Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Klein gesinsrituele, groot genade

Dinge om te doen as gesin

Volgens die neurowetenskap skep roetine ’n rustige brein. Gelowiges weet rituele skep ’n standvastige hart. Wanneer dié twee sake bymekaarkom, word die alledaagse heilig. Want selfs die eenvoudigste gesinsrituele kweek geborgenheid en anker geloof, en só word ouers se doen en late ’n weerspieëling van Jesus se liefde.

In die Leroux-huishouding begin elke weekdag met ’n bietjie chaos en baie koffie. Maar tussen skoenveters vasmaak en sportsakke inlaai, is daar iets wat nooit agterweë bly nie: Ma Tanja soen elke seunskind op die voorkop en sê: “Mag die Here jou behoed.”

Dié klein ritueel is in ’n oogwink verby, maar dit herinner elke Leroux-seun bykans 200 keer per jaar daaraan dat sy aardse ma en sy hemelse Vader hom liefhet.

Wat is ’n ritueel?

“Enkele dekades gelede nog het die woord ‘ritueel’ by baie mense ’n frons ontlok.”

Só skryf prof Cas Wepener van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit teologie in Augustus 2025 se Kerkbode. Hy vervolg: “Rituele is óf beskou as geykte gewoontes óf as bygeloof. Deesdae word dié woord wyd aanvaar.”

Volgens Cas raam ’n ritueel ’n bepaalde gebeurtenis. Dit vestig die fokus daarop sodat ons dit nie miskyk nie. “Rituele sê ‘hokaai, wag ’n bietjie, weifel tog net, gee aandag …’”

In ’n sin sou ’n mens kon sê dat rituele ons daarvan bewus maak dat ons nou die drumpel tussen die alledaagse en die heilige oorsteek.

Die klein dingetjies

Ons dink dikwels aan rituele wanneer ons dit aan die “groot” geleenthede koppel: ’n familiebyeenkoms tydens Kersfees; ’n Desembervakansie op Hartenbos; verjaardagkersies doodblaas op die sjokoladekoek wat net Ouma so lekker kan bak.

Sulke geleenthede is inderdaad kosbaar en dit skep spesiale herinneringe. Maar die kundiges wys daarop dat eenvoudige, herhalende rituele ’n groter impak op ’n kind se ontwikkeling het as sporadiese uitsonderings. Sondagoggend-pannekoek,’n tafelgebed, slaaptydstories – dit is die boublokkies van emosionele welstand, karakter en identiteit.

Hoe meer gereeld dit gebeur, hoe meer vertroud raak jou kroos daarmee. ’n Uitstappie na die dieretuin is wel pret, maar jou kind se leefwêreld word deur reëlmatighede gevorm.

Uitsonderlike belewenisse onderbreek die gewone; alledaagse rituele vorm gewoontes. Kinders se waardes, houdings en geloof word deur laasgenoemde geslyp.

Die voordele van gesinsrituele

Volgens die psigoterapeut Maria Spada, wat ook die stigter van Awakened Path Counseling is, gedy kinders wanneer hulle weet wat om te verwag. Voorspelbaarheid gee hulle ’n gevoel van liggaamlike sowel as emosionele veiligheid, en dit is broodnodig vir optimale ontwikkeling. Die brein herken daaglikse en weeklikse rituele as “veilige sones” waar ontspanning en ontlading kan geskied.

Herhaling vorm neurale verbindings wat kognitiewe ontwikkeling stimuleer.

Rituele verlaag kortisolvlakke en kalmeer die simpatiese senustelsel. Dit laat die hartklop bedaar, beveg inflammasie en bevorder konsentrasie en leervermoë.

Dit verminder die angs voor eksamens, toesprake en sportmededinging, en verbeter terselfdertyd prestasie.

Omdat kinders wat gestruktureerd grootword minder stres ervaar, beheer hulle hul emosies beter en gevolglik openbaar hulle minder gedragsprobleme as hul ouderdomsgenote wat nie daardie voorreg het nie.

Rituele kweek veerkragtigheid. Die lewe is vol uitdagings, maar kinders wat positiewe en voorspelbare interaksie met hul gesinslede beleef, hanteer hul probleme beter omdat hulle veilig en selfversekerd voel. Hulle herstel vinniger en makliker ná moeilike ervarings en trauma.

Rituele smee gesinsbande. Kinders wat voel dat hulle “behoort”, is minder geneig om aan depressie of angsversteurings te ly.

Rituele verbeter kommunikasievaardighede. ’n Kind wat gewoonlik tjoepstil bly, gesels dikwels gemaklik by
die huis wanneer elke gesinslid ’n beurt kry om die dag se hoogte- en laagtepunte met die res te deel. Kinders
het ’n behoefte aan ’n ruimte om hul negatiewe emosies te verwoord. So ’n ruimte laat hulle geliefd voel, en sodoende leer hulle lewensvaardighede aan.

Eenvoudige rituele help ouers om hul waardes, oortuigings en kultuurgevoel aan hul kinders oor te dra. Kinders wat hul familiegeskiedenis ken en wat die familietradisies meegemaak het, se geestesgesondheid en selfbeeld is beter as hul maats s’n wat nie dié voorreg ken nie. Sulke kinders weet wie hulle is en waar hulle inpas, en dit bemagtig hulle om met ’n groter doelgerigtheid te leef.

Maak tyd en doen moeite om familiestaaltjies op te diep en oor te vertel. Betrek die grootouers en uitgebreide familie sover moontlik. Wanneer kinders hoor hoe vorige geslagte bepaalde struikelblokke oorkom het, kry hul selfvertroue en vindingrykheid en deursettingsvermoë ’n hupstoot.

