Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

My kind en taal: Hoe kan ek help?

My kind en taal | Ouers hoef nooit vir hul kinders taal te leer nie. Daar is wel maklike maniere waarop jy kan help om jou kind se taalvermoë optimaal te ontwikkel.

Ouers hoef nooit vir hul kinders taal te leer nie. Baba’s word gebore met die vermoë om enige menslike taal waaraan hulle blootgestel word, aan te leer en te gebruik. Daar is wel maklike maniere waarop jy kan help om jou kind se taalvermoë optimaal te ontwikkel. 

Het jy al ooit gewonder hoe gebeur dit dat ’n kind ’n sin kan sê wat sy of hy nog nooit voorheen gehoor het nie? Boonop is gesproke taal eintlik bloot ’n aaneenlopende string klanke; hoe weet kinders dan waar een woord eindig en die volgende begin? 

Tog gebeur dit. En wanneer hulle drie of vier jaar oud is, beskik kinders reeds oor ’n merkwaardige taalvermoë. Dis inderdaad ’n wonderwerk dat die mens iets so kompleks soos taal so vinnig kan aanleer. 

My kind en taal: Fases van taalverwerwing

Taalwetenskaplike navorsing dui daarop dat tale wêreldwyd meer met mekaar gemeen het as wat ’n mens sal dink. Een van hierdie gemeenskaplikhede is die volgorde waarin taal aangeleer word. 

Daar bestaan bepaalde linguistiese fases, sommige korter en sommige langer. Soms oorvleuel die fases met mekaar. Die oorgang van een fase na ’n volgende kan ook baie skielik plaasvind. Dié progressie verskil van kind tot kind, en hou nie noodwendig verband met intelligensie nie. 

Hier volg ’n klompie praktiese wenke oor hoe jy ’n verskil kan maak by elk van die eerste fases van jou kind se taalverwerwing:

Babbel

Vroeëre teorieë het aangevoer dat babbel “voor” taal is, maar vandag weet ons dis niks minder nie as die eerste fase van taalverwerwing. 

Babbel is dus nie taalkundige chaos nie. Tydens die eerste lewensjaar is dit kinders se taak om die klanke van die taal/tale waaraan hulle blootgestel word, te ontdek. Aanvanklik koppel die kinders nog nie betekenis aan hierdie klanke nie; dit gebeur eers wanneer hulle so ’n jaar oud is. 

Dan begin hulle om dieselfde klanke herhaaldelik te gebruik wanneer dit vir hulle dieselfde ding beteken. Dis ook as gevolg van die verband tussen klanke en betekenis dat hul brein begin aflei dat woorde grense het. 

Aangesien babbel die eerste fase van taalontwikkeling is, bied dit ook ’n gulde geleentheid aan die ouers om hul kinders bloot te stel aan ander taalaspekte. Wanneer jy met hulle gesels en hulle babbel terug, kan jy probeer om die idee van beurte maak vas te lê. 

Die feit dat ons beurte maak wanneer ons met mekaar praat, is iets wat hulle nog moet leer. Begin dus sommer vroeg-vroeg! 

Een woord-frases

Wanneer kinders hul eerste woorde begin sê, kan enkele woorde komplekse boodskappe verteenwoordig. “Af” kan byvoorbeeld beteken dat iets afgeval het; dat hulle wil afklim; dat jy iets van ’n rak moet afhaal. 

Dit dui daarop dat kinders oor ’n meer komplekse begrip beskik as wat die taal waaroor hulle in daardie stadium beskik hulle toelaat om uit te druk. Kortweg: Hulle bevind hulle nou in die fassinerende fase waar hulle baie verstaan, maar nog nie baie kan praat nie. 

Moet dus nie die fout maak om kinders in hierdie fase te onderskat nie. Daag hulle uit met bevele of versoeke wat ’n paar stappe bevat. Gebruik “groot” woorde. En praat baie en gereeld met hulle. 

Telegram-spraak

Uiteindelik begin kinders om sinne te bou. Hulle sal dikwels nog sinsdele en sekere woorde uitlos, maar die sinne word nou langer as net een of twee woorde. Hulle sal dalk iets sê soos: “Ek op tafel sit kossie eet.” 

Dis baie belangrik om te weet dat ’n kind se taal nie bloot ’n swakker weergawe as dié van ’n volwassene s’n is nie. In elke ontwikkelingsfase voldoen ’n kind se taal aan ’n stel reëls wat baie formele eienskappe gemeen het met grootmense s’n. 

Hulle maak dus nie noodwendig foute as hulle só praat nie. Beskou dit eerder so: Die sinne wat die kind voortbring, is ’n weerspieëling van die grammatika wat hulle tot in daardie stadium ontwikkel het. Ouers kan nou gerus voortgaan om hulle aan taal bloot te stel. En om hulle te prys vir die vordering wat hulle maak. 

Boeke, stories en skerms

Ons word dikwels vertel dat ons vir ons kinders moet lees. Soms werk dit egter nie so goed nie, want jou kleinding sit dalk nie lank genoeg stil nie of is dalk nog geneig om die boeke te beskadig. 

Jy kan dan gerus begin stories vertel. As jy nie lekker idees vir stories het nie, kan jy die volgende probeer – en jy kan bloot die name en gebeure telkens verander: 

  • Kies ’n karakter met wie daar gereeld iets gebeur.
  • Op ’n dag gebeur daar egter iets anders.
  • Hierdie verandering lei tot ’n dilemma, en dit moet opgelos word.
  • Deur die oplossing daarvan word ’n waardevolle lewensles geleer. 

Wanneer jy stories uitdink, probeer om doelbewus “groot” woorde te gebruik. Eksperimenteer met sinonieme, byvoorbeeld: In plaas van “groot” kan jy “yslik” gebruik, of “massief”, of “reusagtig”.

Indien jou kind wel van boeke en lees hou, kan jy doelbewus bepaalde boeke uitkies en dit in hul kamer of in gedeelde ruimtes plaas sodat hulle dit self ontdek en begin deurblaai. 

Sommige kinders kan reeds op so vroeg soos twee jaar gewys word waar ’n boek se titel, voorblad, agterblad, bladsynommers en inhoudsopgawe is. Dit alles vorm deel van geletterdheid. 

Stelselmatig verander die kind se taal, en verskeie aspekte van die grammatika brei uit. Dit sluit in: klanke, woordbetekenis, woordvorme, sinsvorming en taalkonteks. 

Daar is verskeie maniere waarop jy taalontwikkeling deel van jul alledaagse lewe kan maak. Werk byvoorbeeld strategies met skermtyd en wys jou kinders so tussendeur stories waarin daar baie gepraat word, sodat dit nie bloot beelde en byklanke is nie. 

Jy kan hulle ook stories wys oor, byvoorbeeld, die natuur. Word dan die verteller en verduidelik aan hulle wat op die skerm gebeur. Sodoende ontwikkel hul taal én hul algemene kennis. Én julle bring gehaltetyd saam deur. 

Meer as een taal?

Daar is twee maniere waarop ’n kind meer as een taal kan aanleer: een ná die ander, of gelyktydig. Sommige ouers verkies om eers een taal te vestig, en daarna die ander taal (of tale) daarop te bou. Dit word ook dikwels so aanbeveel indien albei ouers dieselfde huistaal het. 

In gevalle waar die onderskeie ouers se eerste taal van mekaar verskil, kan die kinders met gemak die twee tale gelyktydig aanleer. Indien dit dan langer duur voordat hulle begin praat, of indien hulle die tale meng, is dit nie ’n teken van verwarring nie, maar eerder die gevolg van twee grammatikas wat gelyktydig aangeleer en gebruik word. Dit is dus nie, soos voorheen geglo is, ’n rede tot kommer nie. 

Dit sal noodwendig langer duur om twee tale gelyktydig aan te leer. Die vermoë om woorde uit een taal te haal en in ’n ander taal se sin te plaas, is ’n komplekse vaardigheid. 

Hoe beter ons die manier(e) verstaan waarop ons kinders taal aanleer, hoe meer kan ons hul taalontwikkeling bevorder. Goeie kommunikasievaardighede is nie bloot ’n voorloper vir akademiese sukses nie, dit help ook jou kind in die beroepswêreld, in verhoudings en met emosies.

My kind en taal: Ouers kan hiéroor ontspan

Babataal

Daar bestaan ’n algemene wanopvatting dat sogenaamde babataal sleg is vir taalontwikkeling. Navorsing wys egter uit dat solank jy die korrekte struktuur en die regte woorde gebruik, dit nie saak maak met watter stemtoon jy met ’n kleintjie praat nie. 

Taal gaan per slot van rekening oor verhoudings, en dikwels gaan ’n hoër as gewone stemtoon by volwassenes gepaard met ’n poging om ’n verbintenis te bewerkstellig of uit te bou. En om af en toe ’n “opgemaakte” woord in jou huis te gebruik, bloot omdat dit oulik is, is ook nie die einde van die wêreld nie. 

Voordat jy jou oë uitvee, word dit met die gepaste woord vervang – en die oomblik is verby. 

Wanneer kinders tale meng

Taal kan nie van funksie losgemaak word nie. Soms kies kinders om in ’n spesifieke taal te speel, want dis wat hul maatjies doen.

Of hulle meng hul taal. As jy graag wil hê dat jou kind se woordeskat in meer as een taal moet uitbrei, kan jy die sogenaamde “toebroodjie-metode” gebruik.

As jou kind byvoorbeeld sê: “Kyk hoe jump die kar!” kan jy reageer deur iets te sê soos: “Ja! Hy jump hoog! En dan spring hy hiérdie kant toe. En dan jump hy ver!”

Soos die snye en die vulsel in ’n toebroodjie mekaar afwissel, gebruik jy dan die betrokke woord, soos hierbo, in byvoorbeeld Engels, Afrikaans en weer Engels. 

Loer gerus op ons gesinsblad vir verdere artikels oor ouerskap en raad vir gesinne.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF