Tatoeëermerke is lankal nie meer die waarmerk van willewragtigs nie. Daar is die ma wat haar kinders se name op haar vel laat aanbring. En geliefdes wat ’n betekenisvolle simbool deel. Vele Christene vertel hul geloofsverhaal op hul lyf. Maar … is dit dan nie sonde nie?
DEUR CONETTE LE ROUX
Die dae toe tatoeëermerke net op die bultende arms van bendelede, geharde matrose, grynslaggende tronkvoëls en wilde motorfietsryers gepryk het, is verby. Heeltemal verby.
Deesdae verklap die tatoeëermerke op mense se lyf nie meer hul sosiale status, die groep waaraan hulle behoort of hul stokperdjie nie. Dis ook nie meer ’n teken van rebelsheid of ’n algemene misnoeë met die samelewing nie.
Vra maar vir dr Hanré Janse van Rensburg, ’n teoloog wat aan die Universiteit van Pretoria verbonde is. Sy sê: “My tatoeëermerke vertel van my verbond en my verhaal met God.”
Haar eerste tatoeëermerk was dan ook die Latynse woorde “sola gratia” wat “genade alleen” beteken.
Die 41-jarige Herman (Harry) Strydom, eienaar van een van die Disciples Ink-takke, beaam dit:“Die dae toe net rowwe diamante hier ingekom en vir ’n tatoeëermerk gevra het, is lánkal verby.”
Stap dan gerus by dié tatoeëer-ateljee, oftewel “street shop”, in Durbanville in – en moenie verbaas wees as jy slegs “gewone” mense hier aantref nie. Almal wat besluit het om ’n ink-prentjie op hul lyf te laat aanbring.
Sommer oor middagete. Herman sê-vra: “Weet jy hoeveel ma’s kom hier in om hul kinders se name en geboortedatums op hul lyf te laat tattoo? En mense wat ter nagedagtenis van ’n gestorwe dierbare dié se naam wil aanbring?”
Hy vertel ook dat dit teen hul beleid is om tatoeëermerke wat nie met Christelike waardes strook nie aan te bring. Hy het byvoorbeeld net die vorige week geweier om ’n okkultiese simbool op iemand se lyf te tatoeëer.
Hoekom doen mense dit?
In ’n VSA-peiling wat in 2015 gedoen is, is uitgewys dat een uit elke drie Amerikaners tatoeëermerke op hul lyf het.
’n Studie deur die Anglia Ruskin-Universiteit in die Verenigde Koninkryk het bevind dat mense tatoeëermerke om hoofsaaklik drie redes laat aanbring:
- Die betrokke persoon is ’n ekstrovert en hou doodgewoon daarvan.
- Daar is diegene wat deurgaans na“interessante ondervindings” op soek is.
- Daar is ook dié wat ’n behoefte daaraan het om uniek of minstens“anders” te wees.
Daar is deesdae ook talle mense wat tatoeëermerke laat aanbring om hulle te herinner aan dinge of gebeurtenisse wat ’n groot betekenis in hul lewe het.
Herman het ’n voorstelling van Jesus op sy linkerbeen laat tatoeëer nadat hy tot bekering gekom het. Hy vertel: “Ek het ’n wilde lewe gehad. Drank en dwelms. Totdat ek amper my arm in ’n motorfietsongeluk verloor het.
“Ek is rehab toe, en het ook tot bekering gekom. My linkerbeen is nou my getuienis.”
Ook Anton Strydom (36) van Wellington se tatoeëermerke vertel ’n betekenisvolle storie: “My vrou se naam staan op my hart. Op my een binne-arm is ‘faith’ geskryf. Die woorde ‘Jesus is my saviour’ is op my voorarm. My dogtertjies se name is op my skouer.
“Ek is nie skaam om te sê dat Jesus my Verlosser is nie. Al my tattoos is soos ’n proclamation of love.”
Eddie Lomas, ’n grafiese ontwerper in Kaapstad, se tatoeëermerk het vir hom ook spesiale betekenis. “My tattoo is ’n verwerking van die Katolieke ‘Sacred Heart’, maar ek het dit aangepas en ontwerp om vir my ’n persoonlike betekenis te hê.
“Nou is dit ’n hart met vlerke. Om die hart is dorings gedraai, en bo-op die hart is ’n kroon. Oor die hart staan die naam ‘Yahweh’ in Hebreeus geskryf.
“Die hart spreek van die Here (Yahweh) se liefde, en die vlerke van dié liefde wat aarde toe gekom het. Die dorings verwys na sy dood, en die kroon na sy opstanding en heerskappy.
“Soos ons in 1 Johannes 3:16 lees: ‘Ons het die volmaakte liefde leer ken: dit is dat Christus sy lewe ter wille van ons afgelê het …’”
Mari en Louis van As, ’n Gautengse paartjie, het met hul tiende huweliksherdenking identiese tatoeëermerke op hul onderskeie lywe laat aanbring: ’n anker binne-in ’n kompas waarin hul troudatum aangebring is.