Die waarde van geloofsrituele

In Deuteronomium 6:7 word verbondsouers aangemoedig om Bybelse riglyne by hul kinders in te skerp – “as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan”.

Geloofsrituele is veel meer as om bloot struktuur aan ’n situasie te gee; dis heilige gewoontes in ons elkedagse bestaan. Dit help ons om ons Christenskap uit te leef en dit nie net te “preek” nie. Só word dit deel van ons nageslag se kernidentiteit.

Hier is enkele moontlikhede vir elke gesin. Dit sluit rituele in wat vir sommige ouers dalk nie streng by “geloof” hoort nie. Oordeel self en oorweeg dit gerus:

Begin die oggend reg en stem die ganse dag positief. Staan vyf minute vroeër op sodat jy jou kinders met ’n drukkie en ’n “ek is lief vir jou” kan wakker maak. Vra waarvoor hulle vandag voorbidding nodig het en bid dan daaroor, kort en opreg.

Seën jou kinders voor hulle by die deur uitgaan. Wessel Krige vertel dat sy ma hulle elke oggend voor skool met olie gesalf het. “Dit was ’n bron van troos voor elke toets of groot gebeurtenis. Selfs nou, wanneer ons by ’n nuwe plek intrek of ’n projek begin, staan Ma gereed met die olie en ’n gebed. Dis ’n ritueel wat nooit ophou om vrede te bring nie.”

Bid om beskerming wanneer julle in die motor klim. Doen dit bewustelik sodat dit nie ’n betekenislose gewoonte word nie.

Gebruik die tydjie wat julle in die motor op pad is, of julle nou met mekaar gesels of so saam-saam ’n teksvers memoriseer.

Geniet so gereeld moontlik jul aandete saam. Etenstyd is gehaltetyd vir ’n besige gesin; dis soveel meer as om bloot jou leë maag te vul. Volgens die Amerikaanse Akademie vir Pediaters is kinders wat minstens drie keer per week saam met hul ouers aansit se eetgewoontes en liggaamsmassa gesonder as dié van hul maats. Deur saam te eet word taalontwikkeling, geletterdheidsvaardighede en akademiese prestasie bevorder. Dit bied ’n gulde geleentheid aan ouers om hul kinders se gemoedstoestand en gedrag te monitor. ’n Kanadese navorsingstudie het uitgewys dat daar ’n positiewe verband tussen gesinsetes en tieners se geestesgesondheid is. Dit verlaag die risiko vir depressie en selfdoodpogings. Tieners in ’n gesin wat saam met mekaar eet, is minder geneig om alkohol of dwelmmiddels te misbruik of om seksueel aktief te wees. Die waarskynlikheid dat hulle die slagoffers van kuberboelies sal word, is kleiner. Dis wel belangrik om die televisie en selfone tydens die ete af te skakel.

Kies een aand per week om saam aandete te maak. Dek die tafel feestelik. Bid saam en gee elke gesinslid die geleentheid om dankie te sê vir ’n spesifieke seëning. Klink ’n glasie druiwesap en maak bewustelike, liefdevolle oogkontak.

“Bou” ’n dankbaarheidsmuur. Elke gesinslid skryf saans drie dinge op ’n post-it waarvoor hulle daardie dag dankbaar is. Verwyder dié notas gereeld, vou dit op en bêre dit in ’n houer. Dis altyd spesiaal om ’n klompie daarvan op Oujaarsdag weer hardop te lees.

So ’n muur kan ook vir komplimente gebruik word. Een keer per week, op ’n afgesproke dag, skryf elkeen iets moois vir ’n ander gesinslid. Dit kan heel eenvoudig wees, iets soos: “Dankie, Mieke, dat jy die baba vermaak het toe Mamma hoofpyn gehad het. Mamma waardeer jou bedagsaamheid.” Elkeen kry ’n eie houer waarin hulle hul notas bewaar. Dan kan hulle dit weer lees wanneer hulle aanmoediging nodig het.

Sing elke dag ’n loflied saam. Maak beurte om die lied te kies.

Lees vir jou kinders voordat hul slaaptyd aanbreek. Stories kweek empatie en dit verhoog emosionele intelligensie. Dit skep ook geleenthede vir gesprek en dit sorg vir kosbare herinneringe. ’n Kind is nooit te jonk of te oud vir voorlees nie – mits jy die regte boeke kies. Neem jou kinders se onderskeie belangstellings in ag, gee hulle soms ’n keuse, en lees wyd. Die ideale leesstof is gewoonlik ’n trappie bo jou spruit se selflees-vuurmaakplek.

Kies ’n gesamentlike diensbaarheidprojek. “Ons is ’n musikale gesin,” vertel Anri Malan, ’n ma van vier, “en ons oefen saam en gaan speel dan elke tweede Sondag by ’n tehuis vir bejaardes. Ons bederf die inwoners met tuisgemaakte konfyttertjies, wat ook ’n gesinsaktiwiteit is.”

Maak speletjiesaande ’n instelling. Dit leer kinders sosiale vaardighede en goeie sportmanskap. Nooi gerus die grootouers. Dié sukkel dalk om tred te hou met videospeletjies en populêre kultuur, maar hulle kan lekker saamspeel wanneer ou gunstelinge aan die beurt kom. Dit skep ook ’n gedeelde belangstelling tussen Ouma en Oupa en die kleinkinders.

Geniet die buitelug saam. Lê ’n groentetuin aan, gaan stap met die honde of hou piekniek op die grasperk terwyl die son ondergaan.

Dink kreatief. Onthou dat rituele nie iets spesiaals is wat gedoen moet word wanneer almal vir ’n slag daarvoor tyd het nie. Dit moet doelbewus geskep en met volharding onderhou word. Dis die moeite werd.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF