Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Dít dra my deur ons kind se kanker’

Anja Coetzee veg saam met haar sesjarige “Mia Muis” teen ʼn rare kanker. Sy deel met LiG dié dinge wat hulle gesin deur hierdie moeilike tyd dra.

Deur Conette le Roux

Anja Coetzee se dogtertjie Mia (6) is een van die jongste kinders in Afrika met ʼn jellie-agtige kankergewas (chordoma) naby haar breinstam. Die gewas het reeds haar clivus (die middelpunt van die skedel se “voetstuk”) en ʼn gedeelte van haar eerste nekwerwel vernietig. Na ʼn operasie waar ʼn klein gedeelte van die gewas verwyder is en bestraling, het die gewas weer begin groei. Die dokters sê dat hulle nie meer iets vir haar kan doen nie, en dat hulle slegs die pyn (veral in haar nek) kan beheer. Anja deel met LiG die dinge wat hulle gesin op die oomblik dra.

Familie

Ons is bevoorreg dat beide my en my man Stephen se ouers in Wellington bly. My broer en sy susters is ook nie te ver nie. Almal help waar hulle kan, ook met sussie Lara se vervoer skooltoe. En as ek en Mia in die hospitaal is, bly Lara by my ouers.

Vriende

Boodskappies van bemoediging, hulp met fondsinsameling, mense wat kos vir ons maak, en stywe drukkies gee – dit help ons baie. En natuurlik almal wat vir ons Mia Muis bid.

Sosiale media

Alhoewel ek nooit baie bedrywig hierop was nie, het ek vining besef hoeveel dit vir ons beteken – veral Facebook. Deur Mia se Facebookblad hou ek almal op hoogte en skep bewusmaking van haar siekte. Deur Facebook het ek nog chordoma-ouers in ander lande opgespoor en kon ons stories uitruil. Ek is besig om ongelooflike inligting in te win wat bes moontlik vir Mia vorentoe kan help. Ek het ook ’n WhatsApp-groepie vir naby vriende en familie.

Mia

Soos die dokters sê: “This is a feisty one”. Sy laat nie met haar mors nie. Sy is ’n fighter en daarom fight ons net so hard vir haar. As Mia by my is, sal jy my selde sien huil. Ek dink dis my glimlag wat dan die traankliere toedruk, want voor haar probeer ek sterk wees.

Geloof

“Die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jes 40:31).

Ek glo op die ou end is dit die Here en almal se gebede wat ons dra. Ek weet die Here het lankal Mia se pad uitgelê en ek glo dit gaan tot genesing lei!

Daar ís hoop

LiG-lesers kan Mia help om oorsese mediese hulp te kry deur geld te skenk: Absa, Mia Coetzee, 9338703426 (spaar), 632005. Gaan lees meer op Mia se Facebookblad.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.