Dalk stoei jy ook soms, soos ek en baie ander, met die vraag “is ek goed genoeg?”
Miskien moet ons mekaar gereeld herinner aan die manier waarop die Mens, Jesus Christus, geleef het. En aan die keuses wat Hy gemaak het.
Ja, ons moet onthou wie Hy was. En wie ons, juis daarom, is.
Die wyse manne was opgewonde toe hulle die ster gesien het. Dit was vir hulle ’n teken dat daar ’n koning gebore is en hulle het hulle gehaas om dié spesiale koning in sy paleis te ontmoet.
Toe gaan staan die ster stil … bo ’n stal. En hier lê ’n baba wat in doeke toegedraai is, in sy skrynwerker-pa en sy gewone-meisie-ma se koestering.
Die Jode was baie bly oor die groot Messias wat hulle uit hul onderdrukking sou kom red. Toe hoor hulle Hy loop in stofstrate rond, tussen gewone mense, en Hy bring ’n ander soort boodskap as wat hulle van Hom verwag het. En wanneer Hy Jerusalem binnekom, in wat ’n triomftog moes wees, ry Hy op ’n donkie sonder saal.
Daar was Skrifgeleerdes en ander slim manne wat nie kon wag om deur die Gesalfde van God onderrig te word nie. Wie weet, dalk kon hulle boonop deel van sy span word … Toe kies Hy eenvoudige vissermanne, en ander mense wat in ’n alledaagse beroep staan, om sy dissipels te wees.
Gou leer die ganse bevolking dat hierdie Jesus kies om Hom met gewone mense te vereenselwig. Boonop mense sonder aansien of status, randfigure, en selfs uitvaagsels soos tollenaars. Almal kom agter dat Hy sy hand en hart draai na mense wat nie geag word nie, wat oorgesien en misgekyk word.
Ná sy kortgeknipte lewe kry Hy nie ’n eervolle begrafnis nie; Hy word weggelê in ’n ander mens se graf.
Maar daaruit sou Hy opstaan en die wêreld vir altyd met Homself verlig.
Hy het eenvoudig geleef, maar Hy word die grootste Redder van alle tye. Hy was ’n gewone mens, maar ook ’n hemelse Koning. ’n Vervolgde, verstote, en aan die kruis ’n Godverlate mens, maar uiteindelik die Verlosser van die wêreld.
Ons almal is gewone mense met ’n gewone lewe – maar ons is soveel meer. Op ons identiteitskaart staan dat ons aan Hom behoort. Ons is sy kinders. Sy uitgesoektes. Sy geliefdes.
Nee, ons is dalk nie glansfigure nie, maar ons is glans-gereddenes. Ons besit dalk nie sakke vol geld nie, maar ons is skatryk in genade en liefde.
Dit mag wees dat ons soms soos ’n vaal muisvoël voel. Maar ons is eintlik sy meer-as-mossies-mens vir wie Hy elke dag sorg, soos Hy dit ook met die veldblomme doen.
Glansryke ek
Here, ek is nie ’n troonbestyger nie
en ek ry nie in ’n koets nie.
Ek sukkel om genoeg petrol in my ou ryding te kry.
Ek kan nie ontwerpersklere bekostig nie;
ek koop by winkels waar ek klere goedkoop kan kry.
Ek dra handgemaakte kostuumjuwele.
Ek leef ’n eenvoudige lewe,
en ek sal nooit naam maak nie.
Ek sal nie ’n voorblad haal nie.
Maar ek bly elke dag
in die veilige omhelsing van u sorg.
My glans lê in U wat deur my straal.
My eenvoud sorg dat U deur my krake skyn.
My naam is op u handpalm,
nee, in u hart gegraveer.
En ek dra reeds ’n ewigheidskaraat-kroon.
Here Jesus, hoe ryk is ek!
Skatryk in genade-liefde.
O, Man van die Kruis en die leë graf,
hoe lief het ek U!
U. Myself. En ander.
Uit die Bybel
“Wat God wil hê, is vir jou lewe kosbaarder as goud; dit is baie meer werd as ’n hele hoop suiwer goud. Om God se wil te doen, bring groter vreugde as die soetste heuning wat daar is” (Ps 19:11).
- Milanie Vosloo is ’n topverkoper-skrywer van verskeie geestelike boeke. Sy is die
stigter en besturende direkteur van Uppe Marketing. Haar passie is om mense te
inspireer.