Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Jesus, die Lig wat in die duisternis skyn

Simone Gauche foto1: God se genade is groot

Rembrandt van Rijn is veral bekend vir die manier waarop hy lig in sy skilderye gebruik het – nie net om ’n portretstudie te verlig nie, maar om ’n storie te vertel en emosie oor te dra. En om die kyker se oë na spesifieke plekke in ’n skildery te lei.

Rembrandt se meesterlike gebruik van lig het een van die kenmerkende eienskappe van die Nederlandse Goue Eeu geword. Wanneer jy na een van sy werke kyk, besef jy gou dat die lig nie net daar is om te wys wat gebeur nie; dit wys jou ook waar om te kyk en wat regtig belangrik is.

Hy het ’n tegniek gebruik wat die kunskenners chiaroscuro noem. Dis ’n samestelling van die Italiaanse woorde chiaro (lig) en scuro (donker). Dié tegniek behels die skep van sterk, doelbewuste kontraste wat ’n dramatiese indruk van driedimensionaliteit wek. Hy het die donker in sy skilderye nie bloot as agtergrond gebruik nie, maar as ’n manier om die lig daarin helderder te laat vertoon.

Die gevolg is dat die belangrike elemente in sy skilderye verlig word, terwyl ander dele in die skaduwees verdwyn. Die lig val spesifiek waar dit betekenis dra.

In Rembrandt se skilderye dra die lig die storie. Die toneel waarna ons kyk, is nie eweredig verlig nie, maar die lig rig ons aandag op daardie plekke waar die skilder dié aandag wil hê.

LEES OOK: Oorlog, oliepryse, onsekerheid: ‘Ons enigste sekerheid is in God’

En dalk lê hier vir gelowiges deur die eeue ’n belangrike les. Juis daardie gelowiges, mense soos ek, wat alte dikwels op die lewe se donker kante fokus. Op die dinge wat verkeerd loop, op die onsekerhede, die pyn, die vrae sonder antwoorde.

Hoe kan ek dit anders maak?

Die beste nuus denkbaar

Ek moet my oë weer leer om op die lig te fokus. Die lig vertel die storie, nie die donker nie. In Genesis 1:3-4 lees ons: “God het gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig. God het gesien dat die lig goed was. God het toe die lig en die donker van mekaar geskei.”

Die sterk kontras tussen die lig en die donker in ons lewe moet juis dié doel dien: om die lig in ons lewe helderder te laat vertoon. Die Genesisskrywer sê dat God self die lig van die donker geskei het, dat Hy die lig “goed” genoem het. Die donker word nie vernietig nie, maar dit word op sy plek gesit: nie sentraal nie, maar as iets wat die lig dien. Die donker vorm bloot die agtergrond waarteen die lig sigbaarder is.

Dis die beste nuus denkbaar, maar die probleem is dat ons oë so gou gewoond raak om op die donker te rus. Ons bly vaskyk teen alles wat verkeerd is en ons maak onsself graag wys dat dit die volledige prentjie is.

Maar dit is nie en dit was nog nooit nie. Johannes 1:5 bevat ’n belofte waaraan ons kan vashou wanneer die donker dreig om alles te oorheers, ook ons gedagtes en emosies, en ons dan sukkel om die lig raak te sien: “En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” Ons kan weet dat die lig altyd in die donker skyn, selfs al kan ons dit nie sien nie. Selfs in ons donkerste oomblikke hou die lig nooit op skyn nie.

Wanneer duisternis sy mag verloor

Hoe kry ons dit reg om die lig raak te sien wanneer alles donker voel, wanneer die skaduwees skynbaar alles oorheers?

Eenvoudig: Ons fokus op Jesus deur ons oë doelbewus op Hom te rig. Ons kies daadwerklik om weer en weer na Hom te draai. Ons laat die Gees ons herinner aan wat die waarheid is wanneer ons emosies en gedagtes ons iets anders wil wysmaak.

Ons maak tyd vir die Woord, vir stilte, vir gebed. Dis nie altyd maklik nie, maar ons moet besef dat dit ons oë help aanpas by die lig. Jesus sê in Johannes 8:12: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Dit beteken nie dat daar nooit donkerte sal wees nie. Dit beteken wel dat die donker nooit die laaste woord spreek nie. Jesus dra die storie van ons lewe en Hy bly ons fokuspunt. Op dié manier begin ons hoop se vonkies raaksien waar ons ons voorheen teen die donkerte blindgestaar het. Voor ons moed verloor, breek die lig deur ons duisternis.

Miskien lyk ’n lewe vol geloof dan ’n bietjie soos ’n Rembrandt-skildery: Dis nie eweredig verlig nie en nie perfek gebalanseer nie, maar deurtrek van lig op presies die regte plekke. Ons wandel dan in chiaroscuro, sodat die donker om ons die lig in ons helderder laat vertoon. En die fokuspunt, Jesus die Lig, is duidelik sigbaar vir wie ook al na ons kyk. Nee, die donker het nie verdwyn nie, maar dit het sy mag verloor. Die Lig dra die storie.

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF