Die ou wat die vleis braai begin vertel van sy neef se vriend se neef (‘n “Jannie”, blykbaar). Dis geen finansiële slenter nie! Hy spog met die ongelooflike geleentheid terwyl hy die boerewors sommer met sy hande omdraai. Dan vertel hy entoesiasties verder: Sy geld het in vier maande verdriedubbel!
“My neef sê Jannie het ‘n nuwe maatskappy geskep. Pyramid Profits Unlimited. Met ‘n finansiële lisensie en als.” Voor jy weer sien, is jy op ‘n WhatsApp-groepie, PPU Profit Partners Groep 13. Saam met “geen risiko”, gebruik die Profit Partners op die groep groot woorde soos “gediversifiseerde alfasentriese portefeuljes” en “verskanste groeimodel met lae onttrekkingspotensiaal.”
Al jou spaargeld oorbetaal!
Ses maande later verlaat almal PPU Profit Partners Groep 13. Jannie blokkeer jou nommer en Pyramid Profits Unlimited se webwerf verdwyn oornag. Die yskoue besef dring tot jou deur: Al jou spaargeld sowel as die kwansuise winste, is daarmee heen. Dit was ‘n finansiële slenter!
Hoekom het ek in die gat getrap?
Hier is ses rooi vlae om ‘n finansiële slenter raak te sien:
#1 Finansiële slenter rooi vlag | “Moenie te veel vrae vra nie”
Jou braaier-vriend het mos genoem Pyramid Profits Unlimited het ‘n finansiële lisensie. Het jy seker gemaak? As die instelling nie by die Finansiële Sektor Gedragsowerheid (oftewel FSCA) geregistreer is nie en die Finansiële Diensteverskaffer (FDV) lisensienommer nie prominent vertoon nie, is dit ‘n groot rooi vlag.
Dit is onwettig om finansiële produkte aan iemand te verkoop as die verskaffer of tussenganger nie daardie nommer het nie. Gaan maak seker op FSCA se webtuiste. As daar nie so ‘n instelling is nie, kan jy aanvaar die enigste lisensie in Jannie se besit is vir sy vissersboot.
#2 Finansiële slenter rooi vlag | Onmoontlike opbrengste
As iemand vir jou sê hulle kan jou geld verdriedubbel in só ‘n kort tyd, en dat daar “geen risiko” aan die belegging verbonde is nie, moet jy maar hardloop. Selfs die mees stabiele beleggings soos staatseffekte waarborg nie vir jou ‘n fortuin nie. Veral nie oornag nie. As dit te goed is om waar te wees, is dit heel moontlik ‘n bedrogspul. Jannie weet baie goed dat ‘n 300% per maand opbrengs jou aandag sal trek. En só vang hy jou.
#3 Finansiële slenter rooi vlag | Informele kommunikasiekanale
Deesdae is dit gebruiklik vir selfs die grootste finansiële instansies om digitale kommunikasieplatforms soos WhatsApp te gebruik. Dit is doodnormaal en dikwels meer effektief as in-persoon interaksies.
Wanneer dit gebeur, vra jouself af: sal ‘n professionele finansiële diensverskaffer werklik groepies soos PPU Profit Partners Groep 13 stig? Wees ook op die uitkyk met wie jy gesels. Indien dit ‘n ander kliënt is wat namens die diensverskaffer die produk aan jou verkoop, wees versigtig. Onthou, FDV’s se verteenwoordigers en sekere van hul administratiewe personeel moet as sulks by die FSCA geregistreer wees. Nie enige Jan(nie) Rap en sy maat mag aan jou finansiële produkte verkoop nie!
#4 Finansiële slenter rooi vlag | “Nou of nooit!”
Dikwels is dit swendelaars se strategie om jou onder druk te plaas. Hulle wil juis hê jy moet die fynskrif oorslaan en wil so gou as moontlik hul kloue in jou welverdiende spaargeld slaan. Betroubare firmas verstaan die belangrikheid van omsigtigheid en sal jou geduldig lei deur al hul nakomingskontroles en regulatoriese verifikasies.
#5 Finansiële slenter rooi vlag | Groot, indrukwekkende woorde
Het jy al ooit van gediversifiseerde alfasentriese portefeuljes en verskanste groeimodelle met lae onttrekkingspotensiaal gehoor?
Ek ook nie. As nie jy, of die braaier of Jannie kan verduidelik wat dit beteken nie, is die kanse goed dat dit bloot ingesluit word om jou te verwar.
#6 Finansiële slenter rooi vlag | “Los net jou geld by ons”
Hoe werk ‘n Ponzi-skema? Jannie vat jou geld, betaal ‘n paar vroeë beleggers met nuwe mense se bydraes, en hou almal gelukkig met groot beloftes van strandhuise. Dit werk net solank daar genoeg nuwe “slagoffers” is wat hul geld insit.
Wanneer winste skielik “vir jou voordeel herbelê” word of jou onttrekkings word “bloot uitgestel weens groot aanvraag”, is daar ‘n groot moontlikheid dat daar nie genoeg “nuwe” geld inkom om jou onttrekking te eerbiedig nie. Wanneer mense uiteindelik begin vrae vra (of die WhatsApp-groep stil raak), verdwyn Jannie en sy binnekring vinniger as daardie aanvanklike wors op die rooster.
Dit is jou verantwoordelikheid om die besonderhede van enige aanbieding te verifieer. As jy onseker is of net dubbeld seker wil maak, gaan win éérs professionele leiding en gemagtigde advies in voordat jy finansiële geleenthede evalueer.
Kastelo is ‘n geregistreerde en gemagtigde finansiële diensverskaffer (FDV 51074), wat deur die Finansiële Sektor Gedragsowerheid en die Suid-Afrikaanse Reserwebank goedgekeur is. Vir meer inligting, kontak Kastelo hier.
Artikel geskryf deur Duan Craffert.
Die sienings en menings in hierdie artikel is dié van die skrywer en is nie finansiële, beleggings- of regsadvies nie. Lesers word aangemoedig om hul eie omsigtigheidsondersoek te doen en met ‘n gelisensieerde finansiële adviseur en/of regspraktisyn te konsulteer voordat hulle enige beleggingsbesluite neem. Die staaltjie is heeltemal fiktief, en die karakters, name en scenario’s wat beskryf word, is nie gebaseer op enige werklike persone, entiteite of gebeurtenisse nie. Enige ooreenkoms met werklike persone of gebeurtenisse is bloot toevallig. Alhoewel die “rooi vlae” wat uiteengesit is bedoel is om algemene waarskuwingstekens van bedrieglike skemas uit te lig, is dit nie volledig-aanduidend nie. Sommige wettige entiteite mag een of meer van hierdie kenmerke onder spesifieke omstandighede vertoon en, omgekeerd, sal sommige swendelaars moontlik nie sodanige tekens vertoon nie.