“Óf jy hol weg óf jy glo die waarheid en maak dit deel van jou lewe.”
Francois Boyce, radio-omroeper en sanger, sê dís wat jou twee keuses is wanneer jy jouself in ’n storm bevind.
Francois van die Hoezit Samelewing-sosiale mediaplatform en sy vrou Amoré het hulle in 2024 in die middel van ’n reuse-storm bevind toe hulle seuntjie Levi met ’n ongewone spasmasindroom gediagnoseer is. “Dit is ‘n rare tipe epilepsie. Hy was vir twee maande in die hospitaal. Dit was niks anders as hel nie. Maar in daardie oomblik besef jy jy preek, praat en motiveer mense al jare met dié woorde: “God is goed. God is ’n God van wonderwerke. Alles werk ten goede mee vir die wat Hom lief het.”
LEES OOK: #hoezitsamelewing-video’s dra vrou deur ‘donkerste’ hospitaaldae
“Deur die Here se genade is ons deur dit. Daarom kan ek met oortuiging sê God ís asemrowend, ten spyte van my omstandighede,” vertel Francois.
Toe hy hoor die gospelsanger Leon Ferreira moet self betaal vir die behandeling van sy prostaatkanker, het Francois besluit hy sal alles wat menslik moontlik is doen om hom te help, en die res in God se hande te laat. “Leon is iemand vir wie ek ongelooflik baie respek het. Hy is ’n nederige man en as gevolg van iemand soos hy, het ek vandag ’n musiekloopbaan. Daarom het ek gevoel dis niks minder as reg om te probeer help waar ek kan nie,” deel Boyce. “Sy medies dek nie sy kankerbehandeling nie, daarom probeer ons fondse insamel sodat hy die nodige behandeling kan bekostig.
Francois het toe ’n nuwe verwerking van Leon se liedjie “Asemrowend” opgeneem met die doel om hiermee te help fondse insamel deur ’n BackaBuddy-veldtog.
“Die boodskap wat ons wou weergee, is dat God asemrowend bly ten spyte van jou omstandighede. Nêrens in die Bybel staan daar die pad van die lewe gaan maklik wees nie, maar daar staan wel – dit is moontlik saam met die Here. Met hierdie lied wil ons graag mense bemoedig. Kies om God te aanbid ten spyte van jou omstandighede, want deur dit te doen, kry jy krag, moed en bemoediging om op te staan en weer te probeer,” sê Francois.
- Op 9 Julie 2025 was daar reeds meer as R87 000 ingesamel vir Leon se mediese behandeling.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















