Swart op wit. Of propvol kleur. ’n Bybeljoernaal gee woorde en betekenis aan jou geestelike reise en ervarings. Hierdie eenvoudige maar waardevolle dissipline kan jou help om sin te maak uit dit wat om en met jou gebeur.
DEUR SUSAN GOOSEN
Ons lewe in ’n tyd waar ons oor baie dinge onseker voel. Ons sukkel dikwels om alles wat in en om ons gebeur, te verwerk. Ons worstel met ons emosies.
En hoewel ons hierdie nuwe en vinnig veranderende wêreld op verskillende maniere beleef, kan skryfterapie – die gewoonte om te dokumenteer wat ons sien en ervaar – ’n waardevolle hulpmiddel in ons hantering van verandering en selfs trauma wees.
“Skryfterapie kan ons help om ’n roete te karteer na ’n plek waar daar meer lig en lug is.”
Só sê prof Lizette Rabe, skrywer van Om tot verhaal te kom. Verwerk trauma en verlies deur skryfterapie (Lapa Uitgewers, 2019). Sy vervolg: “Skryfterapie is ’n manier waarop jy uiting aan jou diepste gevoelens, onsekerhede, vrese en bekommernisse kan gee. Deur daardie innerlike te verwoord, kom jy uiteindelik ánderkant daardie gevoelens en belewenisse, want jy het hulle nou name gegee.
“Skryfterapie help jou om insig te kry in dit wat jy beleef, en dit help jou om te vorder tot by daardie bestemming, dit maak nie saak wat jou bestemming – of vertrekpunt – is nie.”
’n Bybeljoernaal as skryfterapie
’n Bybeljoernaal skep die ruimte op papier waar jy kan verwoord wat jy in jou reis met God leer, en waar jy ook jou dieper emosies kan ondersoek.
Die mens se behoefte om gevoelens te verwoord en daardeur met God in gesprek te tree, is geensins nuut nie. Die Ou-Testamentiese psalms is ’n pragtige versameling liedere en gedigte waarin die onderskeie digters hul diepste gevoelens – al die vrese, vreugdes en verlange – voor God blootlê.
Dr Lisel Joubert, predikant by die NG gemeente Gansbaai, verduidelik: “Die psalms is gesprekke tussen ’n mens se hart en God. Alhoewel daar destyds nie pen en papier was nie, en dié gesprekke daarom aanvanklik mondelings oorgedra is, blyk daar wel sekere duidelike elemente wat aan ons insigte bied vir iets soos ’n joernaal.
“Byvoorbeeld: Alles is gesê; niks is teruggehou nie. Twyfel, verwyte, magteloosheid, skuldbelydenis. Ook lof en dank. Daar word ’n vrymoedigheid voor God gedemonstreer.
“En dit help ons tot vandag toe. God praat immers op verskillende maniere met ons en Hy verander ons daagliks deur sy Heilige Gees. Ons is vrygespreektes, en daarom mag ons sonder vrees met Hom in gesprek tree.”
My reis
Ds Jan van Zyl van die Stellenbosch Moedergemeente vertel watter rol joernaal skryf in sy geestelike reis en nadenke speel: “Ek en my vrou Ameila het ’n paar jaar gelede Julia Cameron se boek The Artist’s Way met verskillende kleingroepe behandel. Daarin is ons aangemoedig om elke dag te begin deur al die gevoelens en emosies waarmee ons gekonfronteer word, neer te skryf. Baie kunstenaars gebruik hierdie proses. Hulle skryf vryelik, en dan sonder enige veroordeling van gedagtes of idees.
“Later begin jy patrone in jou joernaal raaksien, en begin jy om jou dag hiervolgens te beplan. En gou word dit ook ’n plek waarin jy jou gebede neerskryf.
“Ons wou ook ons kinders hieraan blootstel. Woorde was nog altyd van die belangrikste geskenke wat ons as gesin aan mekaar kon gee. As iemand in die gesin verjaar, skryf ons byvoorbeeld vir hom of haar ’n brief om daardeur ons waardering te wys.
“’n Joernaal is ’n skepping met woorde, dis woorde wat vlerke kry. Dis die plek waar kreatiwiteit gebore word, waar ek kan hoor hoe die res van my dag, week en jaar moet lyk.
“In 2010 het ons drie maande lank in verskillende gemeenskappe in Europa gewoon, en ons het elke dag saam met ons drie kinders ’n joernaal gehou. Dit het nou ’n baie kosbare herinnering geword van dit wat ons gesin tydens ons reise gesien en beleef het. Maar dis ook ’n weerspieëling van elkeen se unieke innerlike reis.”
‘Die Vader graveer in my hart’
Ella Roetz het ’n unieke kreatiewe aanslag vir haar Bybeljoernaal. Sy is ’n grafiese ontwerper en het aanvanklik daarvan gedroom om ’n modeontwerper te word.
Sy vertel: “Ek het reeds in 2016 ’n foto van ’n kreatiewe Bybeljoernaal op Pinterest gesien en was dadelik mal daaroor. Ek het aanvanklik sommer in my Bybel met kleurpotlode geteken en idees uitgetoets. Intussen het ek probeer naam maak as klereontwerper, maar dit wou net nie vlot nie.
“Op ’n dag het ek probeer om ’n onderafdeling op my webwerf vir Bybeljoernaal-drukkuns te begin. Dit was onmiddellik ’n treffer, en vandag word my drukkuns reeds in 13 lande verkoop.
“Die Here het ’n pad met my gestap. Ek het nog altyd gesukkel om teksgedeeltes te onthou, maar wanneer ek dit nou bestudeer en kuns daarby sit, graveer die Vader dit in my hart.
“Enigeen kan dit doen. Jy hoef nie ’n kunsagtergrond te hê nie.”
’n Vars manier
Nog ’n joernaalskrywer, Rochelle Rossouw, sê sy is daarvan oortuig dat ’n Bybeljoernaal haar gehelp het om sin te maak uit haar jare lange swaarkry met rumatoïde artritis.
Sy vertel: “Daar was ’n tyd toe ek regtig gevoel het asof ek die kluts kwyt raak. My man het ’n advertensie vir ’n Bybeljoernaalklas gesien en my aangemoedig om dit te probeer. Ek was baie onseker hieroor.
Buiten die feit dat ek kort tevore ’n ernstige operasie ondergaan het, is ek glad nie kunstig nie. En ek was doodseker daarvan dat dit my heeltemal uit my gemaksone sou dwing.
“En gelukkig is dit toe presies wat gebeur het! My eerste ervaring daarvan was amper oorweldigend: Ek kon nie glo watter kunstige joernale die mense om my het nie. Dié hele belewenis was egter presies wat ek nodig gehad het. Vandat ek dit die eerste keer probeer het, het ek ’n nuwe innerlike vreugde en vrede gekry en ervaar ek die Bybel op ’n nuwe, vars manier.
“Wanneer ek deesdae hospitaal toe moet gaan, is my tas vol kunsbenodigdhede. Dis my manier om hierdie siekte wat ek nie heeltemal verstaan nie, te kan hanteer en verwerk.
“Ek het ook vir my dogters elkeen ’n eie joernaal gekoop, en ek beskou die ure wat ons om die eetkamertafel hieraan werk as van my kosbaarste tye.”
Begin só:
- Begin waar jy is, en met wat jy het. Jy hoef nie ’n skrywer te wees of duur kunstoerusting aan te koop nie. Begin bloot met jou Bybel en ’n notaboek. En ’n potlood, of kleurpotlode en penne. Of belê in ’n Bybeljoernaal, indien jy dit so verkies.
- Oordink ’n teksvers wat jou tref, en gaan lees dit in verskillende vertalings. Skryf die teks neer, skryf jou reaksie daarop neer, of versier dit in jou Bybel. Jou reaksie kan byvoorbeeld ’n parafrasering, ’n tekening, ’n gebed, ’n lied of ’n brief wees. Jou gedagtes kan slegs vir jouself wees, of opsommende opmerkings van wat jy geleer het en wat jy graag met ander wil deel.
- Oorweeg dit om ’n Bybelboek of ’n Bybelse karakter te bestudeer. Of besoek youversion.com om ’n gratis Bybelstudie af te laai.
- Betrek jou kinders deur saam aan jul joernale te werk. Moedig hulle aan om aantekeninge of tekeninge in hul Bybel of notaboek te maak en dit te versier.
Oonthou:
Jy skryf vir niemand anders as jouself nie. Dit hoef nie korrek te wees nie, jy hoef nie reg te spel of ’n resep te volg nie. Al wat van jou gevra word, is om op te daag vir dié afspraak. Soos wat jy skryf, sal die verbinding met jouself op dreef kom – die vrymoedigheid en die eerlikheid. En dit sal jou vry maak en nuwe kreatiwiteit bring.
Lees verder
- Om tot verhaal te kom: Verwerk trauma en verlies deur skryfterapie, deur Lizette Rabe (Lapa Uitgewers, 2019). Dis ’n gids propvol praktiese wenke.
- Besoek www.ellaroetz.co.za vir Bybeljoernaal-drukkuns en idees. Of volg haar op Facebook of Instagram. Rochelle Rossouw (Larochellebiblejournaling) gee voorbeelde oor hoe ’n Bybeljoernaal aangepak kan word. Volg haar op Facebook, YouTube en Instagram. Of besoek haar blog. Haar winkel, Celindy’s Crafts & Coffee, is in Centurion geleë en het hulpmiddels vir Bybeljoernale. Besoek www.celindyscrappers.com