Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

LiG kuier in Australië

Deur Deonette de Kock

Om sonnige Suid-Afrika, jou hartsland, agter te laat en die vreemde aan te durf, verg moed! Twaalf jaar gelede het Gerhard en Annelie Jordaan met hulle twee kinders Lara en Matthys dié skuif gemaak en hulle woon deesdae in Dundowran Beach, Hervey Bay in Australië. LiG het met Annelie oor hulle verhuising na Australië gesels.

Hoekom het julle opgepak en Suid-Afrika verlaat?

Gerhard is ’n meganiese ingenieur wat spesialiseer in vlugtoetse en het nie meer welkom in Suid-Afrika en veral in die Suid-Afrikaanse Lugmag gevoel nie. Die feit dat hy hard moes leer en werk vir sy geleenthede het niks beteken nie. Australië het uitgereik na hom om sy vaardighede daar aan te wend, terwyl Suid-Afrika hom duidelik laat verstaan het dat sy vaardighede niks tel nie, net sy verkeerde velkleur. Boonop was daar ’n beter toekoms vir ons en ons kinders. Ons wou wegkom van korrupsie en in ’n land bly waar daar nog wet en orde is en die land heeltyd opgebou word.

Gerhard by die vliegtuig wat hy self gebou het.

Waarvan hou julle daar?

Dis so mooi om kangeroes in die woongebiede op pad strand toe te sien. Die natuur en voëllewe is ongelooflik, ek kry altyd lus om dit te skilder. Ons hou daarvan dat jy op meriete aangestel word as jy aansoek doen vir ’n werk. Almal help mekaar waar hulle kan. Die veiligheid wat die land bied is ongelooflik en ons los dikwels ons deure oop in die dag. Die polisie is baie sigbaar en oortreders word dadelik vasgevat. Die treine is ook baie veilig. Die staat kyk na mense wat down en out is en daar is ’n sosiale ondersteuningsisteem vir hulle. Gerhard vlieg Saterdae met sy vliegtuig wat hy self gebou het, terwyl ek skilder, my kunswerke bemark en langs die see stap met my hondjie Trixie.

Hoe verskil Australië van Suid-Afrika?

Australië het nie dieselfde mooi en verskeidenheid berge soos in Suid-Afrika nie. Hier is meestal net bloekombome. Die Kaapse berge, Tafelberg en die fynbos se prag is enig in sy soort. Waar Suid-Afrika se skoonheid in berge en dale is, is Australië se skoonheid in teksture en kleure.

Nuwe woonplekke word goed beplan en daar is ’n balans tussen die natuur en beboude dele. Die huise hier word nie met soliede bakstene gebou soos in Suid-Afrika nie, maar met ’n hout- of staalstruktuur en boupanele daaroor. Handearbeid is duur en die Aussies maak ook meestal self hulle huis skoon. Jy kuier nie sommer saam met vriende by jou huis soos in Suid-Afrika nie, maar gaan gewoonlik na ’n eetplek daarvoor.

Hoe verskil die jeug van Suid-Afrikaanse jongmense?

Ek dink die jongmense hier het meer losse sedes as wat ek kan onthou in Suid-Afrika. Oor die algemeen lyk die Suid-Afrikaanse jongmense altyd so goed versorg. Jongmense hier is nie bang om op hulle regte te staan en hulle sê te sê nie. Ek dink ook hulle is nie so bang vir ’n onderwyser soos toe ons op skool was nie. Hier noem die jeug jou op die naam. Ek dink hulle is meer voortvarend as die Suid-Afrikaanse jeug.

Hoe leef julle julle geloof daar uit?

Ons het ons geloof in Australië bly uitleef deur kerk toe te gaan, Bybel te lees en te bid. As ’n mens hier kerk toe gaan is dit omdat jy regtig wil, niemand verwag dit van jou nie. Ek het die wonderlikste mense in die kerk ontmoet. Op die oomblik is die kerke nog nie oop nie, maar jy kan na die dienste op die internet gaan kyk. Jy moet vooraf by ’n kerk registreer as jy ’n diens wil bywoon. Ek was ook nog altyd deel van ’n Bybelstudiegroep. As ’n mens hier deel is van die kerk, werk jy voluit, bedien tee en koffie na kerk, rangskik blomme in die kerk en Saterdae moet die gemeente vrywillig die tuin gaan help versorg.

Annelie en Gerhard is baie gelukkig in Australië, hoewel hulle hulle familie en vriende mis.

Hoe het Covid-19 julle beïnvloed?

Ons was vanaf Januarie vanjaar in Moses Lake, Washington in die VSA vir ses maande toe Gerhard werk daar kry. Ek het gestap, geteken, nuus gekyk op TV en my waterverftegnieke verbeter. Donald Trump het Covid-19 afgemaak as iets wat sal oorwaai en nie almal het maskers gedra nie. Daar was ’n tekort aan maskers en ek het vir ons maskers gemaak met ’n geleende ou naaimasjien van my man se swembroek. Gerhard het later by die huis kom werk en teen einde Mei was hy sonder werk. Ons moes binne 60 dae uit Amerika wees.

LEES OOK: LiG kuier in China

Einde Junie was ons terug in Australië waar ons twee weke in kwarantyn geplaas is en daarna het Gerhard in Hervey Bay begin werk. In Australië vat die regering Covid-19 ernstig op en beperk samedrommings. Daar is geen gevalle in Queensland nie en hulle maak seker dit bly so.

Hoe vier die Australiërs Kersfees?

Baie Aussies maak ’n groot ding van Kersfees, presente is belangrik en die families kom bymekaar. Hulle hou van hulle seekos en skottelbraai en braaivleis met slaaie omdat dit so warm is. Hulle kampeer langs die strand onder groot tente saam as families. Hier is baie saamgestelde families, meestal geskei of dié wat saambly. Om te trou is nie belangrik nie en die staat beskou paartjies wat saambly as getroud. Ons seun Matthys en sy meisie Karla kom vier vanjaar Kersfees by ons. Gewoonlik gaan ons eers na die oggenddiens by die kerk, dan eet almal ’n groot middagete en eindig almal in die swembad. So ons behou ons tradisies. Die Aussies wat nie Christene is nie, hou groot partytjies en gaan oorboord met kos en drank en hope presente.

Wat mis julle van julle geboorteland?

Ons mis ons familie en vriende. My ma is bejaard en dit is moeilik om net oor ’n telefoon te praat. Ek mis die Kaapse berge en die reuk van reën op die grond. Ek mis ook die spontane kuiers en lag vir Afrikaanse grappe, die taal en die bruin mense se pittige sêgoed. Ons mis ’n houtvuur en braaivleis. Ons koop die meeste Afrikaanse produkte, soos koeksisters, beskuit, droëwors, biltong, boerewors en andere by die African shop.

Maar veral mis ek die mooi tye in Suid-Afrika en om heeltemal te behoort. Gelukkig het ons mooi herinneringe. As ek in die vroeë oggendure op die strand stap, verbeel ek my soms dis Buffelsbaai se wit strand waar ek as kind ure langs die see deurgebring het.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF