Om ons is die heuwels swart gebrand en kaal. Die boom-geraamtes staan spookagtig teen die hange. Die veldbrande het ons wêreld woes en leeg gelaat.
Maar, let ek mettertyd op, daar kom lewe waar ek dit nie verwag het nie. Gouer as wat ek gedink het moontlik is, loer klein groen lote deur die grys lagie as wat die grond bedek. Namate die dae verbygaan, vermenigvuldig die groen spikkels. Die voëls en insekte keer terug. Selfs die vlei-loerie roep weer. Ná slegs een goeie reënbui in die vallei is dit duidelik: Die veld is aan die herstel.
Iewers lees ek dat die as van ’n vuur goed is vir plante. Dit bevat ’n hoë konsentrasie minerale – kalsium, kalium en magnesium. Dit voed die grond deurdat dit die pH-balans herstel. En dít is belangrik vir die natuurlike siklus van die fynbos. Ja, glo dit as jy wil: Die aaklige as verryk die grond en maak nuwe groei moontlik.
Ek leer dat vuur deel is van die fynbos se lewensiklus. Dit hoef nie self te brand nie; die hitte en die chemikalieë in die rook is genoeg om die sade te laat ontkiem. Al wat dit dan kortkom, is die geskenk uit die hemel – reën.
Biologies gesproke bring vuur dus vernuwing, nie vernietiging nie. Wat ons met die oog waarneem, vertel nie die volle verhaal nie.
LEES OOK: Lesse uit die vuur #3: Die Here was hier, met sy engele
Die herstel is wel uitgerek en vind in fases plaas. Dit kan van 7 tot 15 jaar duur voordat die fynbos-ekostelsel ten volle herstel.
Alles ten goede …
Dit alles laat my dink aan die gelykenis van die saaier. Aan die oneindige klomp struikelblokke vir die klein sade wat moet ontkiem. Daar is sóveel plekke waar sade kan val wat hul groei sal belemmer. Maar daar ontwikkel, verrassend genoeg, gunstige omstandighede uit die mees onwaarskynlike. En reeds hier leer ons die waarheid in wat Paulus sou skryf: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom 8:28).
Die vuur in ons vallei het wat mooi en bekend is gesteel, maar die ellendige gevolge was net tydelik. Dit het gestroop, maar toe was daar plek vir nuwe lewe.
Kyk, en luister!
Die lewe in die veld en óns lewe het hierdie raakpunt: Moeilike tye stroop ons, maar dit berei ons ook voor. Die gestrooptheid is dikwels traumaties, maar, dalk sonder dat jy dit besef, vind daar waardevolle voorbereiding plaas. Die Here sorg dat die omstandighede reg is vir nuwe groei. Hy gebruik die seer en die swaar om ons te verander. Die proses is meestal pynlik, en dit voel asof dit nooit sal endkry nie. Maar eensklaps sien jy die nuwe lote. En jy besef dat daar deurentyd lewe was, dat die Lewegewer met jou besig was.
Jesus sluit die gelykenis van die saaier af met dié woorde: “Wie ore het, moet luister!” (Matt 13:9). Mag Hy wat lewe gee waar daar eens doodsheid was, dit ook vir jou moontlik maak om sy eindelose goedheid in jou lewe elke dag te sien en te hoor, te ruik en te geniet. Mag jy, op die regte tyd, die vrugte pluk wat Hy vir jou gereed gemaak het. En wanneer jy op alles terugkyk, mag jy ook die genade kry om sy doel met jou lewe raak te sien. Verheug jou dan daarin!
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.

