Binne-in die kompas is daar ook ’n klein skippie. Louis vertel: “Dit alles is simbolies van wat ons vir mekaar beteken. Kortweg beteken dit: ‘Be the one to guide me but never hold me down.’
“En die klein skippie in die middel beteken: ‘I am the captain of my ship by God’s grace.’”
Die bekroonde skrywer Pierre du Plessis, wat ook ’n pastoor is, se tatoeëermerke simboliseer sy reis as Jesusvolgeling. ’n Swaeltjie vertel van sy reis. Ook dat jy ver gaan, maar altyd weer terugkeer.
Die skepe op sy lyf het vir hom ’n missionale betekenis. “Skepe is vir die oop see gebou, nie om in die hawe te bly nie.”
’n Lighuis is die simbool vir redding.
Op sy lyf pryk ook sy kinders se name. En rose, wat hom aan sy vrou laat dink.
Maar dié kreatiewe mens, wat al ’n mode-ontwerper was en ’n pos in die advertensiewese beklee het, het ook ander tatoeëermerke op sy lyf. “Bloot omdat dit vir my mooi is.”
Anya Paxton van George het net een tatoeëermerk. “Op my pols. Dis ’n herinnering aan my oorlede broer, Eron Burmeister,” vertel sy.“My sussie het dieselfde ‘tat’ op dieselfde plek. Dis ’n prentjie van ’n perd, presies soos op die CD-omslag van Eron se gunsteling-‘band’.
“Ons het dit laat doen om ons enigste broer te onthou en hom naby aan ons te hou.”
Is dit nie sonde nie?
Daar kleef steeds ’n stigma aan die inkprentjies op mense se lyf.
Anton sê hy kry “vreeslike kyke” as hy by ’n plek instap met sy baard en ’n arm vol “tats”. “Ek glo egter: ‘Don’t judge a book by its cover.’
“Dis mos nie wat buite is wat belangrik is nie, maar wat binne is. En natuurlik is daar perke! Ek gaan beslis nie drake en sulke goed op my laat ‘tattoo’ nie.”
Eddie sê dis persoonlike oortuiging wat die deurslag moet gee. “Dis tussen jou en Hom. Ek glo sonde is enigiets wat tussen jou en God kom. Dit wat jou van God af weghou. As ’n ‘tattoo’ op jou vel dit vir jou gaan doen, bly dan weg van die ink en bly naby aan God!
“Maar as ander mense se ‘tattoos’ tussen jou en God kom, het jy dalk groter probleme om oor bekommerd te wees …”
Pierre verwys na die bekende teks in Levitikus 19 wat gelowiges verbied om tatoeëermerke op hul liggaam te laat aanbring.“Maar dan moet jy konsekwent wees, verder lees en aan ál daardie voorskrifte voldoen. Soos dat iemand wat sy ouers vloek, doodgemaak moet word.
“God gee baie meer om oor jou karakter as oor ’n tatoeëermerk op jou lyf.”
Jaco Strydom, bekende Pretoriase predikant en stigter van die Echo-jeugbediening, sê: “Die afsny van die hare voor jou ore word in dieselfde Levitikus-vers verbied. En in vers 19 word die dra van ’n kledingstuk verbied wat uit meer as een soort materiaal gemaak is.
“Jy kan mos nie die gedeelte oor die tatoeëermerke ernstig opneem en nié die res nie? Dis belangrik om te onthou dat Levitikus 19 teen die spesifieke heidense gebruike van daardie tyd gerig is.”
Dink voordat jy ink
Jaco Strydom sê die volgende oorwegings is belangrik voordat jy die besluit neem om ’n tatoeëermerk op jou lyf te laat aanbring:
- As jy nie oukei is sónder ’n tatoeëermerk nie, gaan jy nie eensklaps oukei mét een wees nie. Die Bybel leer ons dat die belangrikste in ons lewe dit is wat in ons hart gebeur. ’n Mens wat wil verander, moet dit van binne af buitentoe doen.
- Tatoeëermerke is permanent. Jy kan dit deesdae wel afhaal – maar dan met baie geld, baie moeite, baie pyn … Dink mooi voordat jy die besluit neem om een te laat aanbring; die lewe verander. Én jy.
- Bly weg van okkultiese en anti-Christelike simbole. As jy sê jy is ’n Jesusvolgeling maar die ‘tattoo’ sê iets anders, is jy mos skynheilig.
- Moenie oordeel nie. Aanvaar mense met tatoeëermerke. Ons word nie deur God geroep om ons neus vir ander mense op te trek nie. Jesus het ’n gróót probleem met hoogmoedige mense gehad.
Veiligheid eerste!
’n Tatoeëer-ateljee waar die werk “veilig” is, beskik ten minste oor die volgende:
- ’n Mediese-afvalverwydering- en omgewingsbeleid
- Registrasie by die plaaslike munisipaliteit as ’n “hazardous waste generator”
- Personeel wat in noodhulp opgelei is
- Personeel wat opgelei is in die hantering en voorkoming van bloedoordraagbare patogene.
- Besoek Disciples Ink se webwerf by www.disciplesink.co.za
- Besoek www.echoyouth.co.za en soek na “tatoeëermerke”.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.