Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

’n Barista se wysheid uit Kolossense

Ek weet nie waarom ek nee gesê het toe hy my vra of daar iets is waarvoor hy vir my kon bid nie. Dalk was dit omdat ek so oorbluf was oor sy vraag. Of omdat ek hom sopas eers ontmoet het.

Of dalk omdat ek nie van ’n barista verwag om vir my te bid nie.  Hy is elke dag op sy pos agter die koffiema-sjien by die laerskool se koffiestalletjie. Deur die klein venstertjie van die opgeknapte skeepvraghouer kan jy hom sien werskaf tussen die stoom en die gekrys van die malende bone.  

Elke oggend wemel dit van mense wat hul tweede of selfs derde koppie koffie vir die dag moet inkry. Ek hou gewoonlik verby, want nadat ek my seuntjie by die skool­hek gegroet het, wag daar gewoonlik ’n koppie koffie by die huis, of ’n hele paar op kantoor.  

Maar dié spesifieke oggend was ek op pad na die Departement Binnelandse Sake om huwelike te registreer, en daarvoor sou ek meer kafeïen benodig as gewoonlik. Ek bestel dus ’n dubbelsterk koffie, swart en sonder suiker.  

LEES OOK: Stories, prinsesse en dankbaarheid

Sy Bybel het my oog gevang terwyl hy besig was om my americano te maak. Elke bladsy getuig van jare se stilword-dissipline. Van soek, luister, leer, bid en wag op die Here. Van reis in ’n rugsak, van openbare vervoer oor grense heen, en van kruispaaie tussen buurlande, stede en blikkiesdorpe.  

Deur die jare, lyk dit my, het die bladsye ’n eie lewe gekry. Dis asof asem en lig tussen elke bladsy ’n tuiste gevind het, met potloodinskrywings en ander merke.  

Maar die sigbaarste van alles is hoe die Bybel oop­gevou langs hom lê terwyl hy met sy dagtaak voortgaan.  

Vir hom is stiltetyd nie ’n afgehandelde oefening in die oggend of aand nie; dis deurlopend deel van sy dag. Tussen cappuccino’s en flat whites, amandelmelk-latte’s en dubbel-espresso’s, draai hy sy aandag na Paulus se briewe, Matteus se verhale, Dawid se gebede en Jesus se radikale wysheid.  

“Your Bible has seen some special times with God,” merk ek op terwyl hy my koffie vir my aangee.  

Hy lag uit sy maag vir my waarneming en sê: “I’m cur­rently reading Colossians – again.” Hy sê dit asof almal elke dag deur die loop van hul dag uit die Bybel lees.  

Terwyl ek nog aan ’n skerpsinnige antwoord probeer dink, vra hy: “Is there something I can pray for you?”

“No, thank you, I am fine,” antwoord ek vinnig en ’n bietjie uit die veld geslaan. My gebedslys is immers lank genoeg vir sy gebede om op goeie grond te val.  

Waarom het ek sy aanbod van die hand gewys? Ons deel immers dieselfde geloof, lees uit dieselfde Bybel en bid tot dieselfde Here.  

Dié vraag spook steeds by my, want ek vermoed as hy of iemand soortgelyk my weer sou vra, ek heel moontlik dieselfde antwoord sou gee. Ek sou die haas om die lang rye by Binnelandse Sake te vermy as verskoning kon aanbied – maar juis daarvoor benodig ’n mens die daadwerklike voorbidding van vele medegelowiges.  

Of dalk is dit ’n kultuur-ding. Of ’n denominasie-ding. Of ’n spiritualiteit-ding.  

Of dalk is ek net vol dinge.  

Halfpad terug na my kar draai ek om en stap terug na die blou koffiestalletjie met die Hebreeuse naam, wat beteken “troon van God”, soos Esegiël daaroor gedroom het.  

“What is your name?” vra ek hom.  

“It’s Gary!” antwoord hy met ’n glimlag soos dié van ’n engel.  

Terug by die kar sit ek ’n oomblik lank in stilte. Ek dink oor die dag wat vir my voorlê. Dis een van daardie dae wat jy dink jy het koffie nodig. Maar wat jy eintlik kortkom, is wysheid uit Kolossense. En die gebed van ’n medegelowige.

* Fourie Rossouw is ’n predikant by Stellenbosch Moedergemeente wat glo dat as ons leef met die verwagting om Christus se beeld in ander raak te sien, ons die wêreld ’n beter plek maak. Jy kan hom in ’n wip vang met ’n dik sny brood en ’n glas goeie wyn. Volg hom op Instagram by @storiemens.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF