Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

 ‘Mishandeling is nie net bloed en bloukolle nie’

Daar is sóveel mense wat voor my kom sit en vertel wat in hul verhouding en huwelik gebeur … sonder om te besef dat dít wat hulle beskryf niks anders as mishandeling is nie.

Hulle word selfs gemanipuleer om sekere leuens te glo sodat húlle die blaam vir die huweliksprobleme aanvaar. Sommige van dié mense glo, byvoorbeeld, dat daar bloed en bloukolle moet wees ten einde as mishandeling geklassifiseer te word.

Of dat dit normaal is as ʼn paartjie mekaar emosioneel afbreek wanneer hulle baklei.

Of dat die een wat vra dat hulle die konflik eerder konstruktief moet benader en oplos oorsensitief is.

Suretha, ʼn 47-jarige vrou wat tien jaar lank onder haar man se abnormale beheer geleef het, het erken: “Ek het by hom gebly omdat hy my nooit geslaan het nie. Ek het altyd gedink dat dit net mishandeling is as jy geslaan word.”

LEES OOK: ‘Ek is mishandel, verkrag, verwerp, verlaat – maar God het ’n plan met my lewe’

Die behoefte om die ander een te beheer

Ja, daar is konflik in elke huwelik, want mense verskil van mekaar, maar dit is beslis nie normaal óf aanvaarbaar wanneer dit herhaaldelik emosioneel, fisiek, of seksueel afbrekend is nie.

Sommige mense het die behoefte om ander te beheer, en die maklikste manier om dit reg te kry is om die ander een emosioneel te manipuleer. “Doeltreffende” emosionele manipulasie is die vernaamste rede waarom mense in ʼn verhouding bly, selfs al word hulle mishandel.

Ons sien dit raak, maar ons sien dit nie altyd vir wat dit is nie. En weet dikwels nie wat om daarmee te maak as dit met onsself of met mense om ons gebeur nie.

Wat is normaal?

Hoe weet ʼn mens dan of dit wat in jou verhouding gebeur normaal is?

Alhoewel daar verskeie rooi ligte is wat begin flikker, is isolasie een van die manipulasietegnieke wat relatief eenvoudig is om raak te sien. Manipuleerders weet dat dit soveel makliker is om iemand te beheer as daar nie werklik mense in die omgewing is wat die gemanipuleerde weer kan opbou as jy hulle emosioneel afbreek nie.

Soos met die meeste ander manipulasietegnieke begin die isolasie gewoonlik subtiel, maar uiteindelik word daar op ʼn slim manier feitlik geen kontak met mense toegelaat wat nie die manipuleerder se afbrekende gedrag aanvaar nie. Suretha het dit goed beskryf: “Ek is geïsoleer van my familie en vriende omdat hy my laat glo het dat slegs hy vir my lief is. Elke aand, net nadat hy by die huis gekom het, het hy my selfoon deurgegaan. En indien ek daardie dag met iemand anders gepraat het, het hy daarop aangedring dat ek vertel waaroor die gesprek was.

“My sosialemedia-platforms mag nie wagwoorde gehad het nie. Hy het dus toegang tot alles in my lewe gehad. Hy sou my op enige gegewe tyd in die dag bel om te hoor waar ek is. My wêreld was baie klein en ek was voortdurend angstig, vol vrees dat ek sy reëls sou oortree.”

ʼn Ander aspek wat manipuleerders dikwels wil beheer, is die gemanipuleerde se fisieke voorkoms. Dis gaaf om moeite vir jou geliefde te wil doen omdat jy weet wat vir hom mooi is. Dis egter iets heel anders om jou voorkoms te verander sodat hy dit moet goedkeur, en om slegs die klere te dra waarmee hy tevrede is. Of om jou hare volgens sy voorkeur te kleur, al wil jy eintlik anders lyk.

Suretha vertel: “Ek moes te alle tye sy goedkeuring verkry. Ek het nooit die geleentheid gekry om my mening te lug nie. Hy het alles gekritiseer – my klere, my gewig, my grimering. En selfs my mening oor ʼn bepaalde onderwerp. Ek was later daarvan oortuig dat ek nie intelligent is nie.”

Die afbreekproses

Aanhoudende afbrekende kritiek het tot gevolg dat mense aan hul vermoëns begin twyfel. Om uitgelag te word wanneer jy ernstig of opreg is, ontneem alle mense die vrymoedigheid om hul mening te lug.

Sarkasme en afbrekende grappe is uiters doeltreffend as jy wil hê dat die ander een volgende keer twee keer moet dink voordat hulle iets sê, veral wanneer dit voor ander mense gebeur. Niemand hou daarvan om verneder te word nie en niemand wil hê dat die mens vir wie jy lief is minder van jou moet dink nie.

Natuurlik word dit dikwels gevolg deur ʼn belediging, of selfs verdere verkleinering. En nóg veralgemenings, soos: “As jy nie eens meer ʼn grap kan vat nie, is ek regtig bekommerd.” Of selfs: “Jy is heeltemal oorsensitief; álmal weet dit was net ʼn grappie.” Of: “Niks wat ek doen, is volgens jou ooit meer reg nie.”

Druk-en-trek, en die mag van geld

Die manipuleerder weet goed om nie slegs afbrekend te wees nie. Mishandeling is dus gewoonlik ʼn druk-en-trek-proses. Die manipuleerder druk jou weg met afbrekende gedrag, onder meer kritiek, beledigings, woede-uitbarstings, stilstuipe, onregverdige verwyte en verskeie ander “tegnieke”. Sodra dié een egter besef dat die gemanipuleerde of iemand anders moontlik insig in hul gedrag kan verkry, trek hulle die slagoffer weer nader met iets soos ʼn geskenk, mooi woorde, of verdere (leë) beloftes.

