Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Lesse uit die vuur #3: Die Here was hier, met sy engele

Die dag nadat die brande by ons verby is, vee ons steeds stof en roet op, was alles af en probeer weer normaal asemhaal. Een van die vriendinne wat tydens die ontruiming by ons was, bring ons labrador Brno terug. Hy het oornag by hulle gebly omdat ons nie ’n ander heenkome vir hom gehad het nie.

Terwyl ek haar die skade in en om ons erf wys, die plekke waar dit gebrand het en waar die vuur gestop het, luister sy stil. Toe vertel sy oor die dag van die ontruiming: Op pad uit die kompleks het hulle langs die pad stilgehou en gebid. Hulle het die Here gesmeek, en ons gesin en ons huis aan Hom opgedra. Hulle het gevra dat die Here sy engele stuur om die huis te beskerm.  

Later, terwyl my man besig was om een van die vure te blus wat weer opgevlam het, het ’n bejaarde buurvrou by hom stilgehou. Sy het vertel dat haar seun tydens die ontruiming vir haar gesê het sy moenie bang wees nie. Hy het gesê dat hy ’n visioen gehad het van ’n ry engele wat om hul huis staan en dit beskerm. En, vertel sy, dit het oral om hulle gebrand, maar hul huis het bly staan.

Met verloop van tyd het ek nog baie soortgelyke getuienisse gehoor. Selfs te midde van verlies was daar verhale vol hoop: Die Here was hier, met sy engele.  

LEES OOK: Lesse uit die vuur: ‘Ek kom niks kort nie’

Ek lees weer Psalm 91:9-12 en 14-15: “Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie. Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie. Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red, sê die Here, omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees …”  

Ek hoor hoe vrywilligers die vuur in ’n brandende boom in ons erf geblus het. ’n Brand in ’n ander boom is deur bure geblus toe hulle teruggekeer het om inderhaas van hul besittings te kom red. Nog ander bure, wat besluit het om nie hul huis te ontruim nie, het ’n vuur langs ons grensmuur geblus terwyl hulle hul eie erf beskerm het.  

En toe begin ek ernstig nadink … oor engele. Daar was vir seker hemelse engele wat ons huis beskerm het, maar daar was ook mense wat deur God as sy engele gebruik is. Die hele dag, terwyl die vure beveg is, was mense besig om engelewerk te doen: elke oproep en boodskap; elke bord kos wat afgegee is; elke stukkie klere of kombuisware wat gestuur is; elke rand wat oorhandig is. Alle vrywilligers wat hul tyd gegee en hul lewe gewaag het. Alle noodwerkers en waterdraers. Almal wat gebid of saam met ander byeengekom het om te bid. Almal wat ’n daklose gesin gehuisves het.

So het die beskermende muur gelyk wat deur God gebou is. Ons het by die Allerhoogste skuiling gevind. Ons het sy beskerming beleef.

Ons het ook nuwe waardering gekry vir die rol van menslike engele wat in God se diens staan. Hulle het ons bewus gemaak van ons verantwoordelikheid teenoor mekaar en teenoor die Here. Ons het weer geleer hoe afhanklik ons van Hom is, en van mekaar. Ons oë het opnuut oopgegaan.

En ek onthou Jesaja 43:1-2: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: ‘Moenie bang wees nie, Ek verlos jou. Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou; deur riviere – hulle sal jou nie wegspoel nie. As jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie; die vlamme sal jou nie brand nie.’”  

Ons behoort aan God. Hy belowe nie dat ons nié deur riviere sal moet gaan as ons in Mpumalanga of Limpopo woon nie. Hy belowe nie dat ons nié deur vure sal moet gaan as ons in Mosselbaai, Franschhoek of in ander dele van die Wes- en Oos-Kaap woon nie. Maar Hy belowe dat Hy ons sal verlos. Ons is Syne. En ons hoef nie bang te wees nie, want Hy is by ons. In die water en in die vuur is Hy by ons.  

Toe die rook oplaas lig en die lug weer blou word, het ons besef: Engele kom nie net in visioene en gebede voor nie, maar ook in mense wat mekaar dra. Die vlamme in en om Mosselbaai het verdwyn, maar die lig het agtergebly, ’n lig wat ons daaraan herinner dat God saam met ons deur die vuur gegaan het. 

Ja, die rook het verdwyn, maar die engele is steeds hier.  

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF