Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Jesus se geregtigheid, en sy volgelinge s’n

Simone Gauche foto1: God se genade is groot

Ons is rustig op pad in ons motor toe my oudste seuntjie skielik regop sit en verontwaardig uitroep: “Mamma, kyk wat doen daai oom in die kar hier voor ons! Hy mág mos nie rommel strooi nie!”

Vandat my oudste in die “groot skool” is, is hy baie bewus van reëls en hy let dadelik op as iemand oortree. Daardie minibus-taxi wat onwettig in die middel van die pad stilhou; die morsjors wat rommel strooi; die man wat staan en rook reg onder die kennisgewing wat aandui dat hy nie mag nie – almal word met ’n kwaai seuntjie-wysvinger beduie om dit nie te doen nie.

LEES OOK: Mamma-memoires: Hoekom dra ek skuldgevoel as ‘n ‘badge of honour’? 

Soos dit alte dikwels gebeur, laat sy optrede my twee keer dink. Het ons nie gans te gemaklik geraak met al die verkeerde dinge wat om ons gebeur nie? wonder ek. En ek vra my af: Hoe tree gelowiges op in ’n wêreld vol morele verval? Wat doen ons as die wette en reëls sommerso gebreek word, soms hier in ons onmiddellike omgewing? Hoe raak dit ons getuienis as Jesusvolgelinge?

Dit sal ons baat om weer ’n slag te luister na wat ons Leidsman oor sulke dinge gesê het. Só het Hy dit destyds aan sy volgelinge uitgespel: “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.  

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.  

“Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.  

“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê.  

“Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg” (Matt 5:6, 9-12).

Hoor jy? Jesus roep ons om geregtigheid na te jaag. Hy gee ons ook die (moeilike!) opdrag om vredemakers te wees. En Hy bevestig die ongemaklike waarheid dat ons beledig en vervolg en vals beskuldig sal word wanneer ons volgens sy waardes leef.

Maar dit is die pad wat na vreugde lei, en na die uiteindelike beloning.

’n Alternatiewe leefwyse

Jesus se seënspreuke leer dus sy volgelinge om ’n alternatiewe leefwyse te volg. ’n Gans ander manier van doen. Dit is bitter moeilik, want dit staan lynreg teenoor die samelewing se manier van doen.

Anders as die res van die samelewing moet Jesusvolgelinge nie baklei of verwoes nie, en hulle durf nie oorlogpraatjies maak nie. Hulle moet, inteendeel, aktiviste vir vrede wees, altyd bereid om die ander wang te draai. Bereid om verskree en verdruk te word, in navolging van Jesus se voorbeeld. Hy het tog die Bose oorwin nadat Hy, in volkome oorgawe aan sy Vader se wil, aan ’n skandekruis gesterf het.

Jesus se navolgers mag nie die “maklike” uitweg kies nie; hulle moet kies om te doen wat reg is. Daarom moet hulle, noodwendig, ander definisies vir sukses en geluk vind en dit najaag. Hul waardes lyk dan, vanselfsprekend, anders as dié van die wêreld waarin hulle leef.

’n Alternatiewe leefwyse, inderdaad. Met ’n nuwe identiteit en ’n besliste doel wat hulle in hierdie lewe moet najaag.

Om sigbaar en hoorbaar ánders te wees

Die geluk en seëninge wat Jesus aan sy volgelinge toegesê het, klink dalk onkonvensioneel, maar dit is die pad wat na God se koninkryk lei. Sy geregtigheid bring genesing en nie verdeeldheid nie omdat sy volgelinge kreatiewe vrydenkers is. Hulle word, soos Jesus, “onkonvensionele helde”, mense wat ’n verskil maak en verandering teweegbring waar ook al hulle leef en beweeg. Hulle bring die beste in hul gemeenskap en die breër samelewing na vore.

Hulle moet wel weet hulle sal versoek word, stilgemaak word, geïgnoreer word. Die samelewing sal hul standpunte en leefwyse bevraagteken en sal hulle probeer verander.

Maar die Jesusvolgelinge weet hulle is geroep om sigbaar en hoorbaar ánders te wees. Hulle ken Jesus se verbysterende uitsprake na afloop van sy seënspreuke: “Julle is die sout vir die aarde. Julle is die lig vir die wêreld.” Nooit weer mag hulle vra hoekom die wêreld so donker is en waarom daar soveel oppervlakkigheid in die samelewing is nie. Want húlle is die smaakgewers en die ligmakers. Op húlle rus die duur verantwoordelikheid om ’n wesentlike verskil te maak.

Daarom: Waar seerkry is, bring hulle genesing. Waar onreg is, bring hulle geregtigheid. Waar almal raas en skreeu, bring hulle sagtheid. Só bring hulle hoop in ’n wêreld waar hoop skynbaar vergaan het. En vreugde in ’n wêreld wat lankal ophou lag het.

En só kom hulle dié Jesusopdrag na: “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt. 5:16).

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►