Wanneer ʼn mens in ʼn patroon van afbrekende gedrag vasgevang is, hetsy deur emosionele of fisieke mishandeling, smag jy na iets wat opbouend is. In baie gevalle word die gemanipuleerde byna soos ʼn dobbelverslaafde, wat elke keer opnuut hoop kry ná ʼn wenslag, al hang die skaal veel swaarder aan die verloorkant.

Volgens Suretha het haar man sy beheer oor haar met finansiële sekuriteit verbloem. “Elke keer wanneer hy die grens te ver oorgesteek het, is ek met pragtige juwele of  ʼn nuwe rok bederf,” onthou sy. “Daar was by my ʼn gevoel van veiligheid omdat hy finansieel so goed vir my gesorg het.

“Ek dink die finansiële afhanklikheid was ook ʼn groot rede waarom ek hom nie vroeër verlaat het nie. Vandag, as ek hierop terugdink, besef ek hoe disfunksioneel ons lewe was.”

Manipuleerders weet alte goed hoe doeltreffend dit is om die gemanipuleerde te laat glo dat sy bevoorreg is om met iemand soos hy getroud of in ʼn verhouding te wees. Én om haar daarop te wys hoe moeilik, selfs onmoontlik, haar lewe sonder hom sal wees.

Wanneer jou oë uiteindelik oopgaan …

In baie gevalle bly die dinamika in die verhouding presies so, selfs jare. In ander gevalle gebeur daar iets wat erg genoeg is om die gemanipuleerde se oë oop te maak.

Suretha vertel: “In die laaste jare van my lewe saam met hom het ek bloot ‘bestaan’. Ek het geen mening meer gehad nie, ook nie oor my eie welstand nie. Ek het doodeenvoudig sy bevele gevolg, sonder vrae. Vriende en familie het hulle toe lank reeds onttrek.

“Toe kom die dag waarop hy my geslaan het. Dit het vir my gevoel asof ek die eerste keer in tien jaar weer beheer oor my lewe kon neem.

“Hy het my dus, op ʼn vreemde manier, ʼn guns gedoen. Want toe het hy finaal die grens oorgesteek … tot daar waar vir my bevryding was.”

Suretha het oplaas besef dat sy haarself sal moet beskerm. Uiteindelik is hulle geskei.

Laaste, wanhopige pogings

In die meeste sulke gevalle doen die manipuleerder baie moeite om die egskeiding so moeilik moontlik te maak. Dreigemente dat die slagoffer finansieel geruïneer sal word, is algemeen. So ook dat sy nooit weer die kinders sal kan sien nie. Aantygings van ʼn derde party, of beskuldigings oor sogenaamde emosionele onstabiliteit, is net so algemeen.

ʼn Mens kan verstaan dat sulke laaste, wanhopige pogings die gemanipuleerde persoon baie bang kan maak. Wanneer jy of iemand wat jy ken dus in so ʼn situasie verkeer, maak seker dat ʼn professionele persoon se hulp ingeroep word, iemand met gespesialiseerde kennis en insig rakende emosionele mishandeling. Dit geld die tydperk voor, tydens én ná die egskeiding.

Manipuleerders is dikwels gefrustreerd en word soms selfs desperaat wanneer die gemanipuleerde besluit dat hulle nie meer die afbrekende gedrag sal toelaat nie, en dat dit daartoe sal lei dat die manipuleerder beheer oor die ander een verloor.

Om watter rede ook al, die manipuleerder wil die gemanipuleerde seermaak. En daarom waarsku ek sulke slagoffers gereeld om versigtig te wees wanneer die verhouding beëindig word. Om, byvoorbeeld, nie alleen te gaan wanneer jy iets by die huis wil gaan haal nie. En om nie ondeurdagte toegewings te maak nie.

Suretha se laaste straf

Suretha se man het iets verskrikliks beplan om haar vir oulaas bitter seer te maak. Sy vertel: “ʼn Paar maande ná ons egskeiding het hy my gevra om dokumente by sy huis te kom haal. Ons het ʼn tyd afgespreek.

“Toe ek daar opdaag, het die voordeur oopgestaan. Hy het homself toe reeds om die lewe gebring.

“Hy wou hê ek moes dit beleef. Ek is daarvan oortuig dit was sy laaste poging om my te straf, om vir oulaas die laaste sê te hê.”

Wat sy redes vir hierdie hartseerdaad was, kan ons nie met sekerheid sê nie. Om haar egter vooraf te bel en só seker te maak dat sy hom in daardie toestand aantref, was baie wreed.

Gelukkig is daar steeds hoop vir Suretha. Al dié gebeure het haar aangemoedig om weer voluit te begin lewe en om mense wat werklik omgee in haar lewe toe te laat. Sy vertel: “Ek ontvang steeds berading, veral as gevolg van my herinnering aan die toneel van sy selfdood.

“Maar ek het intussen ʼn wonderlike netwerk in my kerk ontdek, wat ek nie vroeër gehad het nie. Ek is waarlik verlos; ek kan nou my eie keuses maak. Danksy God is daar uiteindelik grenslose vryheid om die mens te wees wat Hy met soveel liefde geskape het.”

’n Laaste nota van dr Stoker

Dis vir my belangrik om te sê dat dit nie net mans is wat manipuleer en mishandel nie. Fisieke mishandeling lyk dikwels verskillend, afhangende van die persoon se geslag, maar met emosionele mishandeling kan vroue selfs vaardiger as mans wees.

En dit geld ʼn huwelik,  ʼn vriendskap,  ʼn ouer-kind-verhouding, en in die werkplek.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF