Ons leef in ’n tyd waar “kunsmatige intelligensie” (KI) op almal se lippe is. En op baie se rekenaars en fone. Diesulkes gebruik KI om e-posse te skryf, om navorsing te doen, om vakansies te beplan, en selfs om te besluit wat om aan te trek.
Almal is dit eens: Om KI doeltreffend te gebruik en só jou daaglikse lewe te vergemaklik, is dit noodsaaklik om ’n duidelike en beskrywende opdrag te gee wanneer jy ’n vraag vra. Want as jou riglyne nie helder is nie, kry jy dikwels ’n antwoord wat glad nie verband hou met wat jy eintlik wou weet nie. ’n Duidelike opdrag, daarenteen, kan baie nuttige inligting oplewer, en dit boonop in ’n japtrap orden.
Kortom: Hoe beter jou vraag, hoe beter jou antwoord.
Wat wil jy régtig vra as jy bid?
Ek dink gelowiges kan baie hieruit leer, veral oor hoe ons dinge van die Here vra wanneer ons bid. So dikwels is ons versigtig om duidelike of spesifieke vrae te vra. Dan gebruik ons oorbekende frases en “veilige” woorde.
LEES OOK: Oorlog, oliepryse, onsekerheid: ‘Ons enigste sekerheid is in God’
Ons bid graag in breë trekke, so in die algemeen. Ons vra, byvoorbeeld, dat die Here ons moet seën, dat Hy ons moet lei en moet help, maar ons verswyg die dinge wat in ons leef. Ons vermy die wesenlike vrae wat ons lewe ten nouste raak. Ons word soos die kleuter wat elke aand dieselfde gebedjie prewel: “Dankie vir ’n mamma en ’n pappa en ’n warm bedjie en vir alles wat U vir my doen. Amen.”
Nou ontstaan die vraag: Wanneer laas het jy die Here iets gevra wat jy regtig wil weet? Dalk iets soos: “Here, is hierdie verhouding nog sinvol?” Of: “Is ek werklik gelukkig, of dink U ek is net besig?” Wat van: “Wat sê U: Moet ek gaan of moet ek bly?”
Ons kan dit gerus doen, want ons gebede geskied in die teenwoordigheid van die Een wat oor die wysheid beskik wat ons nodig het om ’n sinvolle lewe te lei. Die Een wat ons lewe na sy wil rig. Ons lees tog in 1 Johannes 5:14-15: “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.”
Die monster onder die bed
Een van die redes waarom ons, so dink ek, bang is om wesensvrae in ons gebede te vra, is omdat ons bang is om ’n duidelike antwoord te kry. Een wat ’n wesenlike verskil in ons lewe sal maak. Ons is soos ’n kind wat in die bed lê, doodbang dat daar dalk ’n monster onder die bed skuil, maar te bang om te kyk. Want daardie kind weet as hy kyk en die monster is wel daar, dit sy lewe onherroeplik sal verander.
Dié beginsel is voor die hand liggend: As ons vrese bevestig word, is daar nie omdraaikans nie. Ons kan doodeenvoudig nie terugkeer na hoe dinge was voordat ons gekyk het nie.
Daarom hou ons maar ons vrae vaag, want ons is bang vir helderheid. Ons gebruik “veilige” woorde, omdat ons bang is vir eerlikheid. Want sê nou God antwoord? En sê nou daardie antwoord is nie na ons sin nie? Sê nou dit eis iets van ons wat ons nie bereid is om te doen of prys te gee nie?
Daarom maak ons liefs nie, soos ons sou dink, slapende honde wakker nie. Dit wat ons nie weet nie, kan ons nie seermaak nie.
Wat die Bybel ons leer
Dis so anders as wat die Bybel ons leer! Ons lees op soveel plekke dat die Here nie vir ons vrae skrik nie. Job, byvoorbeeld, vra sy vrae terwyl hy verward was, en vol pyn. Dawid het soveel van sy psalms geskryf toe hy kwaad was, of bang, of ernstig getwyfel het aan die Here se liefde. En wat van Jesus, wat aan die kruis gehang en uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Die Bybelskrywers probeer nie om geloofsworstelinge weg te steek nie; inteendeel, ons lees dat ernstige vrae dikwels die plek word waar God werklik ontmoet word.
Ons word dus uitgenooi om onder die bed te kyk. Om nie bang te wees vir wat ons daar gaan vind nie. Ons word geleer dat ons gerus kan ophou wegkruip agter mooi en vroomklinkende woorde en openlik sê wat in ons binneste leef.
Dis tog juis in ons eerlike oomblikke dat ons regtig kan sien hoe God se lig skyn, tot in ons donkerste hoekies. En dat ons ontdek dat die antwoorde wat Hy gee nie altyd ’n oplossing inhou nie, maar ’n ontmoeting meebring met Een wat saam met ons deur die donker stap.
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.

















