Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘n Kort gebed vir die dag: Ons bid vir ons leiers

Alhoewel ons nie altyd só daaroor dink nie, beïnvloed die politiek elke aspek van ons lewe – van die paaie waarop ons ry tot die water wat uit ons krane kom. Hier is 5 gebede wat jy kan bid as ‘n kort gebed vir die dag, elke dag. Ten bate van elke mens in ons land. Die mense wat die groot verantwoordelikheid het om ons land te regeer het beslis gebed nodig, én die Bybel moedig ons aan om vir ons leiers te bid

Kort gebed vir vandag: Dat u koninkryk in Suid-Afrika sal kom

Here, gebed vandag is vir elke leier in ons land. Here, mag hulle werk om u koninkryk in Suid-Afrika te laat kom. Mag hulle besluite neem en planne maak wat binne u wil is, want “die planne van die Here staan vir altyd vas, sy besluite van geslag tot geslag”. (Psalm 33:11) Ek bid dat ons leiers gered sal word in Jesus se naam en dat ons vrede in ons land sal hê.

Amen.

Gebed vir Goddelike wysheid vir ons leiers

Here, U is God oor die hele aarde. U is ook koning oor ons leiers. Mag ons leiers weet: “Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies.” (Spreuke 21:1)

Mag elke leier vir hom- of haarself goeie adviseurs aanstel en Goddelike wysheid soek. My kort gebed vir die dag is dat ons leiers na U en u Woord sal kyk vir antwoorde, en gehoorsaam sal wees aan u wil.

Amen. 

Gebed vir die wetgewende gesag van Suid-Afrika

Here, my kort gebed vir die dag kom uit 2 Kronieke 19:5-7, en ek bid dit vir almal wat in wetgewende gesag werk.

Mag ons leiers let op wat hulle doen, want hulle oefen nie die regspraak uit vir mense nie, maar vir die Here. Die verantwoordelikheid vir die reg rus op hulle. 

Mag die vrees vir die Here hulle bybly! Mag hulle versigtig wees en hulle plig doen. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie.

Amen.

Gebed dat geregtigheid sal geskied

Here, my kort gebed vir die dag is dat ons leiers sal regeer in geregtigheid, dat hulle hart vol liefde en vrees vir die Here sal wees. 

Here, maak aan ons leiers bekend wat U goed vind: U vra van hulle dat hulle reg sal laat geskied, dat hulle liefde en trou sal bewys, dat hulle bedagsaam sal lewe voor God.

Amen.

Gebed vir die mense van Suid-Afrika

Here, U het die mense van Suid-Afrika lief. Mag ons lewe getuig van ‘n liefde vir U, en ons optrede van ‘n heilige ontsag vir U.

My gebed vir Suid-Afrika se mense is hierdie woorde uit Psalm 33:

“Dit gaan goed met die nasie wie se God die Here is, met die volk wat Hy vir Hom as sy eie gekies het.

“Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.

“Dit is Hy wat hulle verstand gevorm het, wat al hulle werk deurgrond.

“… Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou om hulle van die dood te red en hulle in die lewe te hou in hongersnood.

“Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer. Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons.

“Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U.”

Amen.

’n Laaste kort gebed vir elke dag

Here, ek bid dat U die woorde in Psalm 22:27-28 vir Suid-Afrika se mense sal waar maak:

“Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer.

“Alle volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke.”

Lees gerus ook hoe om te leer om te bid.

Om elke dag ‘n kort boodskap te ontvang, teken in op ons uitgewer, Bybel-Media, se Boodskap vir vandag.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.