Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Lesse uit die vuur: ‘Ek kom niks kort nie’

Dit was veronderstel om ’n lekker kuier saam met goeie vriendinne te wees. Ons sou saam kosmaak by my huis in Mosselbaai, kuier om my eetkamertafel, stories uit ons verlede onthou en tot laataand lag. Die volgende oggend sou ons saam koffie drink en ontbyt geniet. Dit was die plan.

Ons het wel gesien dat daar ’n veldbrand in die verte was. Helikopters het oor die huis gevlieg om water in die see te gaan haal. Dit was warm en die wind het verwoed gewaai. Ons kon die rook oor die berg sien kom, maar het geensins bedreig gevoel nie. My man was by sy werk.

Terwyl ek in die kombuis doenig was, het ek deur die kombuisvenster gesien hoe die vuur se lang vingers oor die berg kruip. Die wind het dit vinnig in ons rigting gestoot. Die een oomblik wys ek nog vir my vriendinne my nuwe huis, die volgende oomblik ontruim ek dit.

Die vuurtonge het oor die berg gespring en dik, grys bolle rook is na ons  toe aangewaai. Ek het die stoof afgeskakel. Ons halfgekookte aandete het net so bly staan.

Ek pak eers die kinders se goedjies. My vriendinne trek vir die twee skoene en klere aan. My jongste is histeries: “Wat gaan ons nou doen? Gaan ons huis afbrand?”

LEES OOK: Wanneer vrees en twyfel soos velcro kleef

Al wat ek kon antwoord, was die waarheid: “Ek weet nie. Maar ons is veilig en ons het mekaar. Dis al wat saak maak.”

Ek het gedink ek het ’n plan in my kop oor wat ek sou inpak as ek ooit die huis moes ontruim. Die werklikheid was egter ver verwyder van daardie plan. Daar was doodgewoon te min tyd om enigiets behoorlik te deurdink.

Ek het my beursie met identiteitskaart gegryp, my skootrekenaar vol foto’s, ’n selfoonlaaier en ons paspoorte. Teen die tyd wat ek by my en my man se klere kom, was daar nie meer tyd nie. Ons móés ry. Ek kry nie my brein in rat nie. Ek struikel met my sandale wat soos loodballe aan my voete voel.

My vriendinne skree: “Ons moet nou ry!”

Vir my jongste sê ek, terwyl die trane rol: “Dis oukei. Ons is oukei. Ons het mekaar. En onthou, liewe Jesus is ook hier. Ons hoef nie bang te wees nie.”

In daardie stadium het ek voor die voet kaste leeggemaak en alles in sakke gesmyt. Geen orde, geen logika. Ek het terug gehardloop om my bril en kontaklense te kry.

My vriendin het gesoebat: “Simone, ons móét nou ry!”

“Ek weet,” het ek geantwoord, “maar as ek nie kan sien nie, sal ek niemand kan help nie.”

My vriendinne se tasse was gelukkig nooit uitgepak nie. Een vriendin laai Brno, ons bruin labrador, sy waterbak en sy kos in haar voertuig. Ek gooi nog tasse in my motor.

Intussen het my man tuisgekom. Hy het probeer om die tuin nat te spuit, daar waar die vuur ons plek eerste sou tref.

Die laaste ding wat ek gesien het toe ek na my kombuis kyk, was my vriendin se halwe koppie koffie op die tafel.

Toe ons oplaas wegkom, waai die eerste vuurkooltjies oor my kop. In die truspieëltjie staan my droomhuis teen die agtergrond van oranje vlamme en bolle rook. Ons val in by ’n lang ry voertuie, almal probeer wegkom. Ek kyk nie weer terug nie, bang ek verander in ’n soutpilaar soos Lot se vrou.

Terwyl ek uit die kloof ry, kom daar ’n bonatuurlike vrede oor my: God is hier teenwoordig. Ek weet nie of ek ooit weer my huis sal sien nie, maar ek weet: Wat ook al gebeur, ons sal oukei wees.

Net U, Here. U is al wat ons nodig het.

Alles wat ek agter my kon sien, het my daarvan oortuig dat ek heel moontlik niks meer sal oorhou as dit wat ek in my motor kon laai nie. Tog weet ek: Die Here is hier. My vrede is nie afhanklik van of ek ’n huis of besittings het nie.

“Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar,” het Jesus gesê.

Iets in my siel voel ligter. Ek besef dat ek nie my besittings nodig het nie. My besittings besit my nie.

Toe ons later die sakke uitpak, besef ons watter noodsaaklike dinge ons vergeet het: My man het geen onderklere of skoene nie, ek het nie hemde nie. Die skoene wat ek ingepak het, is onpaar.

Niemand kan slaap nie. Ons sien foto’s waar die vuur om ons huis woed, vlamme wat aan die vensters lek. Ons besef dat ons waarskynlik nie ’n huis sal hê om na terug te keer nie.

Ek bid Psalm 23: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.” Ek besef dat ons alles het wat ons nodig het. Ons is veilig. Die res is net ’n bonus.

“Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my.” Ek is nie bang vir wat die toekoms inhou nie. Ek kan rus in die Here se voorsienigheid.

“U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly, en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” Ek het nie besittings nodig om die Here se goedheid en liefde te ervaar nie. Ek hét ’n huis, ’n blyplek waar ek altyd tuis sal wees. ’n Tuiste waar geen vuur my kan skroei nie. Waar mot en roes nie verniel nie en waar niks gesteel kan word nie.

En ek dink vir die sóveelste keer hieraan: Presies wat gryp jy as jou aardse woning bedreig word? Wat neem jy met jou saam?

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.
Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►