geer.

Moenie een van hulle wees nie!

Angstigheid

Ons loop dikwels met ’n vae onrustigheid in ons rond, ons bekommer ons oor alles wat ons kwansuis móét doen en móét bereik.

Voeg daarby ons verlammende vrese oor alles en nog wat. Dis meestal onge­grond, maar dit verlam ons tot so ’n mate dat dit ons ook daarvan weerhou om vreugde te vind in alles wat wel goed afloop.

’n Voortdurende angstigheid en nim­mereindigende vrese plaas groot strem­ming op ons emosionele en liggaamlike gesondheid. Dit kan ons verhoudings en selfs ons geloof uiters negatief beïnvloed.

Gelowiges word aangemoedig om hul kommer en vrees by God te laat. Om dan vol dankbaarheid in die wete van sy voorsienigheid tot rus te kom (vgl Fil 4:6).

Skuldgevoelens

Die meeste mense voel gereeld skuldig oor ’n menigte dinge en verknies hulle behoorlik daaroor. Die lysie moontlike skuldgevoelens het geen einde nie:

  • Skeep ek my kinders af, of bederf ek hulle?
  • Skeep ek my lewensmaat af, of oordon­der ek haar/hom?
  • Wanneer laas het ek iets vir die kerk gegee? En is dit genoeg?
  • Ek behoort regtig meer aandag aan my vriendinne te gee!

Skort jou skuldgevoelens op; netnou-netnou is jou lewensvreugde so geblus dat jy in elk geval vir niks lus voel nie.

Hier is ’n klompie maniere waarop jy jou lewe ’n vreugde-inspuiting kan gee. Probeer dit gerus!

Leef in bewustelike verwondering

In haar boek Joyful moedig Ingrid Fetell Lee haar lesers aan om op ’n meer bewus­telike manier na vreugdevolle oomblikke te soek. Haar navorsing het uitgewys dat die belewing van vreugde dikwels aan die gebruik van sintuie gekoppel kan word. So blyk dit dat die blootstelling vir helder kleure, aan geure wat goeie herinneringe oproep, aan vloeiende vorms en teksture en strelende klanke, vir ons ’n vreugde-inspuiting bied soos min.

Gebruik tog hierdie klompie maande by die jaarwisseling (dalk is jy geseënd genoeg om boonop met vakansie te gaan) om soveel moontlik vreugdevolle mo­mente vas te vang. Stel jou doelbewus in op die genieting daarvan.

  • Hap groot aan ’n stuk waatlemoen.
  • Lag uitbundig wanneer jy saam met jou kinders deur die watersproeier hardloop.
  • Geniet die vars seewind waar jy laatmid­dag op die strand stap.
  • Adem die geur in van die stukkie wors wat oor die kole braai.

Om doelbewus vol vreugde te wees is nie moeilik of duur nie; dit vra bloot dat jy stil word en met verwondering die vreugde in elke dag raaksien.

Beoefen dankbaarheid

Brené Brown, die bekende Amerikaanse skrywer en navorser by die Universiteit van Houston, beskou dankbaarheid as ’n voorloper vir vreugde. Uit haar navorsing blyk dit dat mense wat dankbaarheid as ’n daaglikse aktiwiteit beoefen ook die meeste vreugde in hul lewe ervaar.

Leef dus jou dankbaarheid op ’n ge­paste manier uit:

  • Skryf elke dag in ’n dankbaarheidjoer­naal.
  • Geniet ’n dankie-sê-stappie terwyl jy nadink oor alles wat jou dag met dank­baarheid vul.
  • Beleef dankbaarheid saam met jou gesin deur elkeen ’n beurt te gee om iets oor sy/haar dag vol dankbaarheid te vertel.

Ná ’n tydjie sal jy agterkom dat jou vreugde saam met jou dankbaarheid vermeerder het.

Word ’n magneet vir positiwiteit

Trek positiewe invoede op ’n doelbewuste wyse na jou toe aan deur kieskeurig te wees saam met wie jy jou kosbare tyd deurbring en op wat jy dit bestee. Let op na die soort boeke en tydskrifte wat jy lees, die sosiale media waaraan jy jou blootstel en die gesprekke waaraan jy deelneem.

Stel vas hoe al dié dinge jou gemoed beïnvloed. Vra jou af: Laat dit/hulle my positief en energiek voel? Watter rol speel al dié mense en dinge in my moedeloos­heid en negatiwiteit?

Het dit nie tyd geword om alle nega­tiewe invloede uit jou lewe te verwyder nie? Gaan jou lewensvreugde ooit kan groei te midde van soveel “onkruid”?

Oorweeg dit ernstig om die nuus-funksie op jou selfoon af te skakel. Raak ontslae van alewige klakouse op Face­book. Laai ’n klompie goedvoel-liedjies, interessante en opbeurende potgooie en lekker YouTube-video’s af om in hierdie rustiger dae te geniet. Nog beter: Skakel álles af en verlustig jou in die wonderlike ruskansie wat aan jou gegun word.

Hou gerus ’n handvol positiewe nuus­brokkies gereed wanneer die gesprekke om jou dreig om in swartgalligheid te verval. Deel dit dan soos lekkergoed uit aan die vreugdestelers …

Wees vrygewig met jou komplimente

Die krag van ’n opregte kompliment kan nooit onderskat word nie – en dit geld die ontvanger sowel as die gewer daarvan. Albei se gemoed en selfvertroue baat daarby.

Wetenskaplikes in Japan kon met behulp van MRI-skanderings aantoon dat dieselfde deel van die brein wat deur finansiële beloning geaktiveer word ook positief deur komplimente gestimuleer word.

Doen gerus jou eie proefneming deur meer gereeld komplimente uit te deel. Kyk wat die reaksie is. Probeer om ander mense, ook dié wat jy nie ken nie, by jou vreugde-eksperiment te betrek.

Gee uiting aan die vreugde wat jy in jou geloof vind

Daar is soveel maniere waarop jy vreugde in jou geloof kan uitleef. Jou stiltetyd, byvoorbeeld, hoef nie noodwendig “stil” te wees nie. Dalk voel jy so begeester dat jy jou blydskap met lofprysing en sang uitdruk. Dalk kry jy lus om jou kunssinnigheid in te span om jou vreugde uit te beeld.

Profetiese danse of enige ander ritmiese bewegings is nog maniere om uiting te gee aan jou vreugde as gelowige.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF