Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Lesse uit die vuur #5: Die moeilike vrae

“Mamma, hoekom het Liewe Jesus die wind laat waai toe dit so gebrand het?”  

“Mamma, hoekom het Liewe Jesus die reën eers ná die brande gestuur?”  

“Mamma, hoekom het dáárdie huis afgebrand, maar ons s’n nie?”  

Dis groot vrae vir ’n klein lyfie. Maar ek besef ook dat ouderdom nie veel daarmee te doen het nie; oral hoor ek hoe grootmense dieselfde soort vrae vra.

Ja, daar is ander volwassenes wat saam met my (en my kinders) wonder: As almal dan gebid het en as almal op dieselfde God vertrou, waarom het sommiges se huise bly staan en ander s’n nie? Het die mense wat hul huis verloor het dan nie “goed genoeg” gebid nie?  

Al die “waarom?”-vrae …

Nee, dis nie verkeerd om vrae te vra nie, juis ook nie daardie moeilikes nie. Ek is net dankbaar dat my kinders daarmee na my toe kom. Dis vir hulle beter om met ’n liefdevolle ouer daaroor te praat as dat hulle alleen daarmee moet sukkel. Ons leer in die Bybel dat ons hemelse Vader nooit sy rug vir ons draai as ons met moeilike sake na Hom toe kom nie. Dit troos ons om te weet Hy deins nie terug as ons Hom trompop loop met ons “waarom?”-vrae nie.  

LEES OOK: Lesse uit die vuur #4: Vernuwing ná die vlamme

Hy leer ons dat Hy nie die kwaad in die wêreld gebring het nie. Hy het nie sonde geskep nie. Hy laat nie ongelukke gebeur nie. Sy liefde word nie gemeet aan wat verspoel en wat die vloedwater vryspring nie. Hy stig nie brande nie.

Hy belowe wel dat Hy by ons is wanneer die slegte dinge gebeur. Paulus skryf dat hy daarvan oortuig is dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom 8:28).  

Dit is wanneer ons ons op slimstories oor dié dinge verlaat (of op ons eie ego) dat ons op ’n dwaalspoor beland. Dat ons begin glo dis omdat ons kragtiger as ander gebid het dat ons huis bly staan het. Dat ons vaster as hulle geglo en beter as hulle geleef het sodat ons die genade verdien wat na ons kant toe gekom het.

Hierdie soort dwaling word herhaaldelik in die Bybel weerlê. Die Job-verhaal is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Die skrywer sê Job was vroom en opreg, hy het God gedien en die kwaad vermy (Job 1:1). Tog het hy alles verloor.

Ons hoef nie alles te verstaan nie

Daar ontstaan ’n soort skuldgevoel wanneer die ander mense sukkel en swaarkry en groot verliese ly en jy kom skotvry daarvan af. Jy dink: “Dit kon ék gewees het. Hoekom is dit nie ek nie?” Dié soort oorlewing-skuld (survivor’s guilt) word slegs oorkom wanneer besef word dat alles genade is. Dat jy genade nie kan verklaar nie en dit slegs dankbaar kan omhels. En dat jy dan vanuit daardie dankbaarheid begin leef.

Nadat Job alles verloor het, het hy gesê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (Job 1:21). 

Ons sal nooit al die antwoorde hier op aarde vind nie. Ons leef in ’n gebroke wêreld, en te midde van ons beperkte begrip is daar baie dinge wat ons nie kán verstaan of verklaar nie. Maar wanneer ons ons vrae aan ’n Hemelse Adres rig, kry ons vrede in ruil. Dis ’n soort vrede, sê Paulus, wat alle verstand te bowe gaan (oftewel, “alle begrip oortref” – Fil 4:7).

Inderdaad: Ons hoef nie alles te verstaan nie. Ons kan rus in ons vertroue op Hom, en in sy liefde vir ons. Ook Job het dit uiteindelik besef. Nadat die Here lank met hom besig was, het Job toegegee: “Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie; u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.” (Job 42:3).

En ons kan ons gerus by Paulus skaar wanneer hy sy eie onbegrip bely, en sy hoop verklap: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken” (1 Kor 13:12).

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.

Bou ’n Toekoms

Belê in ’n Christelike toekomsplan en laat iets aan die volgende generasie van gelowiges na…

Vertel my meer

Maak ’n nalatenskap

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Vertel my meer

Red ongelowiges

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Vertel my meer

Maak godsdiens vir kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF