Tienerwees is sinoniem met gemoedskommelinge, waarvan neerslagtigheid een is. Indien laasgenoemde egter langdurig is en nie vanself verbeter nie, mag dit op iets dieperliggends dui. Hiervoor moet ouers op die uitkyk wees en vroeër eerder as later ingryp.
Ja, kinders kán depressie kry.
“Die idee dat kinders nie depressief kan word nie, is ’n wanopvatting. Om die waarheid te sê, die erns en intensiteit van depressie by kinders is net so groot soos dié by volwassenes,” sê Hugo Theron, ’n kliniese sielkundige in Bellville.
Verskeie faktore span saam om depressie by tieners te veroorsaak: Daar is die kind se brein-chemie wat verander; die veranderings wat hormone in die tiener se lyf teweeg bring; vroeë trauma in die kind se lewe; sekere aangeleerde negatiewe denkpatrone.
Voeg hierby spesifieke probleme in ’n bepaalde kind se lewe: skoolwerk, ’n negatiewe selfbeeld, sosiale probleme wat die portuurgroep betref, die misbruik van sekere middels, asook moeilike omstandighede by die huis.
Let hierna op
Aangesien tienerwees met ’n warboel emosies gepaard gaan, mag dit vir ouers moeilik wees om te weet of hul kind bloot ’n “emosionele” tiener is, en of hy of sy werklik depressie het.
Hugo sê daar is drie dinge waarvoor ouers op die uitkyk moet wees:
- die erns van ’n verswakking in die kind se gemoedstoestand en gedrag, byvoorbeeld probleme met slaap, eetlus, energie, konsentrasie en geheue, sosiale isolering en irritasievlakke;
- hoe lank hierdie ernstige agteruitgang al teenwoordig is;
- op watter gebiede in ’n tiener se lewe dié ernstige agteruitgang teenwoordig is, byvoorbeeld tuis en by die skool en tussen vriende.
Johan Laten, ’n akteur wat aan Depressie101 verbonde is, is ’n kampvegter vir tieners wat aan depressie ly. Hy besoek skole met ’n boodskap van hoop vir hierdie jong mense.
Johan sê: “Depressie by tieners is ’n ernstige saak. Dit het groot emosionele, funksionele en fisiese probleme tot gevolg. Wanneer ’n tiener elke dag minstens vyf van die tipiese depressiesimptome intens ervaar, en dit 14 dae of langer voortduur, dui dit op meer as bloot ‘tipiese tiener-buierigheid’.
“Dis dan noodsaaklik om dadelik op te tree, selfs al vermoed jy net op hierdie stadium dat jou kind tekens van depressie toon.”
Só kan ouers ingryp
Ouers dink dalk dat een, omvattende soort terapie of ingreep ’n depressiewe tiener se probleme en uitdagings sal oplos. Dis nie korrek nie.
“Daar is ’n omvattende benadering nodig,” sê dr Siegfried Louw, ’n predikant en spelterapeut in Kaapstad.
Siegfried gebruik graag die beeld van ’n trampolien om dit te illustreer: “’n Trampolien het verskillende vere wat die springmat op sy plek hou. Kinders moet gehelp word om verskeie vere in hul ‘wipmat’ te kry.
“Dit gebeur deur middel van ’n vertrouensverhouding met die ouers, ’n goeie terapeut, goeie vriende, gesonde aktiwiteite, ’n gesonde dieet. En doelmatige medikasie wat deur ’n dokter of psigiater voorgeskryf is, indien dit nodig is.”
Ouers help graag met oplossings en raad, maar die kind se eerste behoefte is dikwels aan begrip. Praat met jou kind. Gee erkenning aan die feit dat depressie nie bloot iets is wat jy kan hanteer deur jou “reg te ruk” nie.
“Erken jou kind se gevoelens,” sê Johan. “Luister, eerder as om te preek. Verseker jou kind van jou onvoorwaardelike liefde. Onthou: Angstige en oor-emosionele reaksies van jou kant kan tot gevolg hê dat jou kind nie meer openlik en eerlik oor alles sal wees nie.
“Doen alles wat binne jou vermoë is om jou kind se liggaam, siel en gees gesond te hou. Maak seker jou tiener kry genoeg slaap en eet gesond. Besluit saam op toegelate skermtyd. Moedig jou kind aan om aan sport deel te neem, of om die een of ander soort oefening te kry.
“Gesonde interaksie met vriende en familie sal ook help om jou kind se gemoed gesond te hou. Stel bepaalde aktiwiteite voor waarby jou tiener by die skool betrokke kan raak. Ondersoek ook die moontlikheid van dans- of kunsklasse. Of vrywillige werk by nag- of diereskuilings.”
Hugo sê: “Depressie is behandelbaar, en tog is daar soveel tieners wat dag na dag daarmee worstel, omdat hul depressie nie die nodige aandag kry nie.
“Wanneer ouers bekommerd is oor hul kind se geestestoestand, is dit goed om professionele hulp in te roep – ’n sielkundige, ’n mediese dokter of ’n geestelike mentor. Al is dit net om seker te maak alles is reg.”
Siegfried voeg by: “Soms wag ouers totdat die depressie ’n krisis word, en dán is ingryping ekstra moeilik. Dan moet jou kind te midde van hierdie problematiese geestestoestand boonop leer hoe om met ’n vreemdeling oor sy of haar lewe en gevoelens te praat.”
Indien jou kind met depressie gediagnoseer word, is dit goed dat die skool ook daarvan kennis dra. Ken jou kind in dié netelige saak en maak seker hy of sy is gemaklik met die inligting wat met die skool gedeel word.
Die voordele hiervan is voor die hand liggend: Die onderwysers sal jou kind se gedrag beter verstaan, en beter weet hoe om hom of haar in die klas te akkommodeer en te ondersteun.
Nie ’n alleenpad nie
“Depressie kan baie dinge van ons steel of verduister, maar God bly altyd lief vir ons,” sê Siegfried. “Dis ’n vastigheid waaraan ons kan vashou. En waarmee Hy óns vashou. Jesus is ons lewende hoop.”
Die Bybel kan ons help om te verwoord wat ons voel. Die Psalms (onder meer Psalm 22, Psalm 23 en Psalm 88) verwoord die seer van menswees op ’n openhartige manier. Dit gee woorde aan mense wat in donker dieptes verkeer. Hiermee kan hulle aan God sê wat hulle beleef. Sonder skuldgevoelens, want dis Bybelse gebede. En dit bring heling.
Johan, self ’n depressielyer, sê dit verg soms baie inspanning om jou Bybel te lees wanneer jy depressief voel. Dit voel asof God afwesig is, asof Hy nie jou gebede beantwoord nie.
Maar Hy ís by jou, al voel dit nie so nie. Hy is méér as jou gevoelens. En Hy wag nie vir jou om eers jou depressie af te skud voordat Hy die pad saam met jou loop nie.
“Niemand hoef depressie alleen te probeer hanteer nie, en daarom moet die depressielyer daaroor praat. Met God, en ook met medegelowiges. Vra hierdie mense om vir jou wat daaraan ly by God in te tree.
“Jou geloofsgemeenskap se ondersteuning en God se onvoorwaardelike liefde maak die steil bulte minder steil.”
Wenke vir tieners met depressie
Wees voorbereid vir wanneer jou gevoelens buite beheer begin raak. Johan Laten het ’n klompie idees oor dinge om te doen om jou beter te laat voel.
- Skryf kort, positiewe sinne oor jouself.
- Doen aanlyn ontspanningsoefeninge.
- Leer korrekte asemhalingstegnieke aan.
- Raak kreatief: skilder; maak plakboeke (“scrapbooking”); dans; kook – al dink jy dalk jy kan nie!
- Fokus op dit wat nóú gebeur (“mindfulness”).
- Druk foto’s uit wat goeie herinneringe inhou en plak dit teen jou kamermuur.
- Kyk komedies en lag hard.
- Doen iets spesiaals vir iemand anders.
- Luister musiek; maak self musiek; sing.
KONTAK ONS KENNERS
- Hugo Theron kan bereik word by hugo@demist.co.za
- Dr Siegfried Louw kan gekontak word by Siegfried@proteahoogte.co.za of by 084 952 4598.
- Johan Laten bied die #puppet-eenmanvertoning en die “Verloor jou gewig”-depressie-werksessie by skole, gemeentes en sakeondernemings aan. Kontak hom gerus by 084 850 1140 of johan@depressie101.co.za
Geskryf deur RENÉ BADENHORST.