Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Laat ander mense wees wie en wat hulle is

Ek en my seuntjie speel buite. Hy vra my: “Mamma, wat beteken ‘djy’?”

Ek antwoord: “Dit beteken ‘jy’.”

“Mamma, nou waarom sê my maatjie dan ‘djy’? En nie ‘jy’ nie?”

Geborg

Ek verduidelik aan hom dat ons taal op verskillende maniere gepraat word. Dit hang af waar jy grootgeword het. Dat ‘djy’ en ‘jy’ al twee reg is. Dit klink net verskillend … en dit is eintlik ’n baie goeie ding. 

Ek wil so graag hê my kinders moet weet dat ook hulle nooit hoef sleg te voel as hulle anders as hul maatjies praat of lyk nie. Juis ons uniekheid maak ons spesiaal. “Kyk na al die verskillende voëltjies en insekte om ons,” wys ek hom. “Elkeen lyk anders en tree anders op. En wat van al die diere wat God gemaak het, wat ook van mekaar verskil?” 

LEES MEER: Waarom moet ek vra?

Later dink ek: Diere kry dit reg om te aanvaar wat hulle is, en te aanvaar wat hulle nié is nie. ’n Hond droom nie daarvan om ’n koei te wees nie. Hy verheerlik God deur ’n hond te wees en te doen wat ’n hond doen. Hy vind vreugde in sy hondwees.

Mense is die enigste van God se skepsels wat soms nie hou van wie en wat hulle is nie. Ons streef dikwels daarna om soos iemand anders wees. Ons gee soms voor dat ons iets is wat ons nie is nie. Daarom boots ons ander mense na, daarom is ons afgunstig. En dit het tot gevolg dat ons diskrimineer, verdeel, kwalifiseer en ons losmaak van ons naaste. In plaas daarvan om, te midde van die groot verskeidenheid, bloot lief te wees vir almal en om elkeen se uniekheid te geniet. 

Geborg

God het ons na sy beeld geskape, en deur sy Gees woon Hy in ons. Ons verheerlik Hom deur te wees wie ons is.

As ons dus weerstand bied teen wie ons is, bied ons eintlik weerstand teen Hom, en teen ons eie geluk. En as ons weerstand bied teen wie iemand anders is, steel ons daardie mens se geluk.

Aan die ander kant: Om ons onderlinge verskille weg te wens, of om te maak asof dit nie bestaan nie, is ook nie reg nie. Ons moet ons verskille vier! Dit is tog niks minder nie as God se handewerk.

En ons moet onthou dat almal wat deur God geskape is ’n ingebore en dus Godgegewe waardigheid het. Alle mense kan dus bloot wees wie hulle is. Dat ons met onderlinge verskille geskape is, is nie per ongeluk nie; God het dit doelbewus so gedoen om iets van Homself uit te beeld.

Eendersheid was nooit God se doel nie; eenheid wel.

Ek hoop dat ek my kinders sal kan leer om diversiteit te respekteer, te omhels. Om dit te vier as deel van God se skeppingsplan. Sodat hulle altyd die versoeking sal weerstaan om naarstiglik te probeer inpas in ’n boksie wat iemand anders vir hulle gemaak het. 

Leer ons, Heer …

Toe het God gesê: Laat daar lig wees!
En daar was lig.
Laat daar hemel en aarde wees.
Laat daar land en see wees.
Laat daar plante, bome, grasse en blomme wees.
Laat daar hemelliggame wees, maan en sterre. 
Laat daar visse en waterdiere wees, en voëls in die hemelruim.
Laat daar diere wees: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard.

Geborg

Laat daar mense wees – ons verteenwoordiger, ons beeld.
Mense wat verskillend lyk en praat.
Mense met eiesoortige voorkeure en talente.
Mense wat nie eenders dink en optree nie.
Mense met uiteenlopende passies en gawes.

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, 
as beeld van God het Hy die mens geskep.
Laat ons hierdie verskille respekteer en vier.

Here, leer ons om ander mense te laat wees,
en leer ons hoe om onsself te wees.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Verwante Artikels

© Lig 2023 | All rights reserved.

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.