Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Oorlog, oliepryse, onsekerheid: ‘Ons enigste sekerheid is in God’

Hoekom is alles so moeilik? Kan dinge nie maar eenvoudiger wees nie?

Die afgelope tyd vra ek myself hierdie soort vrae af. Want ek verstaan dit swaar: Die rentekoerse het lekker gedaal – en net toe ek dink daar kom groot verligting, breek ’n oorlog uit. En die olieprys skiet die hoogte in.

Op ’n dag word gesê die oorlog is nou verby – maar toe breek daar weer konflik uit en die olieprys styg verder.

Dit lyk asof dit ’n patroon word: Net sodra ek dink alles word darem nou beter, word dit eens so sleg. Dis asof die wêreld en die wêreld se leiers nooit regtig tot rus kan kom nie.

Dit lyk my ons leef in ’n wêreld waar onsekerheid die enigste sekerheid is. Ek neem my toevlug na die Bybel en lees Romeine 1:17: “Want daarin word geopenbaar dat die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: Die regverdige sal op grond van geloof leef.”

LEES OOK: Lyding spreek nie die laaste woord nie

Hierdie woorde tref my diep. Dit herinner my daaraan dat geloof nie ’n bysaak is nie, maar die kern van ons bestaan. Die regverdige leef nie in of deur eie krag nie en ook nie vanweë eie planne of eie kennis nie; die regverdige leef deur die geloof.

Dis ’n groot ironie: Net wanneer dit voel asof alles uitmekaar val, blyk dit dat geloof die duidelikste pad aandui. Want wanneer dit goed gaan, leef ek, maklik-maklik, in en deur my eie krag. Maar as onsekerheid my fondamente skud, as dinge skeefloop en ek oorweldig voel, dan kán ek nie anders as om op my geloof staat te maak nie. Of, beter gesê, op die God van my geloof.

Geborg

Wanneer ek niks oor het nie, leef ek deur my geloof in Hom. Dit is dan dat ons seker kan wees van die dinge waarop ons hoop, en oortuig van die dinge wat ons nie kan sien nie (Heb 11:1). Dan besef ek dat ek niks kan regkry omdat ek kamma goed of kwansuis heilig is nie. Ook nie omdat ek soveel goeie dinge doen nie. Alles is die werk van die Here Jesus, wat saam met my die pad stap.

Wanneer ek Romeine 1:17 teen my hart druk, weet ek om slegs een ding te sê: “Here, ek glo! Ek glo in u goedheid en u liefde vir hierdie wêreld. My geloof in U is my lewe. My omstandighede bepaal nie my lewe nie. Ek hou slegs vas aan U.”

Elke dag besef ek dat geloof nie ’n noodplan is nie. Dis nie ’n toevlug vir wanneer die lewe my druk nie. Dis ’n manier van leef, dis die asemhaling van die siel, dis die ritme van elke dag.

Dan werk dit só: Wanneer ek wakker word en die son sien opkom, herinner my geloof my daaraan dat God se trou elke oggend nuut is. Wanneer ek die nuusberigte op my foon lees en my hart swaar word oor die wêreld se gebrokenheid, herinner my geloof my daaraan dat God steeds op die troon sit. Wanneer ek voel dat ek nie meer kán nie, herinner my geloof my daaraan dat sy krag juis in my swakheid volkome word.

Geloof eis nie dat ek alles moet verstaan nie; dit vra bloot dat ek die Gewer van die geloof sal vertrou. Dit eis dat ek my eie planne opskort, dat ek my hande oopmaak en sê: “Here, ek vertrou op U.”

Dis nie altyd maklik nie, nee, maar dis altyd bevrydend. Want wanneer ek deur die geloof leef, dra ek nie meer die las alleen nie. Ek dra dit saam met Hom wat gesê het: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28).

En hier lê ons sekerheid: Die wêreld sál aanhou draai; ekonomiese siklusse sál hul verloop neem; nuwe oorloë sál uitbreek; en daar sál weer vrede kom. Maar die regverdige sal deur die geloof lewe.

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF